Inside Collection (Course): Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Graad 7
Na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog in 1902 was daar vier onafhanklike Suid-Afrikaanse provinsies: Kaapkolonie, die twee gewese Boererepublieke Transvaal en die Oranje-Vrystaat en Natal. Elkeen het sy eie parlement gehad. Hulle het in 1910 verenig as die Unie van Suid-Afrika.
a) Die bewind van die twee generaals - Botha en Smuts 1910 tot 1924
Toe die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gekom het, het die drie belangrike partye saamgesmelt en die Suid-Afrikaanse Nasionale Party gestig. Genl. Louis Botha was die eerste minister. Die opposisiepartye het die Unioniste Party gevorm. Beide partye het dit ten doel gehad om die blanke Afrikaans- en Engelssprekendes te verenig en in een Suid-Afrikaanse nasie te laat saamsmelt.
Botha se strewe was om die Engels- en Afrikaanssprekendes te verenig. Hy het dit sy lewenstaak gemaak om die kloof tussen die twee groepe te oorbrug.
Hertzog was ‘n kampvegter vir die Afrikaner se belange.
Die voortdurende wrywing tussen Botha en Hertzog het daartoe gelei dat Hertzog sy eie party, die Nasionale Party gestig het.
b) Wie het die stemreg besit?
Enige manlike burger wat ‘n Britse onderdaan was, was stemgeregtig indien hy:
Hierdie kwalifikasies het die meeste swart mans uitgeskakel al het hulle stamgrond bewoon.
In 1910 was die bevolkingsamestelling in die Unie van Suid-Afrika soos volg:
Watter persentasie was elke bevolkingsgroep van die totale bevolking? Vul die persentasie langs elke bevolkingsgroep in.
Watter persentasie van die mans van elke bevolkingsgroep was stemgeregtig? Vul die persentasie langs elke bevolkingsgroep in.
c) Wet op Naturellegrond (Wet op Grondbesit) 1913
Die belangrikste wet wat in hierdie tyd gemaak is, was die Naturellen Grond Wet wat in Junie 1913 op die wetboek geplaas is. Hierdie wet het aan swart mense hul eie grondgebied toegeken (reservate) en ‘n verbod op die verkoop van blanke grondgebied aan swartes en swart grondgebied aan blankes, geplaas.
Hierdie wet was die gevolg van mense se vrese en bekommernisse oor swart mense wat blanke gebiede binnegedring het. Die groot meerderheid van hierdie swartes was plakkers wat hulle op privaat- en staatsgrond gevestig het.
Dit was die eerste wet in die Unie van Suid-Afrika wat gebiedskeiding tot gevolg gehad het.
d) Die totstandkoming van die ANC
Die South African Native National Congress, die latere African National Congress(ANC), het daarop aangedring dat die wet herroep word. In Februarie 1914 het hulle ‘n afvaardiging na Londen gestuur om by die Britse regering aan te dring dat die wet ongeldig verklaar word, maar sonder sukses want die Britse regering was nie bereid om in Suid-Afrikaanse aangeleenthede betrokke te raak nie.
Hierdie beweging het op 8 Februarie 1912 in Bloemfontein tot stand gekom in ‘n poging om die meerderheid van die swart bevolking as ‘n nasie te verenig en hul regte en vryheid te verdedig.
Bywoners en Deelsaaiers
Na die tweede vryheidsoorlog veral was daar baie wit Afrikaners wat werkloos was. Hulle het as bywoners op blanke plase gebly waar hulle ‘n stuk grond vir hulself kon bewerk.
Groot gedeeltes van blanke plase, in die Vrystaat veral, was onbewerk omdat die boere hulle oorwegend toegespits het op skaap- en beesboerdery. Omdat wit boere traag was om na saaiboerdery oor te skakel, het hulle van die grond aan swart boere gegee om te bewerk in ruil vir ‘n deel van die opbrengs (gewoonlik een-derde). Die swart boere het die ploeë, osse en saad verskaf en dan geploeg, gesaai en geoes.
