Inside Collection (Course): Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 9
Aktiwiteit 1
Om verskillende taalvorme en sinstrukture te gebruik om te kommunikeer
Skermsweef
Valskermsweef (of makliker nog: skermsweef) is ’n betreklik jong sportsoort. Dit was eers in die negentigerjare van die vorige eeu dat sweefentoesiaste hierdie eenvoudige, maar uiters opwindende vliegkuns begin beoefen het.
Sweeftuie is so eenvoudig, dog so effektief dat hulle amper te goed is om waar te wees. Dis ook nie te duur nie – ’n sweeftuig kos omtrent soveel as ’n goeie stel gholfstokke. Verbeel jou net: jy het jou eie sweeftuig wat jou in salige stilte op die wieke van die wind honderde meters hoog die lug in kan laat klim, en jou honderde kilometers ver kan dra. Wat meer is, as jy tuis kom, kan jy die tuig heel gerieflik onder in jou kas wegbêre, of as jy reis, kan jy dit in jou rugsak saam met jou ronddra! Onthou net: al klink dit so eenvoudig, moet ’n mens dit met die grootste respek behandel, want dit is immers ’n lugvaartuig.
’n Skermsweeftuig (Engels: paraglider) is ’n lugvaartuig wat geen permanente vaste struktuur het nie. Dit is in staat om te sweef, en kan te voet van die hange van ’n heuwel gelanseer word As daar nie heuwels in die omgewing is nie, kan dit ook agter ’n voertuig aan gesleep word om dit te lanseer.
Die konsep waarop die skermsweeftuig gebaseer is, is wonderlik eenvoudig: ’n tekstielvlerk wat deur sy eie beweging deur die lug opgeblaas word, is aan ’n aantal toue vas wat die vlieënier (swewer) ondersteun. Die belangrike woorde hier is vlerk en vlieënier. Dieselfde aerodinamika-effekte wat kolossale passasiersvliegtuie in die lug hou, geld ook vir hierdie tuig.
Seil- en skermplankry
Skermplankry is verwant aan skermsweef, soos julle seker self weet. Dit is ’n sport wat baie vinnig in gewildheid toeneem. In die somer sien ’n mens alreeds heelwat jongmense wat in en bo die branders met hul skermplanke baljaar.
Hierdie jaar is die 17de Down Wind Dash op die Langebaan-strandmeer gehou. Seil- en skermplankryers ding elke jaar teen mekaar mee om te sien wie die vinnigste van Langebaan tot Saldanha kan ry. Daar was vanjaar sowat 50 deelnemers. Peter Lamley van Kaapstad het die prysgeld van R2000 gewen. Die huidige rekord is 17 minute. Ongelukkig was die wind hierdie jaar maar flou, dus het dit Lamley ’n volle halfuur geneem om Saldanha te bereik.
Bron: Die Burger, 3 Maart 2003
Wind uit seile in aanslag op rekord
1. Algemeen gebruikte adjektiewe
1.1 Skermsweef is ’n jong sportsoort.
1.2 Dit is ’n eenvoudige, maar opwindende vliegkuns.
1.3 Sweeftuie is eenvoudig, dog effektief.
1.4 ’n Mens moet ’n sweeftuig met die grootste respek behandel.
1.5 Dit het Lamley ’n volle halfuur geneem om Saldanha te bereik.
1.6 Maak ’n sin waarin die adjektief jonk voorkom.
1.7 Omkring die selfstandige naamwoord wat daardeur bepaal word.
1.8 Vergelyk dit met sin 1.1 hierbo. Wat merk jy op?
1.9 Voltooi die volgende sin deur die trappe van vergelyking van jonk in te vul:
1.10 Wat merk jy op omtrent die spelling van die adjektiewe in 1.9?
2. Alledaagse voorsetsels
2.1 Omkring vyf voorsetsels in die leesstukke hierbo.
2.2 Vergelyk die voorsetsels wat jy omkring het, met dié van een van jou klasmaats en kyk of jy saamstem met wat hy/sy gedoen het.
2.3 Maak vyf sinne van jou eie waarin jy voorsetsels gebruik.
| LU 6.2 | ||||
Aktiwiteit 2
Om vir inligting te lees
1. Lees die volgende berig oor ’n buitengewone sportman en som die inligting puntsgewys (maar in volsinne en in jou eie woorde so ver moontlik) op. Daar moet ongeveer agt punte wees. Onthou, opsom beteken nie oorskryf nie.
