Inside Collection (Course): Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 9
AKTIWITEIT 1
Om
| LU 1.2 | LU 2.7 | |||||||||
Hier op Stellenbosch waar ek woon, het ek een middag om vieruur ‘n baie vreemde ding gesien: ‘n Jongerige, skraal vrou was besig om teen die steil bult voor my huis op te stap met ‘n leerhoed, kortbroek, dik sokkies, stapstewels, ‘n swaargelaaide rugsak, en sy het sowaar ‘n groot, swaar motorband agter haar aangesleep! Ek wou nie ongeskik wees en staar nie, maar ek kon nie help om so half agter die gordyn weg te kruip en deur die venster te loer nie. Wat op aarde was haar storie?
Ek het glad nie geweet wie sy was of wat aan die gang was nie. Sy was nie meer so vrééslik jonk nie. “Wat wil sy probeer bewys?” het ek gewonder.
So het dit week-in en week-uit gegaan. Die nuuskierigheid het die oorhand gekry en ek het die vrou voorgekeer. “Verskoon my, maar u interesseer my geweldig. Waarom stap u so?” het ek gevra.
Toe vertel sy my: Sy was besig om te oefen om Everest te klim! ‘n Gewone huisvrou uit my buurt! En om alles te kroon moes ek hoor dat sy al reeds in
Desember 2001 na die Suidpool geski het, en in April 2002 na die Noordpool! Nou wou sy die derde groot uitdaging aanvaar: Everest!
Correnè Erasmus-Coetzer was toe uiteindelik deel van ‘n groep wat die Everest Gevorderde Basiskamp bereik het. Hierdie kamp, ook bekend as Kamp 3, is hoër as vyf van die hoogste berge op die sewe kontinente. Dit is 6 250 m bo seevlak.
Dit was glo nie te koud nie (ongeveer –5 grade Celsius was die koudste). Die grootste gevaar was die dodelike hoogtesiekte. ‘n Mens kry dit wanneer die liggaam nie by die min suurstof kan aanpas nie. By 6 000 m bo seevlak is die suurstof net 47% van dit wat jy op seevlak kry.
Ten spyte van al die gevare wat sy moes trotseer, het die “gewone” huisvrou darem weer op 8 Mei veilig op Suid-Afrikaanse bodem geland.
‘n Mens weet nooit hoe besonders ‘n “gewone” mens kan wees nie! Soos hulle sê, moet nooit iemand op sy / haar baadjie takseer nie! Jy weet nooit watter interessanthede daar mag uitkom nie!
1. Soek na ‘n storie oor ‘n ongewone (besonderse) mens wat jy in die klas kan kom vertel. Berei dit voor en vertel dit (in Afrikaans, natuurlik) aan die res van die klas. Dit hoef nou nie oor iemand te wees wat iets doen soos verafgeleë berge klim nie. ‘n Besonderse mens kan net ‘n doodgewone mens wees wat iets spesiaals vir sy/haar medemens doen.
Jy moet omtrent twee minute lank kan praat. Dink goed oor jou eie taalgebruik. Probeer om dit suiwer, korrek en idiomaties te hou.
2. Luister krities na jou maats se vertellinge en vra vrae wanneer die storie klaar is. Op dié manier kan julle ‘n kort bespreking hê oor waardes. Besluit wat dit is wat mense “spesiaal” maak.
AKTIWITEIT 2
Om
| LU 6.2 | ||||
1. Ons gaan nou sinne maak waarin die woorde as en indien gebruik word.
As ek nie my trui aangetrek het nie, sou ek koud gekry het.Indien jy my help, sal ek vir jou ‘n fliekkaartjie koop.
1.1 As my ma my toelaat,
1.2 As die skool vroeg uitkom,
1.3 Indien ek betyds klaarkry,
1.4 Indien Blokkies Joubert die Springbokspan haal,
1.5 As almal hulle werk voltooi het,
2. Nou kyk ons na voornaamwoorde.
Thami verjaar more. Dan word sy vyftien.Ek en jy moet later winkel toe gaan om vir haar ‘n geskenk te koop.
Hierdie woorde word PERSOONLIKE VOORNAAMWOORDE genoem. Hulle kan in die plek staan van ‘n persoon se naam. ‘n Mens kon bv. gesê het:
Dan word Thami vyftien.Sue en Sammy moet later winkel toe gaan om vir Thami ‘n geskenk te koop.
Ekjy hy /sy/dit (“Dit” word bv. gebruik as jy van ‘n dier praat.)onsjullehulle
2.1 Janice het ‘n prys gewen, want ......................... het die vinnigste gehardloop.
2.2 Al die kinders het na die Wimpy gegaan omdat ......................... na Pat se verjaardagpartytjie genooi was.
2.3 James en Sue, sal .................................................. asseblief saam met my stap?
2.4 Het jy Pam se nuwe klein katjie gesien? ......................... is die mooiste ou dingetjie wat ek nog ooit gesien het!
