Inside Collection (Course): Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 8
Aktiwiteit 1:
Om mondelinge tekste te verstaan en om bekende woorde korrek te spel
Een van die groot trekpleisters vir toeriste na Suid-Afrika is die pragtige strande al langs ons kus. Dit is egter nie net buitelandse toeriste wat hier kom baljaar nie, maar ook Suid-Afrikaners wat van heinde en verre kom om die see en son te geniet.
Kaapstad, die oudste stad in Suid-Afrika, word ook “Die Moederstad” genoem. Vir eeue lank al word die skoonheid van Kaapstad en die Kaapse Skiereiland besing. Op sy vaart om die wêreld in die sestiende eeu het Sir Francis Drake in sy dagboek onder meer van die Kaap geskryf: “A most stately thing, and the fairest Cape we saw in the whole cirmcumference of the earth.”
Kaapstad en die Skiereiland het ook ander name gekry. Bartolomeus Dias het dit in 1486 “Die Kaap van Storms” genoem, nadat hy en sy drie skepe vir 13 dae lank in woeste storms moes probeer oorleef. Maar op ’n meer positiewe noot het hy en Koning Juan II van Portugal dit tog ook “Die Kaap van Goeie Hoop” genoem, omdat die seevaarders hoopvol was dat hulle die seeroete na Oos-Indië om die Kaap sou vind. Nog ’n naam is “Die Herberg van die See” (“The Tavern of the Seas”), omdat Kaapstad al eeue lank as ’n rusplek en vriendelike hawe vir moeë seevaarders dien.
1. Beantwoord die volgende vrae wat op die voorafgaande stuk gebaseer is in volsinne:
a) Wat is buitelandse toeriste?
b) Waarom word Kaapstad “Die Moederstad” genoem?
c) Wat het die ou seevaarders probeer bereik tydens hul ontdekkingstogte?
d) Wie het eerste om die Kaap geseil: Sir Francis Drake of Bartolomeus Dias?
e) Hoe het Drake oor die Kaap gevoel?
f) Hoe het Dias gevoel? Noem twee gevoelens wat hy ervaar het.
g) Waarom word “storms” in hierdie stuk op een plek met ’n kleinletter geskryf, en op ’n ander plek met ’n hoofletter?
h) Waarom is daar ’n deelteken op die tweede e in “moeë”? Hoekom is daar dan net een e in “droë”?
d) As “skepe” aan die einde van ’n reël gestaan het en jy moes dit afkap deur ’n koppelteken te gebruik, hoe sou jy dit afkap?
| LU 1.2 | LU 6.1 | |||||||||
Aktiwiteit 2
Om ’n onderhoud te voer
| LU 2.5 | ||||
Aktiwiteit 3
Om in Afrikaans te kan dink en om woordeskat uit te brei
| LU 5.2 | ||||
Aktiwiteit 4
Om stories te verstaan en waardeer
Lank, lank gelede wou die Kapenaars ’n verklaring vind vir die digte wolk wat soms oor Tafelberg hang.
Daar het ’n storie ontstaan van ’n seerower, ene Van Hunks, wat tussen Duiwels-piek en Tafelberg in ’n kothuisie gewoon het. Op ’n dag het ’n vreemdeling by sy huisie opgedaag. Die vreemde man was deftig uitgevat en het ’n mooi hoed gedra. Hy het homself nie voorgestel nie, maar vir Van Hunks vir ’n bietjie pyp-tabak gevra. Van Hunks nooi hom toe in, en gee vir hom tabak om sy pyp mee te stop. Terwyl hulle so sit en rook, spog Van Hunks dat niemand soveel kan rook as hy nie. Daar en dan daag die vreemdeling vir Van Hunks uit om ’n “rook-wedstryd” met hom te hê. Hulle sou kyk wie die meeste kon rook. Hulle verdeel die tabak, en begin rook.
Teen die volgende oggend was die hele berg toe onder die rook. Skielik stamp die vreemdeling sy hoed per ongeluk van sy kop af. Wat sien Van Hunks? Die man het horings op sy kop! Die vreemdeling was toe al die tyd die duiwel! Skielik is daar ’n donderslag en beide Van Hunks en die duiwel verdwyn. Tot vandag toe het niemand hulle nog ooit weer gesien nie. Maar as die wolk so swaar oor Tafelberg hang, sê die Kapenaars: “Ou Van Hunks en die duiwel stook vandag weer!”