| Kaapse dokter hardloop marathon in Noordpool | |
| Dr Hans van Heerden (49) van Constantia, ’n tandheelkundige chirurg, neem gereeld aan marathonwedlope in die uiterste omstandighede deel. Hy gaan binnekort saam met tien ander marathongeesdriftiges by die Geografiese Noordpool aan ’n uitmergelende wedloop in gure weer van tot -50°C deelneem. Om die afgeleë terrein te bereik, moet die deelnemers van Spitsbergen-eiland, 1 400 km noord van Noorweë, met ’n Russiese vliegtuig nog 600 seemyl noord oor die Arktiese yssee vlieg.Die ontsettende koue kan lewensgevaarlik wees, maar spesiale voorsorgmaatreëls word getref om die deelnemers te beskerm. | Dr Van Heerden is ’n gesoute marathonatleet met ’n voorliefde vir avontuur. Sy eerste “ongewone” marathon was in 1999 in Antartika toe hy 42 km op ys gehardloop het. In 2000 tydens ’n wedloop by die berg Everest, het hy en sy mede-wedlopers ’n hoogte van 6 400 m bereik. Hier het hy vriesbrand aan sy regtervoet opgedoen. “Ek het nog nie gevoel in dié tone nie,” sê hy. Van Heerden het verlede jaar die 14de plek (van 100 deelnemers) in ’n wedloop in Noord-Mongolië behaal.Hy spesialiseer egter nie in buitelandse wedlope nie. Hy het reeds verskeie plaaslike wedlope soos die Comrades en die Twee Oseane suksesvol voltooi.Op ’n vraag oor hoe voornemende deelnemers hulle vir só ’n wedloop voorberei, sê hy; “Daar is geen plaasvervanging vir fiksheid nie en ’n mens moet doelgerig wees.”Hy beoog om volgende jaar aan die groot wedloop in die Gobi-woestyn in China deel te neem.Aangepas uit Die Burger, 8 April 2003 |
Aktiwiteit 3
Om mediatekste krities te ontleed
Snorkel deur slik en slym
Die meeste mense verkies die water waarin hulle swem so kristalhelder soos dié van ’n chloor-advertensie. Skoon, amper onsigbaar. As die water effens troebel of groen word, moet dit eers gedokter word voordat daarin afgekoel word. Die meer avontuurlustiges waag bietjie meer, maar trek gewoonlik self die streep by bruinerige rivier- en damwater.
Moeras-snorkelswemmers beoefen egter juis hul sport deur in slikkerige, slymerige modderwater te swem – hoe viesliker en walgliker, hoe beter.
Moerassnorkel behels presies wat die naam aandui: om met ’n snorkel en duikbril deur ’n moeras of vlei te swem. Dié ongewone sport word slegs op een plek ter wêreld beoefen, op die platteland van Wallis naby die dorpie Llanwrtyd Wells. Dáár is ’n moeras met die naam Waen Rhydd Bog, waar moerassnorkelswemmers van oor die hele wêreld jaarliks bymekaarkom om aan die Wêreld-moerassnorkelkompetisie deel te neem.
Om deur dié moerassige water te swem is al daarmee vergelyk om deur molasse of vleissous te swem. En die organiseerders van moeras-snorkelswem sê hieroor: “We like it to be as smelly, slimy and unappealing as possible.”
Deelnemers kom jaarliks van oral in die wêreld om mee te ding . Verlede jaar het 93 mense deelgeneem. Dit sal vanjaar die agtiende wêreldkompetisie vir dié buitengewone sport wees.
Verkort en effens aangepas uit ’n berig in die Bylae by Die Burger, 8 April 2003.
Vir meer inligting oor hierdie “sport”, besoek http://llanwrtydwells.powys.org.uk/bog.html
1. Beantwoord die volgende vrae in volsinne:
1.1 Wat is die onderwerp van hierdie berig?
1.2 Vir wie, dink jy, is dit geskryf, m.a.w. wie is die teikengroep?
1.3 Dink jy dit is ook vir die groter leserspubliek (m.a.w. vir baie verskillende soorte mense) interessant? Gee ’n goeie rede vir jou antwoord.
1.4 Vind jy dit interessant?
1.5 Wat was jou eerste reaksie op hierdie berig?
2. Ons ontleed die teks:
2.1 Watter tekssoort is dit? (M.a.w. is dit ’n gedig / ’n kortverhaal / ’n brief, ens?)
2.2 Kyk na die opskrif. Dit bestaan eintlik uit twee dele. Skryf hulle hier neer:
2.3 Hoekom is daar twee opskrifte? Wat is elkeen se funksie?
2.4 “Snorkel deur slik en slym”: Wat noem ’n mens ’n herhaling van ’n klank aan die begin van woorde wat na-aan mekaar staan? Dit kom baie in poësie voor.
2.5 Hierdie klanke word herhaal in “slikkerige, slymerige” asook in die woorde “smelly and slimy”. Watter effek het dit?
2.6 Soek ten minste vyf adjektiewe wat die grillerigheid van die water beklemtoon, en skryf hulle neer.
2.7 Skryf een adjektief uit die eerste paragraaf van die stuk neer wat die teenoorgestelde betekenis oordra, m.a.w. nie vuil nie. (Moenie “skoon” kies nie.)
2.8 Soek die antoniem van die woord wat jy in 7 neergeskryf het. Jy sal dit ook in die eerste paragraaf kry. Skryf dit neer.
Nota: ’n Mens noem die opskrif bo ’n koerantberig die kop. Die kop is ’n baie belangrike element van die berig, want dit moet die leser se aandag trek en die leser interesseer.
2.9 Is die opskrif bo die illustrasie in Aktiwiteit 4 effektief? Gee twee redes vir jou antwoord. Die een het met ’n idiomatiese uitdrukking in Afrikaans te doen.