2.5 John se rugsak is baie swaar, want ......................... dra al sy boeke saam.
3. Nou kyk ons hoe lyk BETREKLIKE VOORNAAMWOORDE. Kyk eers na ‘n paar voorbeelde. Die voornaamwoord (vnw.) is vetgedruk. Let op dat dit soms uit twee woorde kan bestaan. Ons sê die betreklike voornaamwoord HET BETREKKING OP ‘n sekere naamwoord (s.nw.) of persoonlike voornaamwoord (pers. nw.).
Dit is die motor waarin ek gery het. (vnw. = waarin)Die meisiein wie ek belangstel, hou ook van my. (vnw. = in wie)Weet jy dis ‘n stukkende stoelwaarop jy sit? (vnw. = waarop)My onderwyser is ‘n mens op wie jy kan staatmaak. (vnw. = op wie)Hierdie is die besemwaarmee ek die huis uitvee. (vnw. = waarmee)
Dit is nogal belangrik om te weet na watter s.nw. die betreklike vnw. verwys, want as dit ‘n mens is, sê ons altyd van wie, met wie, by wie, na wie, ensovoorts. Ons gebruik nooit vir mense vnw. soos waarin, waarmee, waarby, waarna nie. Dis net vir dinge (voorwerpe).
3.1 Die huis ......................... ons woon behoort aan my ouma.
3.2 Ek is baie lief vir die mense ......................... ek in die klas is.
3.3 In die winter is die kombers ......................... ek slaap nie dik genoeg om my warm te hou nie.
3.4 ‘n Termometer is iets ......................... ‘n mens jou koors meet as jy siek voel.
3.5 Daar loop die mense ......................... ons die groot geskenk ontvang het.
Aktiwiteit 3:
Om bekende woorde korrek te spel
| LU 6.1 | ||||
1. Ons gaan kyk hoe sekere woorde gespel word. Die woorde kom uit die teks in Aktiwiteit 1.
steil: ‘n Bult is steilIemand het steil hare (nie krullerig nie).
sowaar: Mandy kan sowaar al motor bestuur!
vieruur: Dit is nou vieruur in die middag.
Daar is woorde wat net soos hierdie klink, maar anders gespel word en ook ‘n ander betekenis het. (Hulle word homofone genoem.)
1.1 styl
1.2 so waar
1.3 vier uur
2. Ons kyk nou na die manier waarop sekere woorde gespel word. Dit is baie belangrik dat jy weet hoe die woord uitgespreek word. Maak seker dat jy dit reg uitspreek. (Vra jou onderwyser.)
Die vrou het oor die Suidpool geski.
As jy die woord “ski” uitspreek, hoor jy dat die “i” ‘n langerige “ie”-klank is. Dis anders as die “i” in “dit”. Daarom moet ons versigtig wees as ons sekere vorme van die woord skryf. As mense dit lees, moet hulle weet hoe om dit uit te spreek.
So lyk die naamwoord: ski (Byvoorbeeld: My een ski is stukkend.)
In die meervoud skryf ons: ski’s. (Byvoorbeeld: Ek het twee ski’s.)
ma – ma’spa – pa’salibi – alibi’skano – kano’s
(a, i en o in hierdie woorde is lang vokale en moet beklemtoon word. Jou onderwyser kan nog voorbeelde gee.)
3. Kyk of jy die meervoude van die volgende woorde reg kan spel:
3.1 baba
3.2 foto
3.3 video
3.4 Israeli
3.5 ouma
Spreek die woorde (veral die meervoudsvorme) uit.
4. Sommige woorde bestaan net uit een lettergreep, bv. “pa”, maar baie woorde is langer en bestaan uit twee of meer lettergrepe. bv. :”gewone”.
‘n Mens kan wys hoe die woord in lettergrepe opgebreek kan word, bv.: ge/wo/ne.
gevare dodelike liggame swaargelaaide rugsak
5. Maak seker dat jy weet hoe om die volgende woorde te spel:
Interesseerinteressantnuuskieriguitdagingliggaam
OM AF TE SLUIT, SOMMER IETS VAN ALLES:
1. Verwys weer na die teks in Aktiwiteit 1. Ken jy die antwoorde?
2. Hier is die name van ‘n paar boeke wat julle in die hande kan probeer kry vir eie leeswerk:
Die mooiste Afrikaanse sprokies, uitgesoek en oorvertel deur Pieter W. Grobbelaar met illustrasies deur Séan Verster (uitgewers Human & Rousseau)
“Ek het van die stories gehou. Dit het my laat lag. Ek wou nie ophou lees nie…Die prente is ook baie mooi.” – Monique Lahout van Bellville
Koning Henry deur Carina Diedericks-Hugo (uitgewers Tafelberg)
“Soos met haar vorige jeugverhale skep die skryfster in hierdie boek ‘n virtuele wêreld waarin enigiets moontlik is, … ‘n wêreld waarin jy as tiener kan verdwyn.”