Volgens ’n Afrika-legende het Qamata die wêreld geskape. Maar Nganyamba, ’n nare monster wat onder die see lê en slaap, het probeer om te verhoed dat Qamata droë land maak. Om vir Qamata in sy stryd teen Nganyamba by te staan, het Djobela, die eenogige aardgodin, vier groot reuse gemaak; een om elke rigting te bewaak: noord, suid, oos en wes. Ná groot gevegte is die reuse egter uiteindelik verslaan. Voor hulle dood is, het hulle vir Djobela gevra om hulle in berge te verander sodat hulle hul werk kon voortsit. Umlindi Wemingizimu (Die Bewaker van die Suide) het toe Tafelberg geword. Tot vandag toe hou Tafelberg nog wag oor die suide.
Bron: http://www.cybercapetown.com/CapeTown/myth.php
| LU 1.1 | ||||
Aktiwiteit 5
Om sommige elemente van die poësie te verstaan
Gedig A
Jan Dolos van Dwarskersbos
vang visse in ’n tros;
as ’n vis eers pik
aan Jan se hoek
dan kom hy nooit weer los.
Die vetste snoek aan Jan se hoek
dié bak hy op ’n plaat;
hy eet sy kop
en alles op
en die kat kry net die graat.
Uit: R.K. Belcher: Sit om jou dassie. Kaapstad: Die Kinderpers van SA. Met vriendelike vergunning van die digter
Gedig B
Vissersboot
Die rye vissersbote van Houtbaai
lê lange nagte rusteloos en dobber
teen gladgespoelde houte van die kaai
tot eindelik met die rooi koms van die more
hul weer die ver, blink velde sal verken
en weer teen skemer terugkeer soos tevore.
Wintermaande word met die gewaai
van reën en wind die bote skoongemaak
en warm vasgeanker teen die kaai,
maar soms gebeur dit dat met hooggety
een skielik op ’n nag sy toue breek,
die oop see invaar en vir goed wegbly.
Uit: R.K. Belcher: Ver Land. Kaapstad/Pretoria: HAUM. Met vriendelike vergunning van die digter
Woordverklarings:
tros : bondel vrugte (bv ’n tros druiwe)
graat : die beentjies van ’n vis se liggaam
dobber : op en af beweeg op die water
skemer : halfdonker
verken : ’n terrein bespied of ondersoek
kaai : sterk muur waarlangs skepe vasgemeer kan word
hooggety : hoogwater
invaar : ingaan / inbeweeg per boot of skip
Gedig A:
a) Vervang die woord “pik” deur ’n ander woord met dieselfde betekenis.
b) Waarom dink jy het die digter besluit om “pik” in die gedig te gebruik? Wat sê “pik” alles vir jou?
c) Wat beteken dit as daar gesê word dat Jan Dolos “visse in ’n tros” vang? Verduidelik in jou eie woorde.
d) Is Jan Dolos ’n goeie visserman?
e) Gee twee redes (uit die gedig) vir jou antwoord.
f) Is Jan lief vir snoek? Haal aan uit die gedig om jou antwoord te staaf.
g) Skryf die woorde neer wat met mekaar rym in die gedig. Hulle hoef nie almal aan die einde van ’n versreël te staan nie. Skryf dit so:
_________rym met __________
__________ rym met _____________
______________ rym met_____________
______________rym met ______________
______________rym met ____________
_______________rym met ____________
(Doen net soveel as jy kan.)
h) Een van die tegnieke wat in poësie gebruik word om ’n gedig meer “musikaal” te maak (mooi te laat klink), is om sekere woorde wat naby mekaar staan, met dieselfde klank te laat begin, bv. “Die wind waai woes”. (Die w-klank word herhaal.) Dit word alliterasie genoem. Skryf een voorbeeld van alliterasie neer uit die gedig.
