Om die term wins te verduidelik en toe te pas
| LU 3.2 | ||||
Die aard van wins
Wins kan gesien word as die verskil tussen ’n onderneming se inkomste en uitgawes.
Dit is die oorskot van inkomste wat verdien is bo die uitgawes wat aangegaan is om die inkomste voort te bring.
Enige persoon wat ’n onderneming begin se hoofdoelwit is om maksimum wins te realiseer. Hierdie wins kan gesien word as die eienaar se vergoeding vir die gebruik van sy kapitaal. Die wins wat hy maak, moet beduidend meer wees as die rente wat hy sou verdien indien hy hierdie geld in die bank sou belê.
Dit is dus belangrik dat die onderneming op so ’n manier bestuur word dat ’n goeie opbrengs op die eienaar se kapitaalbelegging in sy onderneming verseker word.
Die bepaling van wins
Ten einde die wins te bepaal, word sekere inligting omtrent die onderneming benodig. Dit word verkry uit ’n staat wat gewoonlik aan die einde van die finansiële jaar opgestel word. Die staat bevat die inkomste wat gedurende ’n sekere periode verkry is, asook die uitgawes wat aangegaan is om die inkomste voort te bring. Hierdie staat word ’n Inkomstestaat genoem.
Vir winsbepalingsdoeleindes kan ondernemings volgens die aard van hul aktiwiteite, in twee hoofgroepe verdeel word naamlik:
Diensondernemings lewer ’n diens en verkry sodoende ’n inkomste, byvoorbeeld haarkappers, loodgieters, droogskoonmaakondernemings, mediese praktisyns, tandartse, ensovoorts.
Handelsondernemings koop handelsware aan en verkoop dit teen ’n hoër bedrag as die aankoopprys om sodoende ’n wins te maak.
Die wins van hierdie ondernemings kan deur ’n eenvoudige aftreksom bepaal word,naamlik:
Om strategieë vir die versekering van goeie wins op opbrengs te bespreek
| LU 3.2 | ||||
Goeie leierskap en bestuurstrategieë sal daarop gerig wees om die onderneming se uitgawes so laag as moontlik te hou en terselfdertyd maksimum inkomste te realiseer.
Dit kan onder andere gedoen word deur streng kontrole oor uitgawes soos telefoon, water en elektrisiteit, vervoerkoste, skryfbehoeftes en advertensies uit te oefen. Dié uitgawes moet maandeliks vergelyk word en indien daar ’n beduidende afwyking voorkom, moet die oorsaak opgespoor en reggestel word.
Terselfdertyd moet gepoog word om die inkomste so hoog as moontlik te hou.
In die geval van ’n diensonderneming moet uitmuntende diens te alle tye gelewer word omdat tevrede kliënte die beste advertensie vir enige onderneming is.
By handelsondernemings moet die laagste moontlike aankoopprys en die hoogste moontlike verkoopprys beding word. By die bepaling van die verkoopprys moet ondernemings wat in dieselfde produkte handel dryf se verkooppryse in aanmerking geneem word.
’n Kleiner winsgrens op die korttermyn kan moontlik ’n meer standhoudende wins op die langtermyn verseker.
Die waarde van advertensies en bemarkingsveldtogte moet nie onderskat word nie. Aangesien dit egter baie duur kan wees moet die voordeel daarvan teen die koste opgeweeg word.
Leierskap en bestuurstrategieë wat gerig is op die verkryging van goeie opbrengste moet ingestel wees op die korttermyn, maar ook die toekoms van die onderneming oor die langtermyn in aanmerking neem. Die primêre doelwit is dus om ’n redelike wins te verdien en ’n gesonde finansiële toestand in die onderneming te handhaaf.
Groepsopdrag:
Om transaksies op te teken en eienaarsbelang en wins te bereken
| LU 3.2 | ||||
Transaksies van Dixon Droogskoonmakers, eienaar D. Dixon.
1 D. Dixon het ’n besigheid begin met die naam, Dixon Droogskoonmakers, deur R50 000 in die onderneming se lopende bankrekening te deponeer.
2 Betaal die munisipaliteit per tjek 001 vir ’n handelslisensie, R500.
3 Huur ’n gebou van Ena Eiendomme en betaal per tjek 002, R1 000.
4 Koop ’n afleweringsvoertuig van Rennie Motors en betaal per tjek 003, R52 000.
5 Koop skryfbehoeftes aan van Skryfbehoeftes Bpk. en betaal per tjek 004, R70.
6 Reik tjek 005 uit aan Skoonmaak Materiaal Verspreiders vir skoonmaakmateriaal, R500.
7 Kontant ontvang vir dienste gelewer volgens kasregisterrol, R3 520.
8 Betaal die telefoonrekening aan Telkom per tjek 006, R180.
9 Reik tjek 007 uit aan Elkie Handelaars vir toerusting aangekoop, R15 000.
10 Betaal die munisipaliteit R600 per tjek 008 vir water en elektrisiteit.
11 Wissel kontanttjek 009 vir R900 vir die betaling van lone.
12 Kontant ontvang vir dienste gelewer volgens kasregisterrol, R2 100.
13 Koop ’n industriële droogskoonmaakmasjien vir die lewering van dienste vanaf Industrial Bpk. en betaal per tjek 010, R3 000.
14 Kontant ontvang vir verhuring van ’n gedeelte van die gebou, R2 500.
Tabel vir boekstawing van Dixon Droogskoonmakers se transaksies
(a) Toon aan wat die effek van die transaksies op die bates en eienaarsbelang sal wees.
(b) Bepaal die totale inkomste.
(c) Bepaal die totale uitgawes.
(d) Bereken die wins.
| (a) | NOMMER | BATES | EIENAARSBELANG | |
| (b) | ||||
| (c) | ||||
| (d) | ||||
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 3 |
| Bestuurs-, Verbruiker- en Finansiële Kennis en VaardighedeDie leerder is in staat om kennis en die vermoë te toon om verskeie bestuurs-, verbruikers- en finansiële vaardighede toe te pas. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Ons weet dit as die leerder: |
| 3.1 tussen finansiële begrippe onderskei wat in die sakewêreld gebruik word (bv. vaste bates, bedryfsbates, laste, eienaarsbelang); |
| 3.2 leiers- en bestuurstrategieë wat ‘n opbrengs uit beleggings sal verseker ontwikkel; |
| 3.3 brondokumente (bv. kwitansies, depositostrokies, tjeks) kan invul en rekord hou van elementêre kontanttransaksies in ‘n staat van ontvangste en betalings; |
| 3.4 toetsbordvaardighede en funksietoetse gebruik om basiese inligting te ontwikkel, te bewaar en te herwin; |
| 3.5 die begrip netto waarde verduidelik en ontleed ‘n staat daarvan; |
| 3.6 die verskillende metodes om te spaar ondersoek en te belê (bv. spaarrekenings, vaste deposito’s, aandele, effektetrusts), en bereken opbrengste uit ‘n verskeidenheid beleggings. |