Inside Collection (Course): Afrikaans Huistaal Graad 9
AKTIWITEIT 1:
Om te sien of jy al die volgende taalverskynsels bemeester het
| LU 6.1 | LU 6.2 | |||||||||
UMFAAN SKRIK VIR NIKS
Korrespondent
BLOEMFONTEIN – Ontmoet Umfaan. Bloemfonteinse avonturier by uitstek. Witwater-vlotvaarder. Bobaas-rotsklimmer, -skiër en -kanovaarder. Warmlugballonvaarder.
Dan is die agtjarige Umfaan, ’n strepiesbruin Staffordshire-bulterriër met ’n blinde regteroog, ook ’n veiligheidswag wat skrik vir niks. Nie skoonlief of ondier sal dit naby hom waag as hy sy baas, Johann Breytenbach (32), se beursie of selfoon kordaat in die bek het nie.
Breytenbach, ’n konsultant vir avontuurtogte, het Umfaan nie so geleer nie. In hul onafskeidbare jare saam sedert hy Umfaan in 1993 as die “kleinste, lelikste hondjie in die hele werpsel” gekoop het, het die paraatheid vanself gekom.
Breytenbach was destyds op pad terug van Zambië toe hy besluit het om vir hom ’n maat en “oppasser” te kry wat kon saamgaan na ’n basiskamp in die Caprivi. “Ek slaap maar vas. Selfs olifante kry my nie wakker nie.”
Hy het eers die naam gekies en toe die hond om by die naam te pas. Sedertdien het hy en Umfaan (Zoeloe vir klein seuntjie) baie kilometers saamgery en baie tente in Suid-Afrika, Botswana en Lesotho opgeslaan.
Op ’n avontuurtog laat Umfaan nie op hom wag om in die pret te deel nie. Hy is veral gek oor watersport.
“Op die Vaaldam ‘ski’ hy op ’n binneband agter die boot. Wanneer hy afval, versuip hy omtrent. Sodra hy in die boot is, duik hy weer in die water vir nog ’n rondte.”
Breytenbach sê Umfaan is enige plek gelukkig, maar in sy element as hy voor langs hom in die bakkie sit met die lang pad wat voorlê.
Sy regteroog is blind nadat daar vermoedelik ’n doring ingekom het.
Uit: Beeld, 3 November 2000
1. Wat is die meervoud van die volgende:
1.1 avontuurtog
1.2 avonturier
1.3 veiligheidswag
1.4 ski
2. Verskaf ’n sinoniem vir
2.1 by uitstek
2.2 konsultant
2.3 paraatheid
2.4 in sy element
3. Ken jy die volgende versamelname?
3.1 ’n werpsel hondjies
3.2 ’n geweerskote
3.3 ’n gedigte
3.4 ’n beskuit
3.5
3.6
3.7
3.8
4. Voltooi die volgende sinne.
4.1 ’n Doring het in sy oog gesteek; daarom
4.1 As Umfaan van die binneband afval, versuip hy amper; nietemin
4.1 Jy kan dit nie naby sy baas se beursie waag nie, aangesien
4.1 Breytenbach slaap baie vas; trouens
5. Verskaf die korrekte vorm van die woord tussen hakies.
5.1 Ek het ’n afspraak vir ’n (konsultant).
5.2 Ek is mal oor (avonturier) in die buitelug.
6. WIE WEET?
6.1 Hoe staan “Skoonlief en Ondier” in Engels bekend?
| LU 6.1 | LU 6.2 | |||||||||
AKTIWITEIT 2:
| LU 6.1 | ||||
OOSTENRYKERS TE PERD VIR ‘VOLLE’ ERVARING
Dirk Kok
ROSENDAL – ’n Oostenrykse musikant en sy aktrise-vrou het op drie Suid-Afrikaanse boerperde vertrek vir ’n Afrika-avontuur waarin hulle op die perde tot in Kenia wil ry.
Horst Hausleitner (42), saksofoon- en klarinetspeler van die bekende Vereinigte Bühnen Wien, en sy vrou, die Duitse verhoogaktrise en sangeres Ester Stein (40), het vir ’n jaar lank hul kunsloopbane in Wene prysgegee vir hul Afrika-reis.