Gedig B:
a) In reël 2 word daar gesê dat die bote snags “rusteloos” is. Kan ’n boot rusteloos wees?
b) Verduidelik wat bedoel word as daar gesê word dat hulle “rusteloos dobber”.
c) Wat is die “ver, blink velde” wat deur die bote verken word?
d) Kyk na die woorde “warm vasgeanker”. Die bote kan tog nie in die winter warm wees nie, want die see en wind is koud. Wat word met hierdieuitdrukking bedoel?
e) Is daar ’n ander woord wat jy in die plek van “warm” kon gebruik?
f) Wat word bedoel met “die rooi koms van die môre”?
g) Hoekom dink jy het die digter besluit om “lange nagte” te sê in plaas van lang nagte?
h) Hier kom ’n moeilike vraag: Kan jy aan ’n rede dink waarom daar in hierdie gedig van ’n boot as “hy” gepraat word, en nie as “sy” nie? Dis tog gebruiklik om bote en skepe die vroulike vorm te gee. (Miskien kan die volgende woorde as leidraad dien: Die boot is rusteloos, hy verken die ver velde, hy breek sy toue, hy vaar die oop see in, hy bly vir goed weg. Met ander woorde, die boot reageer nie soos ’n dooie objek nie, maar asof hy ’n lewe of ’n wil van sy eie het …) Lewer kommentaar oor hierdie aspek van die gedig as jy kan.
| LU 3.2 |
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 1 LUISTER |
| Die leerder is in staat om vir inligting en genot te luister en gepas en krities binne ’n wye verskeidenheid situasies te reageer. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 1.1 stories verstaan en waardeer, asook dié wat deur medeleerders vertel word; |
| 1.2 mondelinge tekste verstaan. |
| LU 2 PRAAT |
| Die leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ’n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 2.1 vertaal en tolk; |
| 2.2 interaksie in addisionele taal voer; |
| 2.5 ’n onderhoud voer. |
| LU 3 LEES EN KYK |
| Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 3.1 fiksie en nie-fiksie verhale lees; |
| 3.2 sommige elemente van die poësie verstaan; |
| 3.4 vir inligting lees; |
| 3.7 vir genot lees; |
| 3.8 begrip van die gebruik van naslaanwerke toon. |
| LU 6 Taalstruktuur en –gebruik |
| Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 6.1 bekende woorde korrek spel; |
| 6.2 eenvoudige taalvorme en sinstrukture gebruik om mondelings en skriftelik te kommunikeer; |
| 6.3 taalverskynsels hanteer soos |
| 6.3.2 soorte sinne;6.3.3 enkelvoudige sinne;6.3.6 die ontkennende vorm; |
| 6.4 woordeskat uitbrei; |
| 6.5 begrip van 5 000 tot 7 500 alledaagse woorde binne konteks teen die einde van graad 8 demonstreer. |
AKTIWITEIT 1
1. (a) Dit is toeriste wat van ander lande kom (van buite die land waar hulle tans besoek aflê).
(b) Dit word so genoem omdat dit die oudste stad in die land is.
(c) Hulle wou die seeroete na Indië vind.
(d) Dias het eerste om die Kaap geseil.
(e) Hy was oorstelp deur die skoonheid daarvan; hy het dit bewonder.
(f) Hy het nie daarvan gehou nie (was bang), maar hy was ook hoopvol.
(g) Wanneer dit met ‘n kleinletter geskryf word, verwys dit bloot na storms in die algemeen, maar dit word met ‘n hoofletter geskryf as dit deel van ‘n naam is.
(h) In moeë wys die deelteken op die tweede e dat dit die begin van ‘n nuwe lettergreep is: moe/ë; in droë is daar net een e omdat dit nie droe (uitspraak) is nie, maar dro (soos in droog). Die lettergrepe is dro/ë.
(i) Ek sou dit so afkap: ske / pe.
AKTIWITEIT 2
Die aktiwiteite moet sinvol wees en daarom moet die opvoeder leiding gee. Vrae moet relevant wees (leerders moet aangemoedig word om ‘n bietjie navorsing te doen oor omstandighede in daardie tyd) en die opvoeder moet toesien dat toon, register en liggaamstaal aanpas by die geleentheid. Hulp kan ook vooraf gegee word met formulering van vrae.