Hierdie swart boere is deelsaaiers genoem. Hulle het ‘n groot bedreiging vir die wit bywoners ingehou. Die bywoners was traag om bevele te gehoorsaam en hulle was ook onwillig om saam met swart arbeiders op die landerye te werk.
‘n Ander belangrike faktor was arbeid. Op die goudmyne was swart arbeid in groot aanvraag.
e) Wet op Stadswartes 1923
Plakkersdorpe het vinnig in die buitewyke van dorpe opgeskiet. Die dorpe is swak deur munisipaliteite bestuur. Die inwoners het nie veel gekry vir die belasting en heffings wat hulle betaal het nie. Daar was ‘n gebrek aan sanitêre geriewe, en ernstige siektes soos tering het dikwels in hierdie oorbevolkte krotbuurte voorgekom.
Generaal Smuts het besluit dat dit die staat se plig was om ordentlike huisvesting aan die stadswartes te verskaf en die woonbuurte behoorlik te bestuur, anders sou dit ‘n skandvlek op die blanke beskawing wees.
Die swartes sou egter nie eiendomme in hierdie woonbuurte besit nie. Die regering se uitgangspunt dat hulle slegs daar is omdat hulle as arbeidsmag tot beskikking van die blankes moes wees. As hulle arbeid nie meer benodig is nie, moes hulle terugkeer na die reservate.
Deur hierdie twee wette het die regering van die Suid-Afrikaanse Party die hoeksteen van segregasie gevorm.
f) Wet op Myne en Bedrywe 1911
Van die begin af is die werksmag in die mynbedrywighede verdeel in klein groepe van geskoolde en semi-geskoolde wit arbeiders en heelwat groter werksmag van ongeskoolde swart arbeiders. Baie wit werkers het van buite die grense van die land gekom en hul vergoeding was heelwat meer as wat die wit werkers wat burgers van die land was, ontvang het. Die swartes daarenteen was baie laag besoldig.
In die goudmyne is ‘n beleid gevolg om geskoolde en semi-geskoolde wit arbeid te vervang met goedkoper, swart ongeskoolde arbeid.
Die Wet op Mijnen en Bedrijfen (1911) het sekere werksomstandighede en veiligheidsmaatreëls bepaal. Ongelukkig het regulasies wat deur die wet voorgeskryf is ten opsigte van die uitreik van bevoegdheidsertifikate vir sekere beroepe in die myne, mettertyd ook gediskrimineer teen swartmense. Die pakt-regering het geen geheim daarvan gemaak dat hy die blanke mynwerker wou bevoordeel bo die swart werker nie. Die wet is in 1926 sodanig gewysig dat bevoegdheidsertifikate vir sekere beroepe soos masjiniste, opmeters en dinamietskieters tot blankes en kleurlinge beperk is.
In 1907 was slegs 18% van die 18 600 wit mynwerkers nie immigrante nie.
In 1925 was die bruto binnelandse produk R537 miljoen (in 1982 se waarde). Bereken die geldwaarde van die bydrae van elke sektor en skryf dit langs die persentasie.
g) Staatsondernemings
Hendrik van der Bijl
(1887 – 1948)
Hendrik van der Bijl word beskou as die vader van die nywerheidsrewolusie van die twintigste eeu in Suid-Afrika.
In 1920 het genl. Jan Smuts hom die pos van tegniese raadgewer aangebied in die hoop dat hy hierdie briljante jong man ‘n bydrae sal lewer om industrialisasie in Suid-Afrika aan die gang te kry.
Vroeg reeds het Van der Bijl besef dat Suid-Afrika eers oor ‘n elektrisiteitsnetwerk moet beskik voordat ‘n begin gemaak kan word met industrialisasie. Hy het die Elektrisiteitswet opgestel wat gelei het tot die stigting van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (EVKOM) in 1923 wat aan Suid-Afrika krag sou voorsien. Die bates van die maatskappy het in Van der Bijl se lewe dramaties gegroei en het voor sy dood dertigvoudig vermeerder. In 1948 het die onderneming 16 100 mense in diens gehad.