In die volgende 12 maande wil hulle met hul drie perde en hul tentjie sowat 6 000 km tot by die berg Kenia ry. Hulle is in die rigting van Kroonstad op pad. Hul beplande roete loop deur Botswana, Zambië, Malawi en Tanzanië.
Vooraf het hulle kers opgesteek by die internasionale Long Riders-gilde en by ’n Suid-Afrikaanse vollid van dié gilde, mev. Ria Nay-smith van Heilbron. Naysmith is die enigste vrou tot nog toe wat enduit te perd van Lesotho tot in Kenia gery het.
Hulle het ook raad gekry by mev. Nola Steels van Durban, weduwee van ’n bekende KwaZulu-Natalse natuurbewaarder en perdekenner, mnr. Nick Steele.
Ná al dié raad het die Hausleitner-egpaar se keuse vir twee ryperde en ’n pakperd geval op drie reuns van mnr. Michiel Burger van Rosendal se Burgerstrots-boerperdstoet, Roland, Armand en Tabak.
Stein sê sy en haar man het Kenia twee jaar gelede as toeriste besoek en dolverlief geraak op Afrika. Die volgende jaar het hulle Kenia per motor gaan verken en sy het ’n boek oor hul wedervarings geskryf, Heimweh nach Afrika; Tagebuch einer Reise durch Kenia.
Nog was dit nie genoeg nie en hulle wil Afrika ten volle ervaar.
Die egpaar het ’n webblad, www.afrikaabenteuer.at, waar hulle hul wedervarings sal deel.
Uit: Beeld, 6 April 2003
1. Kom ons maak ’n lys van woorde wat dalk verwar kan word. Die eerste woord verskyn in die teks.
1.1 gelede
verlede
1.2 toeriste
terroriste
1.3 reis
rys
1.4 op pad
op die pad
1.5 kers opgesteek
kers aangesteek
1.6 keuse
kies
1.7 reuns
reëns
1.8 omskryf
beskryf
1.9 aantal
getal
1.10 begeerlik
begerig
1.11 kwes
kwets
1.12 getuig
betuig
| LU 6.1 | ||||
| LU 6 Taalstruktuur en-Gebruik |
| Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer |
| Dit word bewys as die leerder: |
| 6.1 met woorde werk: |
|
| 6.2 met sinne werk: |
|
AKTIWITEIT 1
1.1 avontuurtogte
1.2 avonturiers
1.3 veiligheidswagte
1.4 ski’s
2.1 van formaat / uitstekende avonturier
2.2 raadgewer
2.3 gereedheid?
2.4 op sy gelukkigste
3.2 sarsie
3.3 bundel
3.4 baksel
3.5 swerm bye
3.6 konstellasie sterre
3.7 broeisel eiers/kuikens
3.8 kudde beeste
4.1 is hy nou blind
4.2 klim hy net weer op
4.3 hy jou sal byt / hy dit in sy mond vashou
4.4 selfs olifante kry hom nie wakker nie
5.1 konsultasie
5.2 avonture
6.1 Beauty and the Beast
AKTIWITEIT 2
1.1 Ons het SA twee jaar gelede besoek.Dit is deel van my verlede.
1.2 Toeriste besoek ons land.Terroriste moet gestraf word.
1.3 Ons reis na Kenia.Ons eet rys.
1.4 Op pad Kenia toe, gaan ons sukkel.Daar lê ’n slang op die pad.
1.5 Ons het by hom kers opgesteek om raad te kry.Ons het die kers aangesteek om lig te kry.
1.6 Dis my keuse om dit te doen.Ek kies die rooi rok.
1.7 Die reuns is hingste wat “ontman” is / gekastreer is.Die reëns bring verligting vir die boere.
1.8 Omskryf die betekenis sodat almal dit kan verstaan.Beskryf die natuurtoneel.
1.9 Daar was ’n aantal mense teenwoordig, maar ons het nie getel nie en het dus nie die getal nie.
1.10 Ai, die mooi klere lyk begeerlik!Ons is begerig om te weet of ons geslaag het.
1.11 Kwes die bok.Jou woorde kwets my.
1.12 Ek moet in die hof gaan getuig.Ek betuig my simpatie by die begrafnis.