Inside Collection (Course): Natuurwetenskappe Graad 5
Kom ons kyk hoe ons van direkte sonlig kan gebruik maak.
Gebruik 'n vergrootglas en brand jou naam op 'n stuk papier uit.
![]() |
Beskryf wat gebeur (gebruik die woorde sonligenergie, konsentreer, hitte, brand):
Hoekom moet leë glasbottels nie in die veld gegooi word nie?
![]() |
Hierdie sonpanele vang sonligenergie op. Op hierdie eenvoudige manier kan 'n huis van warm water voorsien word sonder die gebruik van elektrisiteit. Die panele bestaan uit lang pype wat teen mekaar gevou lê om die oppervlak wat bestraal word soveel moontlik te vergroot. Die pype is gekoppel aan die waterstelsel in die huis.
Ongelukkig skyn die son egter nie dag en nag nie en in sekere seisoene, byvoorbeeld winter, is die hitte van die son onvoldoende. Ons moet dus planne beraam om ook van ander bronne gebruik te maak.
Die mees algemene manier van hitteverskaffing vir verwarming was in die verlede om 'n stof te verbrand sodat die gestoorde energie as warmte of hitte vrygestel word.
Hout word veral in landelike gemeenskappe steeds algemeen gebruik. Oop vure en vure in kaggels of konkas verskaf aan baie mense warmte in die winter. Suid-Afrikaners is ook bekend vir hul liefde vir braaivleis.
Ongelukkig gebruik mense dikwels waardevolle hout wat hulle in die veld versamel. Hierdie hout behoort te verweer sodat die bestanddele daarvan weer in die grond beland waar die boom dit oorspronklik gekry het om te kon groei. As die hout egter opgetel en verbrand word, verarm die grond en kan daar uiteindelik nie meer plante groei nie. Dit lei daartoe dat die balans van die natuur versteur word en afwykings soos aardverhitting ontstaan.
Gelukkig gebruik mense egter dikwels hout van bome wat as plantasies aangeplant is.
![]() |
Steenkool word steeds in sekere outydse stowe en kaggels verbrand om hitte vir verwarming of kookdoeleindes te verkry. Interessant om te dink dat dit eintlik sonligenergie van miljoene jare gelede is wat dan verbrand word!
Paraffien word nog algemeen deur mense in afgeleë gebiede gebruik. In sulke gebiede is daar dikwels nog nie elektrisiteit nie en maak die mense gebruik van 'n primus. Paraffien word in die toestel verbrand om energie vry te stel wat die kos laat gaar word.
Beskryf in vyf sinne hoe die mense se metodes om gestoorde energie deur verbranding vry te stel, met verloop van tyd verbeter het.
Vryf jou hande vinnig en hard teen mekaar. Wat voel jy?
Neem 'n stukkie skuurpapier en druk dit met jou vingers teen 'n stukkie hout. Skuur dit vinnig vir ± 20 sekondes. Kan jy voel dat jou vingers warm voel?
Maak nou ‘n lys van 'n paar ander voorbeelde waar hitte deur wrywing vrygestel word:
Hoe het die grotbewoners deur wrywing 'n vuurtjie aan die gang gekry?
![]() |
Windpompe werk byvoorbeeld met wind.
![]() |
Stoomtreine (1712 tot 1900's) is gebruik om mense en goedere te vervoer. Steenkool is verbrand om water te verhit en stoom vry te stel. Die stoom is gebruik om die stoomenjin te dryf wat die wiele laat draai het. Besoek gerus die museum in George waar ou stoomlokomotiewe ten toon gestel word.
![]() |
Dink aan nog drie voorbeelde waar energie vir meganiese doeleindes aangewend word en beskryf elkeen kortliks.
