MUSIEK
Aktiwiteit 1:
Om te analiseer hoe musiek gebruik word om reaksie te ontlok
[LU 2.3, 2.10]
Kan jy jouself ‘n fliek sonder klank voorstel? Bykans onmoontlik, aangesien dit juis die musiek is wat daartoe bydra dat jy soms ‘n traan wegpink of lus voel vir dans!
In hierdie module gaan ons ondersoek hoe die musiek in rolprente gebruik word om reaksie by die fliekganger uit te lok. Soos dit die skrywer van die draaiboek se taak is om ‘n geskikte verhaal te skep, moet die komponis die gepaste musiek skep.
As inleidende agtergrond gaan ons eers die ontwikkeling van die rolprent as sulks ondersoek om die funksie van musiek te bepaal. Jy kan gerus die navorsing wat reeds in Leereenheid 1 (Dans) gedoen is, in gedagte hou!
Navorsing oor die ontwikkeling van die rolprent
Die klas word verdeel in vyf groepe: elke groep doen navorsing oor EEN van die volgende eras t.o.v. tegnologie, genres, musiek en voorbeelde van rolprente.
Hierdie navorsing is bloot om ‘n breë oorsig te verkry en hoef dus nie in diepte gedoen te word nie. Die opvoeder sal julle lei. Julle sal ‘n klasbespreking hou oor die verskillende eras - plak dan die inligting in jou leerderjoernaal.
Hoe musiek gebruik word om reaksie uit te lok
Soos jy uit die bespreking kan aflei, vorm musiek ‘n essensiële element van enige rolprent. Dit wat aanvanklik bloot ‘n begeleiding vir ‘n visuele produk tydens die era van die stilprent was (om die geraas van die spoele wat omgeruil word te demp!), is vandag ‘n wesenlike deel van die vermaak.
Dit verhoog die kyker se emosionele reaksie op die rolprent.
Dit dien as advertensie en inkomste.
Stap 1
Om vas te stel of rolprentmusiek volgens jou klas wel belangrik is, moet jy indiwidueel die onderstaande vraelys voltooi deur die antwoord te omkring.
Na voltooiing kan julle die vraelys bespreek en sienings vergelyk.
| Het jy enige CD’s met rolprentmusiek? | Nee | Ja | Gereeld |
| Wat het die deurslag gegee om die CD aan te skaf: die rolprent, die kunstenaar of beide? | Film | Kunstenaar | Beide |
| Luister jy graag na al die snitte op die CD of slegs na enkeles? | Almal | Enkeles | Net een |
| Ervaar jy enige emosie wanneer jy na die spesifieke snitte luister? | Ja | Nee | Soms |
| Hoe goed kan jy die tonele uit die rolprent onthou wat deur die musiek beklemtoon word? | Baie duidelik | Redelik goed | Vaagweg |
| Dink jy die rolprent het die kunstenaar hiermee bemark, of sou jy eerder sê dit is a.g.v. die kunstenaar dat die rolprent gewild is? | Film | Kunstenaar | Beide |
Stap 2
Maak nou ‘n opname van die gewildste rolprentmusiek in jou klas.
Maak ‘n lys van die rolprente van 1 tot 5 en meld ook die genre van elke rolprent (bv. drama, gruwel, romanse, wetenskapsfiksie, ens). Waarom is hierdie rolprente die gewildste? Bespreek.
| Rolprent | Genre | |
| 1. | ||
| 2. | ||
| 3. | ||
| 4. | ||
| 5. |
Stap 3
| * ‘n Ramp | ** Skaflik | *** Goed | **** Uitstekend | ***** ‘n Meesterstuk |
As musiekresensent vir FLIEK-MUSIEK-RUBRIEK moet jy die musiek van ‘n rolprent op bostaande skaal klassifiseer en resenseer.
Hierdie aktiwiteit kan individueel of in groepe gedoen word.
Kies ‘n rolprent van jou keuse óf
Kies ‘n rolprent uit die era wat die opvoeder aan jou toesê.
Skryf ‘n resensie oor die musiek van óf die hele rolprent óf ‘n spesifieke toneel.
Analiseer hoe die musiek in die rolprent (of toneel) gebruik word om reaksie by die gehoor te ontlok.
Gebruik die gegewe musiekelemente en komposisietegnieke as riglyn – nie noodwendig almal nie.