Van der Bijl het besef dat geen land suksesvol kan industrialiseer as hy nie oor twee basiese kommoditeite beskik nie: goedkoop, toeganklike elektrisiteit en goedkoop staal. Op daardie stadium was Suid- Afrika volledig afhanklik van ingevoerde staal uit Brittanje.
In 1928 word die Wet op die Suid-Afrikaanse Yster en Staalkorporasie aanvaar. Van der Bijl was die eerste voorsitter van YSKOR. Die eerste fabriek is buite Pretoria opgerig, en ‘n tweede aanleg is in 1945 in Vanderbijlpark aangelê. Hierdie onderneming is op die vooraand van die Groot Depressie gestig en sy vasberadenheid om die onderneming te laat slaag, het uiteindelik vrugte afgewerp.
Verwerk uit: Hulle het ons eeu gevorm. Kaapstad,Human en Rousseau (pp.334 –338) Artikel deur Pieter Kapp
h) Die regering onder die Nasionale Party
Die Nasionale Party het in 1929 aan bewind gekom. Die regering wou ten alle koste werk vir ongeskoolde en halfgeskoolde werkers skep, selfs ten koste van ander blanke werkers.
Die regering het ‘n onderskeid gemaak tussen twee soorte arbeid:
Daar was dié wat “beskaafde arbeid” verrig het en wat so betaal moes word dat hulle ‘n bepaalde lewenstandaard kon handhaaf.
Daarteenoor was daar “onbeskaafde arbeid”, wat feitlik net deur swart werkers verrig is en aan wie lone betaal is wat slegs in die behoeftes van “barbaarse en onontwikkelde mense” voorsien het.
In die praktyk het dit daarop neergekom dat werk aan wit mense teen hoër lone as dié van swart mense verskaf is.
Die regering het ondernemings aangespoor om wit mense in diens te neem, en ook gestraf, as hulle dit nie doen nie. Die staat het kontrakte toegeken verkieslik aan ondernemings wat slegs blankes in diens geneem het. Die gevolg was dat ondernemings baie ongeskoolde swart arbeiders deur armblankes vervang het.
Die regering het die staatsdiens opdrag gegee om “onbeskaafde arbeid” deur “beskaafde arbeid” te vervang, veral in die spoorweë, wat die grootste werknemer van wit arbeid geword het.
In 1930 was die bevolkingsyfers soos volg:
| Wit bevolking | 1 801 000 |
| Swart bevolking | 5 585 000 |
| Wittes in vervaardiging | 91 024 |
| Swartes in vervaardiging | 90 517 |
In 1934 het die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party saamgesmelt om die Verenigde Party te vorm.
Die vinnige verstedeliking van die swartes en die vinnige toename in getalle het die druk om die Kaapse swart stemreg te verwyder, laat toeneem. Die Wet op Naturelleverteenwoordiging wat in 1936 deurgevoer is, het die swart mense hul stemreg ontneem.
Terselfdertyd het die Naturelle-Trust en Grondgebiedwet voorsiening gemaak dat meer grond vir die reservate aangekoop word. Die reservate het nou 13,5% van die totale landoppervlakte van die Unie van Suid-Afrika uitgemaak.
In 1937 het die Wysigingswet op Naturellewette in wese swartes uit die landelike gebiede verbied om werk in die stede en dorpe te kom soek.
j) Die ekonomiese impak van die Tweede Wêreldoorlog
Die oorlog het ‘n keerpunt in die Suid-Afrikaanse ekonomie teweeg gebring. Groot hoeveelhede oorlogsmateriaal was nodig om die Suid-Afrikaanse troepe mee toe te rus. Dit het die regering aangemoedig om ‘n wye reeks goedere self te vervaardig. Groot industriële staatsondernemings soos die Spoorweë, die myne die Munt en Yskor het in ‘n hoë mate oorgeskakel na die produksie van oorlogsmateriaal.
