Inside Collection (Course): Ekonomiese en Bestuurswetenskappe Graad 5
Suid-Afrika is ‘n demokratiese land. Dit beteken dat alle burgers gelyk is – almal is ewe belangrik. Dit was egter nie altyd die geval nie. Voor 1994 was daar wette in Suid-Afrika wat bepaal het dat mense volgens ras in sekere gebiede moes woon en die kinders moes ook volgens hierdie beginsel na sekere skole en opvoedkundige instansies gaan. In hierdie bestel het sekere groepe meer finansiële steun van die regering ontvang en is hul lewenskwaliteit direk daardeur beïnvloed.
Bespreek in jul groepe:
Dink julle dit is regverdig dat sekere groepe bo ander bevoordeel word? Dink julle dit gebeur vandag nog in Suid-Afrika?
[LU 1.2]
Ons gaan in module 2 ‘n deeglike studie maak van lewenskwaliteit binne bepaalde gemeenskappe.
Om alle landsburgers, waarvan jy een is, se regte te beskerm, is daar ‘n stel reëls geformuleer - DIE GRONDWET. Die polisie help om te probeer verseker dat almal binne hierdie stel reëls lewe, want dit bied aan ons beskerming.
REGTE VAN MISDADIGERS BELANGRIK
Geluk aan Alex Carmichael met sy oorwinning oor, onder andere, die polisie, aangaande die regte van slagoffers van geweld en misdaad. Dit is hoog tyd dat iemand iets doen omtrent die regte van die talle mense wat aan die ontvangkant is van die optrede van tiranne en mense wat die regte van andere vertrap. Deesdae lyk dit asof slegs hierdie mense regte en voorregte het, en nie hulle slagoffers nie.
Ons leef in ‘n siek samelewing as gevolg van die verrotting in ons gemeenskappe. Lewe is goedkoop – menselewens het minder waarde as dié van slagdiere. Oortreders word soms vir ‘n kort rukkie tronk toe gestuur waar hulle kos, klere en mediese sorg ontvang, want dit is hulle reg – daarvoor betaal die slagoffer ook deur middel van inkomstebelasting. Dikwels doen die slagoffer ernstige beserings op, of die gesin se broodwinner word vermoor, wat dan die gesin op die rand van hongersnood bring. Die oortreders behoort die slagoffers finansieel vir hulle wandade te vergoed. Miskien moet ons ‘n vakbond stig wat sal omsien na die belange van die slagoffers van geweld en misdaad sodat geregtigheid kan seëvier.
Peter Barton
Plumstead
(Vertaal uit Engels)
Kyk of julle self ook koerantberigte en/of artikels kan opspoor waar een van die regte/reëls in die lys op die vorige bladsy verbreek is. Julle opvoeder sal dit met julle in die klas bespreek.
Onthou – jy is ook ‘n landsburger en het ook regte wat deur ander gerespekteer moet word.
Aan die opvoeder:
Maak ‘n lys van vier regte waarop u voel leerders in u skool geregtig is. Bespreek dit met die klas en stel dan met hulle hulp een lys vir die hele klas saam.
[LU 1.1]
Een van die grootste verantwoordelikhede wat ons teenoor ons land het, is om te help met die instandhouding van alle fasiliteite soos paaie, sekere geboue en ontspanningsgeriewe, asook dienste soos onderwys, gesondheid en vele meer. Dit kos geld om hierdie fasiliteite en dienste in ‘n goeie toestand te hou en daarom moet elke landsburger wat ‘n inkomste verdien, belasting betaal.
Afgesien daarvan dat mense jaarliks belasting op hul inkomste en eiendom moet betaal, betaal ons almal ook belasting op byna alles wat ons koop.
T CASH DEALERS
![]() |
Opdrag
Hoe word die belasting op hierdie strokie aangedui?
Waarom dink jy is daar sekere items waarop daar nie belasting gehef word nie?
Waarom is dit belangrik dat alle landsburgers belasting betaal?
Hoe sal dit ons lewenstandaard beïnvloed, indien mense nie belasting betaal nie?
Wat is tans die persentasie belasting wat toegevoeg word op belasbare items?
[LU 1.4]
Kyk of jy die belasting op die volgende items kan bereken met behulp van jou sakrekenaar:
Tekkies @ R195 → ___________
Rekenaar @ R5 600 → ___________
Nuwe skooltas @ R60 → ___________
Posbus 171
KURUMAN
8460
Tel. 891 5555
Kliënt: ____________________________
Adres: ____________________________
____________________________
Aantal: 4 205/60 Goodyear buitebande…..R1 540,00
Kwotasie aanvaar: ______________________
Pryse sluit BTW uit
Daar is geen belasting by hierdie kwotasie ingesluit nie. Die bedrag wat die kliënt dan uiteindelik sal betaal, is die gekwoteerde bedrag plus die belasting wat daarby gevoeg moet word. So word baie mense dikwels gevang, want op groot bedrae maak die persentasie belasting wat toegevoeg word, ‘n baie groot verskil aan die oorspronklike gekwoteerde bedrag.
Daarom probeer die meeste besighede om dit so maklik as moontlik te maak vir hul kliënte deur die belasting uit die staanspoor by alle pryse te voeg sodat die kliënte van die begin af presies weet wat die artikel uiteindelik sal kos.
Almal droom drome – soos van jou eerste salaristjek en wat jy alles daarmee gaan koop. Ons fantaseer oor ons droommotor, daardie oorsese reis en jou droomhuis waarin jy eendag wil woon. Wanneer jy jou oë oopmaak, is jy egter nog steeds ‘n tiener.
Hoe voel jy oor die huidige kwaliteit van jou lewe. Is jy tevrede daarmee en wat sou jy graag wou verander? Watter faktore, dink jy, beïnvloed jou huidige lewenstandaard en wat kan jy doen om dit te verander/verbeter? Dink jy daar is ‘n kans dat jou drome waar kan word? Waarom?
Skryf ‘n paragraaf of twee waarin jy jou bestaan aan die hand van bogenoemde riglyne omskryf.
[LU 1.1]
LU 1
DIE EKONOMIESE KRINGLOOP
Die leerder is in staat om kennis en begrip van die ekonomiese kringloop binne die konteks van “die ekonomiese probleem” te toon.
Dit is duidelik wanneer die leerder die volgende doen:
1.1 onderskei tussen verskillende vlakke van behoeftes en verduidelik hoe daar daarin voorsien kan word;
1.2 identifiseer en beskryf die staat se rol in die gebruik van hulpbronne en dienste;
1.4 onderskei tussen direkte belasting (bv. Inkomstebelasting) en indirekte belasting (bv. BTW, belasting op brandstof)
Laat gesprek toe waar nodig ten einde sinvolle response te formuleer