Jou opvoeder sal jou lei.
Vir idees omtrent die uitleg van jou resensie kan jy tydskrifte, koerante en die Internet raadpleeg.
Plak die resensie in jou leerderjoernaal.
Musiekelemente
1. Styl/genre(zjaan’-re)
Watter tipe musiek word gebruik? (Klassiek, Rock, Avant-garde, Kerkmusiek, Blues, Jazz, Afrika, Gospel, ens.)
Pas dit by die genre van die rolprent, bv. aksie, drama, avontuur, wetenskap- fiksie, fantasie, oorlog, Wilde Weste, ens.?
2. Tema, melodie
Is daar enige hooftemas?
Word dit met spesifieke karakters (of gebeure/ situasies) verbind?
3. Ritme en tempo
Is die musiek vinnig of stadig? Is daar kenmerkende ritmepatrone?
4. Harmonie en toonsoort
Is die musiek tonaal (in ‘n majeur- of mineur toonsoort) of atonaal - (geen toonsoort) bv. enige tone in enige opvolging)?
5. Instrumentasie en orkestrasie
Instrumentasie: Is dit vokaal of instrumentaal? Is dit elektroniese musiek? Watter instrumente word gebruik vir spesifieke karakters en situasies? Orkestrasie: Hoe word die instrumente gekombineer?
6. Tekstuur
Beskryf die tekstuur: dig, yl, grof, glad, besig, skerp, krakerig, syagtig, dor (bar), fluweelagtig, ineensmeltend, ens.
7. Timbre (Tam’bre)
Beskryf die klankkleur: warm, koud, spokerig, weergalmend, klingelend, helder, deurdringend, nabootsend, dof, metaalagtig, ens.
8. Dinamiek en uitdrukking
Beskryf die intensiteit van die klank? Hard of sag; vrolik of hartseer; ens.
9. Vormstrukture
Is daar enige vormstruktuur? AB, ABA, vers en refrein, ens.
10. Enkele komposisietegnieke
Watter tegnieke word gebruik?
Voorbeelde van tegnieke is, onder andere, herhaling, nabootsing, sinkopasie, transformasie, ens.
Stap 4
Hou ‘n klasbespreking en deel jou analise met die res van die klas. Lig dit toe met ‘n video (of CD) -opname van die rolprent.
Nabetragtingsvrae
Dink oor jou navorsings-, analiserings- en aanbiedingsproses en beantwoord die volgende vrae:
1. Watter hulpbronne het vir jou die meeste beteken in jou navorsing?
2. Was die inligting wat jy gekry het akkuraat en insiggewend? Waarom/waarom nie?
3. Het hierdie benadering jou gehelp om die doel, funksie en ontwikkeling van rolprentmusiek beter te verstaan?
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 2 |
| REFLEKSIEDie leerder kan krities en skeppend op kuns- en kultuurprosesse, -produkte en -style in vergange, asook huidige kontekste reflekteer. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| GESAMENTLIK |
| 2.3 kan analiseer hoe kulture mekaar affekteer en hoe hulle verandering ondergaan; |
| 2.4 die rol wat tegnologie in die vorming van prosesse en produkte in drama, dans, musiek en kuns oor die tyd heen gespeel het, kan analiseer; |
| 2.5 die begrippe mag, kontrole en dominering in massamedia- en volkskultuurverband kan bespreek en vertolk; |
| DANS |
| 2.7 besin en vergelykings tref oor hoe sosiale danse hulle tyd weerspieël; |
| DRAMA |
| 2.8 die positiewe en negatiewe effekte van televisie, radio, dokumentêre programme of rolprente op ons lewens kan analiseer; |
| 2.9 ‘n resensie oor ‘n plaaslike of ander dramaproduksie kan skryf, met verwysings na konvensies van die opvoer en elemente van drama; |
| MUSIEK |
| 2.10 die wyse waarop musiek in liedjies, rituele, publieke gebeure, rolprente, opera of advertensies gebruik word om reaksies te ontlont, kan analiseer; |
| VISUELE KUNSTE |
| 2.11 die invloede en omstandighede wat die ontwikkeling van ‘n Suid-Afrikaanse, Afrika- of internasionale kunstenaar uit die verlede of hede bepaal, kan ondersoek en verduidelik. |