Uiteindelik het Suid-Afrika nie alleen sy eie magte nie, maar ook sy bondgenote met wapentuig toegerus, ondermeer tenkafweerkanonne, ammunisie (18 miljoen patrone per maand), mortierbomme, geweeronderdele, ens.
Verskeie private firmas is ook aangemoedig om hulle vir die vervaardiging van krygstuig in te rig.
Suid-Afrika het nou omgeskakel van ‘n mynbou-ekonomie na ‘n oorwegend vervaardigingsekonomie. Die oorlog het ook die invoer van goedere soos mynboumasjinerie bykans onmoontlik gemaak. Die land het dus geen keuse gehad as om self die goedere te vervaardig wat nywerhede nodig gehad het.
Na afloop van die oorlog was die Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedryf nie alleen in staat om verbruikersgoedere op groot skaal te vervaardig nie, maar ook om die masjinerie te bou om hierdie goedere te vervaardig.
Gedurende die oorlog het ‘n grootskaalse industriële uitbreiding plaasgevind in ‘n tyd toe baie geskoolde wit werkers in die weermag was. Gevolglik is swart en bruin arbeid toenemend gebruik in die plek van die wit werkers. Vroue van alle rasse is ook toenemend toegelaat tot die arbeidsmark.
k) Die algemene verkiesing in 1948
Die Nasionale Party het in 1948 aan bewind gekom met ‘n klein meerderheid van vyf setels. Onder leiding van dr D.F. Malan, die eersteminister, is die Suid-Afrikaanse samelewing geherorganiseer volgens die ideale van Afrikaner-nasionalisme.
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 2 |
| VOLHOUBARE GROEI EN ONTWIKKELINGDie leerder is in staat om begrip van volhoubare groei, heropbou en ontwikkeling te toon en om krities oor die verwante proses na te dink. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder die volgende doen: |
| 2.1 inligting versamel oor die invloed van ekonomiese beleidsrigtings tydens apartheid op eienaarskap, armoede, welvaart en gehalte; |
2.2 identifiseer stappe om sosio-ekonomiese wanbalanse en armoede reg te stel:
|
Wanneer die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika bespreek word, moet verseker word dat die leerders die begrip unie verstaan. Die verklarende woordeboek beskryf dit as ‘n verbond of vereniging, met ander woorde ‘n samekoms van. . . , groep . . . in hierdie geval vier voormalige kolonies en republieke (staatkundige eenhede) wat saamgesmelt het as ‘n unie met een sentrale regering. Maak gerus ‘n transparant van die diagramme en gebruik dit om die les toe te lig.
Wys daarop dat vrouens nie stemreg gehad het nie. Laat die leerders by hul ouers uitvind wat die stemregkwalifikasies tans is.
Aktiwiteit 1
Tel die vier bevolkingsgetalle bymekaar = 5 899 000
Aktiwiteit 2
Totale aantal stemgeregtigdes = 619 900
Aktiwiteit 3
____
100% = 18 600 wit mynwerkers
1% = 18 600 gedeel 100 = 186 wit mynwerkers
18% = 186 wit mynwerkers x 18% = 3 348 wit Suid-Afrikaners
82% = 186 wit immigrante x 82% = 15 252 wit immigrante
Aktiwiteit 4
21% + 16.2% + 7.8% = 45%
45% = R537 000 000,00
1% = R11 933 333,00
Bruto binnelandse produk: Totale geldwaarde van die opbrengs van hierdie sektore in een jaar.
Aktiwiteit 5
Totaal van wit en swart bevolking: 7 386 000
Totaal van blankes en swartes in die vervaardigingsbedryf: 181 541
‘n Kwart van die land se bevolking was blankes en hulle het die helfte van die poste in die vervaardigingsbedryf beklee. Die vraag kan aan die leerders gevra word: Watter persentasie was “beskaafde arbeid” en watter persentasie was “onbeskaafde arbeid”? Laat hulle die vraag in die klas bespreek.