LU 1
WETENSKAPLIKE ONDERSOEKDie leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurlike verskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.1 ondersoeke beplan: ‘n lys opstel, met ondersteuning, van bekende situasies en materiale, en ondersoekende vrae opstel:
1.1.1 bydra tot ‘n klaslys van interessante aspekte van die situasie;
1.2 ondersoeke uitvoer en data versamel: instruksies en prosedures uitvoer wat ‘n klein aantal stappe behels:
1.2.1 ‘n eenvoudige werkblad volg om toerusting op te stel en waarnemings te verkry;
1.2.2 waarnemings aanteken deur tekeninge en byskrifte te maak;
1.2.3 met die prosedure aanhou totdat die verskynsel plaasvind of oor ‘n langer tydperk waargeneem kan word (bv. plante groei na die lig wat van ‘n spieël af kom);
1.3 data evalueer en bevindings kommunikeer: verslag doen oor die groep se prosedure en die resultate wat verkry is:
1.3.1 waarnemingsdata aanbied wat met die fokusvraag verband hou.
LU 2
KONSTRUKSIE VAN WETENSKAPKENNISDie leerder ken, interpreteer en pas wetenskaplike, tegnologiese en omgewingskennis toe.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
2.1 betekenisvolle inligting onthou: ten minste eie vlotste taal gebruik om voorwerpe, materiaal en organismes te noem en te beskryf.
2.1.3 sê of energie van een vorm na ‘n ander oorgeskakel kan word.
LU 3
WETENSKAP, DIE SAMELEWING EN DIE OMGEWINGDie leerder is in staat om begrip van die onderlinge verband tussen wetenskap en tegnologie, die samelewing en die omgewing te toon.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 wetenskap en tegnologie binne die konteks van geskiedenis en inheemse kennis verstaan: beskryf hoe plaaslike inheemse kulture wetenskaplike beginsels en tegnologiese produkte vir spesifieke doeleindes -gebruik het en steeds gebruik:
3.1.1 beskryf hoe eie kultuurgoep deur die geskiedenis heen velige maniere gevind het om drinkwater op te gaar en te gebruik.
AKTIWITEIT 1
Die vergrootglas konsentreer die sonligenergie op een punt; die hitte is dus gekonsentreer en die papier begin brand.
Dele van die bottel, veral die bodem funksioneer soos ‘n vergrootglas en kan ‘n brand laat ontstaan.
AKTIWITEIT 3
Aanvanklik is slegs hout gebruik. Baie hout is nodig, want hout brand nie lank nie. Oop vure is gebruik en baie hitte het verlore gegaan. Later is die vure in houers gemaak. Toe is steenkool gebruik. Steenkool brand langer as hout. Paraffien is in nog kleiner hoeveelhede nodig. Leerders kan uitbrei en dinge noem wat nie in vorige paragrawe genoem is nie.
AKTIWITEIT 4
Die hande word warm.
Enige voorbeelde: voertuigbande op teer; ruimtetuig wat in die atmosfeer van die aarde inbeweeg; enjin wat sonder olie loop; vislyn wat vinnig oor die vinger gly; boor in hout of yster; rook vorm weens die hitte; vuurhoutjie op die swaelstrook van die dosie (vroeër jare teen die skoensool); sigaretaansteker.
‘n Dun hout is vinnig met die hande heen en weer gedraai terwyl die punt in ‘n holte van ‘n ander groter stuk hout gedruk is. Die holte het gemaak dat die wrywingsoppervlak vergroot het. Die dunner hout het uiteindelik aan die brand geslaan.
AKTWITEIT 5
Petrol-/dieselenjins: die energie in die brandstof ontplof en stel energie vry; die druk wat so ontstaan, laat die suier beweeg en die enjin draai.
Elektriese apparaat, bv. ‘n deurklokkie. Die stroom laat kragte ontstaan wat die hamertjie heen en weer laat beweeg.
Water wat ‘n waterwiel laat draai wat ‘n meule laat werk.
‘n Fietsryer wat energie oordra deur die pedale te trap sodat die wiele draai.
‘n Mens wat ‘n handmeule draai om bv. vleis te maal.