Inside Collection (Course): Aardrykskunde Graad 7
1. Die voorkoms en ontstaan van aardbewings
Een wetenskaplike wat self ‘n sterk aardbewing ervaar het, het op ‘n keer vertel dit het vir hom gevoel of die hele wêreld ‘n mat geword het wat ‘n slag of wat goed geskud en toe weer neergegooi is. Die mense, die geboue, die berge - alles en almal was niks meer as stoffies in daardie mat nie, het hy gesê.
[uit Huisgenoot se Jongspan , 21 Mei 1987]
Jy moet onthou dat die aardkors opgebou is uit groot plat rotsplate. Hulle is kilometers dik en dryf bo-op die dik, warm massa magma van die mantel. Hierdie bewegings is baie stadig en ‘n mens kan dit nie voel nie. Die rotslae van die aardkors wat nader aan die mantel lê, is warmer en buig maklik. Nader na die oppervlak van die aarde is die gesteentes kouer en dus harder.
Waar die aardplate mekaar ontmoet, bots hulle of skuur hulle teen mekaar. Wat ook al die rede vir die bewegings in die rotse is, sal hulle nie net buig of plooi nie. Hulle breek letterlik af soos wanneer jy ‘n stukkie hout in twee sal breek. Die aardkors kan vir ‘n tyd lank die spanning en druk weerstaan wat deur die bewegings binne-in uitgeoefen word. Skielik kan dit nie verder plooi nie en breek af. ‘n Verskuiwing van rotslae vind plaas en mense ervaar dit as ‘n aardbewing. ‘n Verskuiwingslyn word gevorm wat selfs bo-op die aardoppervlakte gesien kan word.
Aardbewings duur slegs ‘n paar minute en naskokke kom ook nog vir ‘n tydjie daarna voor.
Die bekende San Andreas-verskuiwingslyn loop dwarsdeur San Francisco in die Amerikaanse staat Kalifornië. Miljoene mense woon hier en is bewus van die gevare.
In figuur 5 word aangetoon hoe die reuse rotsblokke baie stadig by mekaar verby skuif (5 – 7 cm per jaar). As die kante aan mekaar vashaak (spanning word te hoog), skuif die rotse skielik en breek af. Die gevolg – ‘n aardbewing het voorgekom.
Die San Andreasverskuiwingslyn
![]() |
‘n Seismograaf word gebruik om die sterkte van ‘n aardbewing te meet
![]() |
1. Maak ‘n model van ‘n aardbewing: Werk in groepe. Kry twee ewe dik houtplanke en plaas hulle langs mekaar. Maak boublokke van karton wat bakstene, huise of geboue voorstel. Plaas die boublokke oor die verskuiwingslyn (daar waar die twee houtplanke aanmekaar raak). Trek nou die planke weg van mekaar of in teenoorgestelde rigtings.
![]() |
2. Verduidelik wat presies met die blokke gebeur?
3. Wat word die verskillende stukke (die twee houtplanke) waaruit die aardkors opgebou is, genoem?
4. Wat dink jy kan gedoen word om geboue meer bestand teen aardbewegings te maak. Hou ‘n groepbespreking en doen dan verslag aan die klas.
Aardbewings kom veral voor op die rand van die aardplate – daar waar die aardplate stadig na of van mekaar beweeg. Die bewegings veroorsaak dan aardbewings in die lande bo die rand van die plate. Lande wat in die middel van die plate lê, word nie ernstig deur aardbewings bedreig nie.
Suid-Afrika lê in die middel van ‘n aardplaat en sal dus nie sommer ‘n groot aardbewing beleef nie. Nogtans is roeringe in die aardkors se mantel ook hier aanwesig. Dink maar aan die Bolandse aardbewings by Ceres in 1969, wat baie skade aangerig het, asook die aardbewings by Stilfontein in Maart 2005.
In die volgende leereenheid oor vulkane sal jy op die kaart sien dat aardbewings en vulkane op dieselfde plekke voorkom.