Leerders kan vooraf gevra word om visuele materiaal saam te bring (bv. prente van skepe, matrose, seerowers, skeepswrakke) uit daardie tyd. As daar Portugese klasmaats is, kan hulle help met die kies en uitspreek van name. Vrae oor die koskultuur, godsdiensgebruike, ens., van die Portugese, kan gestel word om sodoende kruiskulturele aktiwiteite en belangstelling te stimuleer.
Die rolspel kan kreatiwiteit en pret in die klaskamer stimuleer.
AKTIWITEIT 3
Let wel: Hier is ‘n gulde geleentheid om die gebruik van metaforiese taal aan te raak: trekpleister (twee betekenisse, afhangende van die konteks).
Ook woorde met meer as een betekenis, bv. skoonheid, herberg (naamwoord / werkwoord). Die belangrikheid van konteks kan uitgewys word met die gebruik van hierdie woorde en ook ander voorbeelde.
AKTIWITEIT 4
1. Verduidelik wat ‘n legende en ‘n mite is. Ons land se rykdom in terme van diversiteit kan beklemtoon word. Hier is ‘n geleentheid vir aktiwiteite oor die verskillende leerareas heen, bv. kuns en kultuur (die plakkaat), geskiedenis, aardrykskunde, omgewingsleer.
2. Groepleer en self- en eweknie-evaluering word hier bevorder. Die opvoeder gee leiding.
AKTIWITEIT 5
Die eerste stap is om bewus te wees van die feit dat gedig A eintlik ‘n kindergedig is, terwyl gedig B meer “volwasse” is en deur die volwasse leser op ‘n metaforiese vlak geïnterpreteer sal word (nl. dat die boot ‘n metafoor is vir ‘n mens, en die “wegbreek” ‘n proses van verwydering – emosioneel, geestelik of fisies – kan wees). Die leerders kan dit egter op die mees basiese vlak interpreteer, en dit sal slegs in die laaste vraag wees waar ‘n ontwikkelde leser moontlik sal insien dat daar nog ‘n betekenislaag is.
Gedig A is baie meer klankryk en ritmies, en dit is die elemente waarop gekonsentreer sal word, bv. rym, ritme, klanke. Leerders kan aangemoedig word om die ritme te “klap” of die gediggie te probeer te sing, of dit in beweging uit te druk.
1. A is meer ritmies.
2. a) Enige geskikte woord.
b) “Pik” beskryf die kort beweginkies wat die vis maak wanneer hy aan die aas byt. Moedig die leerders aan om saam te praat oor hoe dit voel as ‘n vis so liggies aan die aas byt. Die woord “klink” ook soos die beweging – kort, lig.
c) Dit beteken dat hy baie vang. Dis nie noodwendig waar dat hy ‘n klomp met een slag uittrek nie, maar dit suggereer dat hy baie visse vang. (Vgl. hoe vissermanne soms ‘n bossie visse aan ‘n stukkie seegras vasmaak; bv bokkoms – dan is dit as ‘t ware ‘n “tros” visse.) Wys op die metafoor.
d) Ja, hy is ‘n goeie visserman.
e) Hy vang baie visse (“tros”) en as ‘n vis eers byt, kom hy nie los nie.
f) Ja, hy is lief vir snoek, want hy eet alles op.
g) Enige korrekte rymwoorde uit die gedig.
h) Dolos / Dwarskersbos of vang / visse
3. Gedig B
a) Nee, net ‘n mens of dier kan rusteloos wees.
b) Hulle wip op en neer in die water – dis taamlik stormagtig / daar is baie branders / die wind waai en dit maak kabbels in die water.
c) Dit is die diepsee. (Verduidelik die beeldspraak.)
d) Dit beteken hulle is stewig / veilig vasgemaak.
e) “stewig” (Wys daarop dat dit nie dieselfde gevoelswaarde het as “warm” met al sy konnotasies nie.)
f) Dit verwys na die sonsopkoms wanneer die son rooi is.
g) Dit versterk die gevoel van die lengte van die tyd, maar dit is ook ter wille van die metrum gedoen. (Moenie terminologie gebruik nie, maar wys daarop.)
h) Die boot kry menslike eienskappe; dit versimboliseer ‘n mens wat sy bande met iets of iemand breek. Dis dus metafories.