Ragtime en rocks deur Willem van der Walt (uitgewers Tafelberg)
“Willem van der Walt vang hier ‘n dramatiese tyd vas in die lewe van jong mense wat skoolgaan, liefhet, haat en hoop teen die agtergrond van dwelms en gangster-aksie op die Kaapse Vlakte. ‘n Jeugverhaal so relevant dat dit aansluit by die mees onlangse koeranthoofopskrifte.”
3. Lees die onderstaande resensie wat op 7 Julie 2003 in Jip, Die Burger, verskyn het:
Intrige op Diamantkleim
Die vloek van adamasMarie ReynekeHuman & RousseauR44,95
In die eerste helfte van die vorige eeu het die legendariese boereprofeet, Siener van Rensburg, ‘n visioen gehad dat ‘n diamant so groot soos ‘n skaap
kop in die Lichten
burg-omgewing ge
vind sou word. Die enigste probleem met die ontdekking van sulke ontsaglike rykdom is dat mense so betower word dat hulle selfs daarvoor sal moor. Boonop rus die vloek van adamas op iedereen wat só ‘n geluk slaan . . .
Coert Cronjé, ‘n stadsjapie van Johan
nesburg, moet teen sy sin in die Desem
ber-vakansie op oom Hendrik Donkiegat se kleim kom werk weens ‘n grap wat ge-back-fire het. Met die intrapslag loop hy hom vas in die vyandige Kerneels Langley en ‘n onvriendelike wêreld wat hom net nie wil akkommodeer nie. Hy word egter spoedig meegevoer deur die bygelowe wat die mense se lewe regeer en die blou oë van oom Hendrik se dogter, Elize.
Saam met Coert en die gevatte Madais Moeneng word die leser geneem op ‘n avontuurtog – kompleet met ‘n paar motor
wrakke, die vergete fondamente van ‘n ou polisiestasie en iets hard en blink wat in ‘n meerkatgat versteek is.
Die vloek van adamas is deur
spek met menslike vrese en verraad. Dit bou op tot ‘n naelbyt-klimaks wat jou op die punt van jou stoel laat sit. Jy word ingetrek by die gebeure op die kleim. Jou afguns van die plaaslike “weldoeners”, Kerneels Langley en sy scary pa, groei soos hulle hul ware motiewe ontbloot en jy leer saam met Coert dat dit soms beter is om te dink voor jy sê of doen.
Wat my egter gepla het, was die effens argaïese taalgebruik plek-plek. Wie praat nog van sy oukêrel” of werk sy “alie” af vir goeie punte? Die diamantbedryfjargon (wat seker nodig is in die konteks) het ook net té veel geraak vir my stedelike brein om te verteer.
In retrospek kan ek die boek egter as ‘n genotvolle leeservaring be
stempel wat ek beslis aanbeveel vir enigeen wat hou van avontuur- of misdaadverhale. Diamante het ook die een of ander magiese element wat altyd sal sorg vir oorgenoeg misterie, romatiek en spanning.
Roeline Daneel (18 jaar)Hoë Meisieskool BloemhofStellenbosch
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 1 |
| LUISTERDie leerder is in staat om vir inligting en genot te luister en gepas en krities binne ’n wye verskeidenheid situasies te reageer. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 1.2 mondelinge tekste verstaan; |
| 1.3 vir spesifieke inligting luister; |
| 1.4 aandagtig luister tydens ‘n bespreking. |
| LU 2 |
| PRAATDie leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ’n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 2.4 sosiale en etiese kwessies debatteer; |
| 2.7 ‘n kritiese bewustheid van eie taalgebruik toon. |
| LU 6 |
| TAALSTRUKTUUR EN –GEBRUIKDie leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 6.1 bekende woorde korrek spel; |
| 6.2 eenvoudige taalvorme en sinstrukture gebruik om mondelings en skriftelik te kommunikeer; |
| 6.3 woordeskat uitbrei. |
AKTIWITEIT 1
1. eie storie
2. vrae en bespreking
AKTIWITEIT 2
1. eie sinne
2. Persoonlike voornaamwoorde
2.1 sy
2.2 hulle
2.3 julle
2.4 dit (Sy of hy kan ook aanvaar word.)
2.5 hy
3. Betreklike voornaamwoorde
3.1 waarin
3.2 met wie
3.3 waaronder
3.4 waarmee
3.5 van wie
AKTIWITEIT 3
1. Spelling
1.1 bv. ’n atleet se hardloopstyl, of ’n haarstyl
1.2 bv. Dit is so waar …
1.3 bv. Ek het vier uur lank vir haar gewag.
eie sinne
2. Leer hoe om die woorde te spel en uit te spreek.
3. Meervoude se spelling
3.1 babas
foto’s
video’s
Israeli’s
Oumas
4. Lettergrepe
ge / va / re do / de / li / ke lig / ga / me swaar / ge / laai / de rug / sak
5. Leer spelling van woorde.
OM AF TE SLUIT
1.
om respek te betoon
Jy moet hom nie oordeel op grond van sy voorkoms nie.
“Don’t judge a book by its cover.”
Afrika, Europa, Noord- en Sentraal-Amerika, Suid-Amerika, Oseanië, Asië, Antarktika.