2. Die uitwerking (gevolge) van aardbewings op mense se lewens en hul sosio-ekonomiese aktiwiteite
Lees die meegaande tydskrifartikel sorgvuldig deur.
Jy loop so ewe rustig in ‘n straat in jou stad of dorp en skielik begin die grond om jou golf soos ‘n dam waarin ‘n klip gegooi is.
‘n Vreeslike dreuning, byna soos ‘n weeklaag, styg van die aarde uit op. Om jou tuimel die geboue soos kaarthuise inmekaar, en voor jou bars die teerstrate oop soos lang repe sagte, geskeurde karton.
Spoorlyne buig en skeur, brûe stort ineen, damwalle breek. Mense en motors val in die grootste skeure. Dit gaan weer toe, en hulle verdwyn vir altyd. Oral stort bakstene, betonblokke, balke en pilare neer op mense, wat heen en weer skarrel en skuilplek soek wat daar nie is nie.
Brande breek uit omdat elektriese kabels en gaspype afgebreek word. Water stroom uit gebarste pype. Vensters se ruite het verbrokkel tot vlymskerp skerwe tussen die rommel om die ellende nog erger te maak. Alleraakligste natuurramp! Verskrikking soos die mens hom van die vroegste tye af ken. ‘n Aardbewing!
Huisgenoot, Jongspan, 21 Mei 1987.
‘n Aardbewing soos dié is ‘n baie ernstige ramp, maar gelukkig is almal nie so intens nie. Daar is omtrent elke 30 sekondes ‘n trilling in die aardkors, maar slegs 500 per jaar word regtig gevoel. Gelukkig is dit slegs ‘n paar wat af en toe baie skade aanrig en duisende lewens eis.
1. Lees die tydskrifartikel sorgvuldig deur. Bespreek in groepe die gevolge wat aardbewings het op:
a) Die mens
b) Die natuur
2. Versamel foto’s, prentjies en uitknipsels van aardbewings. Bring dit na jou klaskamer en hou ‘n bespreking. Vul jou aantekeninge daarmee aan.
3. Lees die volgende paragraaf oor Tsoenami’s. Versamel kaarte, foto’s en ekstra inligting oor die uiters vernietigende tsoenami wat op 26 Desember 2004 in Suid-Asië voorgekom het. Skryf ‘n volledige verslag daaroor.
Tsoenami – nog ‘n gevolg van aardbewings!
As die rotslae op die oseaanvloer skielik beweeg, word die oorliggende seewater ook beïnvloed en ‘n golf ontstaan in die see wat teen 800 km per uur kan beweeg. Sodra die golf die vlakker baaie van kusgebiede nader, dam dit hoër op en kan tussen 30 — 60 meter hoog wees. Dit rig baie ernstige verwoesting aan omdat hawens en dorpe langs die kus oorstroom en verwoes kan word.
3. Hoekom sommige mense ‘n hoër risiko as ander is
As jy kyk na die wêreldkaart (figuur 8 op p. 34) waarop die aardplate aangedui word, sal jy sien dat van die digsbevolkte areas van die wêreld op van hierdie verskuiwingslyne voorkom. Geweldige lewensverlies kan dus voorkom, indien ‘n aardbewing sou voorkom
In ontwikkelde lande soos Europa, die VSA en Japan kan ‘n aardbewing nog redelik hanteer word en verliese kan geminimaliseer word. Geboue, paaie en brûe word spesiaal ontwerp en gebou om aardbewings te kan trotseer. Hierdie lande se infrastruktuur is uiters goed ontwikkel en daar bestaan doeltreffende gesondheidsorg- en mediese dienste wat onmiddellik beskikbaar is in noodtoestande.
In die ontwikkelende dele van die wêreld is dit egter ‘n ander storie. Baie lewens word geëis en omtrent alle konstruksies word vernietig. Geboue is op die goedkoopste manier gebou en verkrummel eenvoudig onder die krag van n aardbewing. Duisende word dakloos, honger en beseer gelaat. Die infrastruktuur is van so ‘n aard dat hulp nie betyds by die mense kan uitkom nie. Lyke begin ontbind en die drinkwater word besoedel. Dit veroorsaak weer siektes wat die dodetal verhoog.
