Inside Collection (Course): Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Graad 6
Duisende mense koop en verkoop produkte en dienste, maar almal se besighede word nie op dieselfde manier bedryf nie. Party verkoop vanuit ‘n mobiele eenheid (roomysman), ander verkoop vanuit ‘n stalletjie langs die straat, of selfs op die sypaadjie, terwyl sommiges hul besighede vanuit hul eie huise bedryf.
Dit is baie belangrik om die regte ligging vir ‘n besigheid te vind. Baie entrepreneurs se konsepte misluk uit die staanspoor, bloot omdat hulle op die verkeerde ligging besluit het. ‘n Onderneming moet so na as moontlik aan die kliënte geleë wees, maar terselfdertyd moet die huur van die perseel nie te hoog wees nie.
Beantwoord die volgende vrae nadat op die ligging van die besigheid besluit is:
Dit sal afhang van die aard van die produk. Is dit bederfbaar of nie? Is dit groot/klein? ‘n Stoor mag dalk benodig word. Dit is ook die moeite werd om te kyk of dit nie beter is om die produk direk aan die kliënt te lewer nie, eerder as om dit te stoor.
Diens kan egter nie gestoor word nie. Wanneer ‘n diens aan die kliënt gelewer word, word tyd gelewer en moet dit so aantreklik as moontlik gemaak word. Wanneer daardie tyd eers verby is, kan dit nie weer teruggekoop word nie. Daar moet daarna gestreef word om in elke moontlike tydgleuf besig te wees en sodoende inkomste te genereer. Daarom moet daar op spesiale aanbiedings gekonsentreer word gedurende die stil seisoen van die jaar.
So kan die prys van ‘n motorwas byvoorbeeld laer wees in die reënseisoen, omdat voertuie meer gereeld vuil word en motoreienaars dalk hul motors meer gereeld laat was.
Probeer deur ondervinding bepaal watter tyd van die jaar die stil seisoen is en dan aanpassings te maak aan die diens wat gelewer word of aan die prys van die produk.
Wat sal dit verg om die produk vanaf die vervaardigingspunt/aankope tot by die kliënt te vervoer? Sal voertuie en ekstra personeel benodig word? Onthou, die produk moet in ‘n goeie toestand by die kliënt aankom. Daarom is spoed belangrik. Dit moet beter en vinniger as die mededinger gedoen word.
As daar byvoorbeeld besluit word om spesiale vetkoeke met maalvleisvulsels aan skoliere te verkoop, gaan dit tog nie by die skool voorberei word nie. Die pousetye sal vasgestel moet word en die vervaardigingskedule so opgestel word dat die vetkoeke vars en warm by die onderskeie skole aangebied word.
In Suid Afrika veral, waar dienslewering dikwels baie swak is, is die spoed en betroubaarheid van die diens een van die faktore wat die deurslag kan gee in die sukses van jou besigheid.
Gaan ‘n diens aan die kliënt nà die verkoop van ‘n diens / produk gebied word en waar gaan hierdie diens gelewer word? Word die kliënt se huis besoek of word die diens vanuit die besigheid bedryf? Indien enige beloftes gemaak is of waarborge aan die kliënt gegee is, moet daarby gehou word.
Onthou, die kliënt koop nie net ‘n produk / diens nie. Die verhouding met die kliënt is deel van die diens / produk. Baie entrepreneurs faal as dit by hierdie aspek van die besigheid kom.
Die kliënt wil belangrik voel. ‘n Betroubare kliënt kan besigheid se grootste bate word. Dus moet daar voortdurend gekonsentreer word op dit wat die kliënte gelukkig hou.
Die beste manier om die sukses van ‘n besigheid te verseker, is om dit duidelik te laat uitstaan. Dit moet nie net nog ‘n produk wees nie. Dit moet uitstaan tussen die massas met ‘n unieke en treffende naam en logo. Probeer om die teikengroep te tref en probeer iets bied wat die kompetisie nog nie bied nie.
Voorbeeld:
Peter verdien ‘n goeie inkomste deur die grasperke van die huiseienaars in sy onmiddellike omgewing te versorg. Hy onderskei homself van die ander soortgelyke besighede deur die kliënte self te laat bepaal wanneer hulle gras meer/ minder aandag nodig het. Dan gaan hy verder deur nie net die gras en rande te sny nie, maar ook volgens behoefte die gras te voed met bemesting en dan die natmaak- en snyskedule by die groeitempo van die gras aan te pas. Peter gebruik voorts ‘n roller-grasmasjien wat net die beste eindproduk lewer. Hy noem homself “Die grasperkkenner wat ‘n saak het met gras” en maak dit sy werk om alles van alle verskillende soorte gras te weet. Hy sal ook die eienaars van raad bedien, indien daar grasperke of dele daarvan is wat as gevolg van ‘n mikroklimaat nie goed op sekere plekke in die tuin aard nie. Voorts kan hy daarop roem dat sy tuine/grasperke voorwaar die mooiste in die omgewing is.
Die kliënte is die belangrikste deel van die besigheid. Sonder hulle is daar nie ‘n besigheid nie. Dit is dus belangrik om uit te vind wie die kliënte is lank voordat daar met die besigheid begin word.
Dink nou aan persone wat as moontlike kliënte beskou kan word en beantwoord die volgende vrae:
| LU 4.2 |
Elke besigheid het te doen met baie verskillende mededingers. Hierdie situasie van die een wat voortdurend kompetisie vir die ander een is, skep eintlik geleenthede vir die kreatiewe entrepreneur. Hy/sy moet die foute/swak punte van sy/haar mededingers soek en dit tot sy/haar voordeel gebruik.
Mededingers is nie slegs daardie besighede wat dieselfde diens/produk lewer nie, maar ook ander besighede wat ander produkte/dienste lewer. So byvoorbeeld moet die een ruitwasonderneming nie net bedreig voel deur ‘n ander soortgelyke onderneming nie, maar ook deur fabrikate van ruitskoonmaakmiddels wat byvoorbeeld nie meer blinkvryf benodig nie, maar slegs aangewend en afgewas hoef te word.
Onthou, die verbruiker is nie altyd op soek na laer pryse nie. Daar is ook ander faktore soos netheid, toeganklikheid, goeie bemarking en persoonlike diens wat vir die verbruiker aantreklik is.
Bestudeer die volgende vraelys en gebruik dit as riglyn om te help om op ‘n werkbare onderneming te besluit.
| LU 4.2 | LU 4.5 |
| LU 4 |
| ENTREPRENEURSKENNIS EN -VAARDIGHEDEDie leerder is in staat om entrepreneurskennis, -vaardighede en -houdings te ontwikkel. |
| Ons weet dit as die leerder die volgende doen : |
| 4.2 identifiseer ‘n verskeidenheid moontlike sakegeleenthede in die gemeenskap (skoolkoöperasies, sport, vermaak, toerisme); |
| 4.3 ontwerp ‘n reklameveldtog as promosie vir ‘n produk wat winsgewend sal wees; |
| 4.4 ontwikkel en implementeer ‘n eenvoudige sakeplan vir ‘n handels- of diensonderneming wat van die huis of die skool bedryf kan word; |
| 4.5 beskryf hoe die vier elemente van die bemarkingsamestelling in ‘n eenvoudige sakeaktiwiteit gekombineer word. |