Inside Collection (Course): Natuurwetenskappe Graad 5
1. Polimere
‘n Mens kry natuurlike en mensgemaakte polimere. Proteïne, wat ‘n belangrike boustof in lewende organismes is, is ‘n voorbeeld van ‘n natuurlike polimeer. Sintetiese polimere is eers omtrent ‘n 100 jaar gelede ontdek. Toe was dit baie skaars en duur. Sintetiese polimere kan in twee groepe verdeel word, naamlik vesels en plastiek. Ons gaan hoofsaaklik kyk na plastiek.
Sintetiese Polimere: Plastiek
Plastiek kan helder of kleurvol wees en kan in enige fatsoen gevorm word.
Hoe word plastiek gemaak?
Olie kom diep onder die grond in sekere areas voor. Daar word diep in die grond af geboor om die olie na die oppervlak te bring. Hierdie olie is dik en swart en word ru-olie genoem.
Kyk na die onderstaande kaart en identifiseer die lande waar olie gevind word. Jy mag in ‘n groep werk.
![]() |
Kom ons doen ‘n eenvoudige eksperiment om te kyk deur watter proses ru-olie min of meer gaan in die vervaardiging van plastiek:
Wanneer ru-olie verhit word, gebeur min of meer dieselfde. Die ru-olie word na ‘n raffinadery geneem waar dit teen ‘n baie hoë temperatuur verhit word. Die olie verdeel in ligter en donkerder olie. Die ligte olie word gebruik om onder andere plastiek van te maak.
Gebruik van plastiek
Sekere plastiek is hard en word gebruik om tafels en stoele van te maak. Dit word ook toenemend gebruik om motoronderdele te vervaardig wat vroeër van staal gemaak is. Plastiek kan heelwat harder as staal wees.
Ander plastiek is sag en buigbaar. Hierdie plastiek word gebruik om goed soos inkopiesakkies, stortgordyne en reënjasse van te maak.
![]() |
Plastiek word gebruik om houers vir die stoor van voedsel te maak. Baie produkte op die rakke in supermarkte word in plastiekhouers verpak.
Noem ‘n paar sulke produkte:
Watter rol speel plastiek in behuising?
In informele nedersettings vorm plastiek ook ‘n noodsaaklike deel in die oprigting van ‘n plakkershut. Het jy al waargeneem hoe plastiek benut word en waarom plastiek so ‘n belangrike rol speel? Sê hoe plastiek so ‘n huis teen die wisselende weersomstandighede kan beskerm.
Hoe word plastiek herwin en hoe word die plastiek weer in gebruik geneem? Soek inligting en gee skriftelike terugvoering:
Onthou: Plastiek kan en behoort herwin te word!
Interessante feite:
Plastiek kan tien keer harder as staal wees en kan hoë temperature weerstaan.
Kredietkaarte word van plastiek gemaak; dit word in die plek van kontantgeld gebruik.
Chirurge gebruik plastiek om allerhande liggaamsdele te vervang, bv. hartkleppe, are, ens.
Voordele van plastiek:
Die gebruike van plastiek het baie werkgeleenthede vir mense in ons land geskep.
Die natuur kan nie genoeg katoen, wol, hout, ens. aan die mense verskaf nie. Dus moet ons van ander materiale soos plastiek gebruik maak.
Nadele van plastiek:
Die hope plastiek wat ons daagliks weggooi, bly daar. Plante en diere vergaan of verrot, maar plastiek nie.
Plastiek veroorsaak die dood van baie diere, veral visse wat in die see, damme of riviere daarin verstrengel raak.
Kom ons kyk vinnig na ander voorbeelde van sintetiese polimere (hierdie afdeling is slegs vir kennisname).
2. Vesels
Vesel is ‘n term wat gebruik word om ‘n lang, dun draad materiaal te beskryf. Daar is baie verskillende oorspronge van vesels. Party is van plante afkomstig, soos katoen, papier en klapper. Ander kom van diere, bv. wol. Nylon en rayon is mensgemaakte of sintetiese vesels.