2.10 Wat is molasse, en hoekom pas die woord so goed hier in?
| LU 3.5 | LU 6.2 | |||||||||
Aktiwiteit 4
Om te skryf om inligting oor te dra
1. Stel ’n lys vrae op wat jy vir elkeen gaan vra (omtrent agt vrae).
2. Skryf ’n kort berig wat op jou onderhoude met hulle gebaseer is. Voorsien dit van ’n goeie kop (opskrif).
3. Stel ’n tipiese spyskaart op van wat hulle die vorige aand en die oggend van die wedloop sou kon eet.
| LU 4.1 | ||||
| LU 3 |
| LEES EN KYKDie leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 3.2 sommige elemente van poësie verstaan; |
| 3.4 vir inligting lees; |
| 3.5 mediatekste krities ontleed; |
| 3.7 vir genot lees; |
| 3.8 begrip van die gebruik van naslaanwerke toon. |
| LU 4 |
| SKRYFDie leerder is in staat om verskillende soorte feitlike en verbeeldingstekste vir ’n wye verskeidenheid doeleindes te skryf. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 4.1 skryf om inligting oor te dra; |
| 4.3 vir persoonlike besinning skryf; |
| 4.5 mediatekste ontwerp; |
| LU 6 |
| TAALSTRUKTUUR EN –GEBRUIKDie leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 6.1 bekende woorde korrek spel; |
| 6.2 eenvoudige taalvorme en sinstrukture gebruik om mondelings en skriftelik te kommunikeer; |
| 6.3 woordeskat uitbrei.6.4 begrip van 5 000 tot 7 500 alledaagse woorde binne konteks teen die einde van graad 8 demonstreer. |
AKTIWITEIT 1
1.1 jong (sportsoort)
1.2 eenvoudigeopwindende (vliegkuns)
1.3 eenvoudigeffektief (sweeftuie)
1.4 grootste respek
1.5 volle halfuur
1.6 eie sin
1.7 eie woord (s.nw.) omkring
1.8 jong / jonk (vorm verskil)
1.9 jonger jongste
1.10 Die k word deur ‘n g vervang.
Verduidelik kortliks wat ‘n voorsetsel is en gee voorbeelde.
2.1 enige 5 voorsetsels
2.2 Vergelyk met klasmaats se voorsetsels en maak seker dat dit reg is.
2.3 eie sinne (5)
AKTIWITEIT 2
Opsomming in eie woorde sover moontlik. Ongeveer agt punte. Onderwyser kan hier vooraf aan die leerders verduidelik dat elke paragraaf ‘n “hoofgedagte” het en aandui hoe ‘n mens die hoofgedagte soek en onderstreep.
AKTIWITEIT 3
1.1 Dit gaan oor ‘n buitengewone sportsoort wat “moeras-snorkel” genoem word.
1.2 Dit word vir avontuurlustige sportmense geskryf; mense wat van die ongewone hou.
1.3 Ja, ek dink so, want dit is besonder ongewoon en min mense het seker al daarvan gehoor. (Enige aanvaarbare antwoord. Dit kan dalk negatief wees, maar die leerder moet ‘n goeie rede verskaf vir sy/haar siening.)
1.4 eie antwoord
1.5 Leerder gee eie antwoord. (Kan bv sê hy/sy kon dit nie glo nie.)
2.1 Dit is ‘n koerantberig.
2.2 ADRENALIEN-SPORTSnorkel deur slik en slym
2.3 Die eerste een is die hoofopskrif wat net ‘n aanduiding gee dat dit oor een of ander opwindende sportsoort handel; die tweede is ‘n subopskrif wat meer lig op die onderwerp plaas, m.a.w. meer spesifiek is.
2.4 alliterasie
2.5 Die s-klanke suggereer die klank van water of slyk waardeur ‘n mens waad of swem. (Enige aanvaarbare antwoord is in orde.) Leerders moet van die krag van klank in die taal bewus gemaak word.
2.6 slikkerige / slymerige / viesliker / walgliker / bruinerige
2.7 kristalhelder
2.8 troebel
2.9 ja
2.10 Dit is ‘n dik, taai, klewerige, bruin stroop wat ‘n mens gewoonlik vir diere voer. Dit pas goed hier in omdat die water ook dik en bruin en taai is en aan ‘n mens vaskleef.
AKTIWITEIT 4
1. Eie vrae. Daar moet ongeveer agt vrae wees en hulle moet relevant wees.
2. Eie beriggie met effektiewe kop. Bespreek opskrifte; leerders kan goeie voorbeelde saambring. Wys daarop dat koppe dikwels met woordspeling of beeldspraak werk. (‘n Goeie bron is Skryf Afrikaans van A tot Z – Die essensiële gids vir taalgebruikers deur Dalene Müller, en in 2003 deur Pharos uitgegee. Kyk onder “opskrifte – sub”.)
3. Eie spyskaart. Leerlinge kan verskillende soorte spyskaarte saambring as voorbeelde, en aspekte soos die wynlys en pryse kan bespreek word.