1. Hoekom besluit mense om te woon in gebiede waar daar aardbewings is? Dink goed hieroor na en gee dan jou eie opinie.
2. Waar sal jy wegkruip as ‘n aardbewing jou omgewing tref?
4. Voorkomende maatreëls: die bestuur van gevare en gevaarvermindering
Kan aardbewings voorspel word?
Ongelukkig is dit nie honderd persent moontlik nie. Tog word intense studies van die aardkors gedoen en sensitiewe instrumente verklik die kleinste beweging wat in die aardkors voorkom.
Wetenskaplikes gebruik spesiale metodes en toerusting, byvoorbeeld seismograwe, om aardbewings te bestudeer en te probeer voorspel. Seismograwe kan enige beweging van die aardkors waarneem. Indien voorskokke voorkom, kan wetenskaplikes bewus word van aktiwiteite in die aardkors en waarskuwings kan betyds uitgereik word. Sekere satelliete is ook in staat om bewegings van die aardkors waar te neem en sodoende kan waarskuwings ook uitgereik word.
Ander “onwetenskaplike“ metodes van waarskuwing kan ook nuttig wees om moontlike aardbewings te voorspel, byvoorbeeld:
Die moontlike suksesvolle voorspelling van aardbewings help dat waarskuwings gegee kan word sodat ontruiming betyds kan geskied. Sodoende word lewensverliese beperk. Of almal na die waarskuwings luister, is natuurlik ‘n ope vraag.
Onthou net – alle aardbewings kan nie voorspel word nie , want dit gebeur te vinnig – sonder enige voorskokke of voortekens.
Verbeel jou jy bly in ‘n area waar daar baie aardbewings voorkom (‘n swak plek in die aardkors).
Stel ‘n lys met noodmaatreëls op wat gedoen kan word voor, tydens en na ‘n aardbewing voorgekom het.
Teken ‘n wêreldkaart af en dui op jou kaart slegs die areas aan waar aardbewings voorkom. Kleur dit dan rooi in.
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 2 |
| AARDRYKSKUNDIGE KENNIS EN BEGRIPDie leerder is in staat om aardrykskundige en omgewingskennis en -begrip te toon. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 2.1 beskryf en verduidelik hoe natuurgevare soos vulkane, aardbewings en oorstromings plaasvind, en die uitwerking daarvan op menselewens en op sosio-ekonomiese bedrywighede [mense en plekke];2.2 ondersoek en verduidelik waarom sommige mense meer as ander aan natuurgevare blootgestel is [mense en hulpbronne];2.3 identifiseer hoe risiko’s en natuurgevare hanteer kan word [mense en omgewing]. |
Aktiwiteit 1:
Die onderwyser moet sorg vir twee ewe dik houtplanke en 7 - 9 boublokke wat uit karton gemaak word. Volg die aanwysings soos uiteengesit in Leereenheid 4, bladsy 5, om die eksperiment uit te voer.
4. Sien uitknipsel oor aardbewings en ontwerp van geboue en voeg hier in as die memo asseblief. Leerders kan ook hul eie opinie gee. (Sien saamgestuurde nota vir antwoord.)
Aktiwiteit 2:
Laat leerders die wêreldkaart afteken. Die onderwyser kan ook ‘n buitelynkaart van die wêreld aan leerders voorsien. Leerders dui in rooi aan waar aardbewingsareas in die wêreld voorkom.
Aktiwiteit 3:
3. Tsoenami’s Die Suid-Asië tsoenami van 26 Desember 2004.
Studente versamel inligting hieroor
Sien webblad http:/iri.Ideo.columbia.edu-lareef/tsunami
Aktiwiteit 4:
1. Hoekom bly mense in dié areas?
2. Wat om te doen tydens ‘n aardbewing.
Daar is baie raad en wyshede hieroor:
Aktiwiteit 5:
1. Noodmaatreëls voor ‘n aardbewing