Die menslike liggaam bevat ‘n verskeidenheid vesels, bv. hare en naels. Elke haar is eintlik ‘n string proteïene wat keratien genoem word. Die haar is in die vorm van spirale gedraai. Hierdie samestelling maak die haar sterk en elasties. Nat hare rek, maar spring weer terug na die oorspronklike lengte of vorm.
Sy is ‘n natuurlike vesel. Baie diere vervaardig sy. Die algemeenste is spinnekoppe, maar daar word met die sywurm geboer om sy te vervaardig.
Sy word deur die ruspe van die sywurmmot gemaak.
2. Glas
Daar is baie verskillende soorte glas. Die algemeenste is dié wat as ruite gebruik word.
Hoe word glas gemaak?
Glas is ‘n stabiele stof en het belangrike eienskappe wat daartoe bydra dat dit as ‘n veelsydige stof dien:
Glas verweer nie.
Glas los nie op in water en in die meeste chemikalieë nie.
Glas kan gebruik word om as houers te dien vir die verbotteling van die meeste kossoorte of drankies.
Glas is deurskynend. Ligstrale kan dus dwarsdeur glas – soos ‘n ruit – skyn.
Glas het ‘n gladde, harde oppervlak wat baie higiënies kan wees en maklik skoongemaak kan word om kos of drankies in te stoor of te berg.
Glas kan maklik breek, maar kan ook buigbaar wees, indien dit in lang vesels uitgerek word. Hierdie glasvesels is baie sterk en kan gebruik word om bv. ‘n kano of ‘n branderplank te bou.
![]() |
Lae glasvesel kan tussen die dak en plafon van huise gesit word om as isoleerder te dien. Wat beteken dit?
![]() |
Op ‘n warm dag hou dit hitte uit. Dus bly die huis koeler. Op ‘n koue dag hou dit die koue uit. Dus bly die hitte binne en die huis is warmer.
Die eienskappe van glas kan aangepas word deur die samestelling van die mengsel. So kan daar spesifieke soorte glas bekom word. Veiligheidsglas word byvoorbeeld vir ruite van voertuie gebruik. Wanneer hierdie glas breek, krummel dit in stukkies wat deur ‘n plastieklaag aanmekaar gehou word.
![]() |
So lyk die samestelling van ‘n motorruit.
| Glas |
| Plastiek |
| Glas |
Bly die voorruit in een stuk, al het dit versplinter?
Waarom is dit belangrik?
Kan jy aan nog voorbeelde dink waar glas ‘n belangrike rol speel?
Interessante feite:
Ons gebruik vandag vensters in ons huise. Voordat glas bekend was, is slegs openinge in mure gelaat om lug in te laat. Huise was voorheen baie donker binne. Die Romeine was die eerste mense wat glas in vensters gebruik het, maar dit was eers in die 19 de eeu dat mense platglas kon bekostig.
Moderne huise het groter vensters en glasdeure om lig deur te laat en die wonings ‘n warmer gevoel te gee.
LU 1
WETENSKAPLIKE ONDERSOEKDie leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurlike verskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.1 ondersoeke beplan;
1.2 ondersoeke uitvoer en data versamel;
1.3 data evalueer en bevindinge kommunikeer.
Olielande:
Plastiekhouers:
Plastiek in behuising:
Herwinning van plastiek:
Leerlinge se terugvoer moet hoofsaaklik gaan oor plastiek wat nie oplosbaar is nie en besoedeling in die natuur veroorsaak.
Motorruit met plastiek:
Versterkte ruite:
Bakke vir oonde; in hospitale – termometer – kan gesteriliseer word – skoon; glasveselboot; ruite van voertuig (versterkte ruite); vensters van kerk; vensters van huis; glasvesel in dak van huis; ligte van voertuig, ens.