Inside Collection (Course): Kuns en Kultuur Graad 5
DRAMA
AKTIWITEIT 1
OM ONTSPANNINGS-, ASEMHALINGS- EN RESONANSIE-OEFENINGE UIT TE VOER: DIE OPWARMING
[LU 1.5]
Voordat ons met ons dramaklasse gaan begin, moet jy eers ontspanne en opgewarm wees. Is jy gereed? Kom ons begin. Jou opvoeder sal jou deur die volgende oefeninge lei en verduidelik waarom jy dit doen.
Ons doel is om ‘n toestand van ontspanning te skep waarna jy jou drama-aktiwiteite gemakliker kan uitvoer, vryer wees met jou bewegings, inhibisies oorkom en meer gemaklik tussen jou klasmaats kan wees.
Ontspanningsoefening 1:
Staan met jou voete van mekaar af.
Strek na bo met jou vingerpunte, handpalms na voor en vingers uitgesprei.
Probeer die plafon raak.
Verbeel jou daar is ‘n draad aan elke vinger vas en aan die kroon van jou kop.
Jy word opgelig deur die draad totdat jy op jou tone staan.
Voel hoe jou liggaam langer word.
Hou hierdie posisie vir tien tellings.
Verbeel jou dat iemand die drade skielik sny.
Jou hande, gewrigte, arms, kop en skouers sal vinnig sak.
Laat jou arms los langs jou sye hang.
Laat jou kop sak.
Merk op hoe gemaklik jou spiere voel nadat die spanning verdwyn het.
Laat jou kop en arms vir ’n oomblik hang.
Kom stadig weer orent.
Ontspanningsoefening 2:
Strek met jou vingerpunte en die kroon van jou kop na bo.
Beur opwaarts so veel as wat jy kan.
Hou die opwaartse strek vir ‘n oomblik.
Ontspan jou hande, arms, kop, nek en bolyf.
Sak ineen.
Laat jou arms los voor jou bene hang.
Hang afwaarts in hierdie posisie vir ‘n paar oomblikke.
Rol jou bolyf na links.
Sak na regs.
Sak vorentoe.
Rol die bolyf in ‘n sirkel ‘n paar keer.
Draai anderkant toe.
As jy jou stem reg wil gebruik en die selfvertroue wil hê om dit goed te kan doen, is asemhalingsoefeninge die regte ding om te doen!
Asemhalingsoefening:
Staan gemaklik en regop.
Plaas die agterkante van jou hande op jou lae-ribbes.
Maak seker jou arms is uit en skouers is ontspanne.
Tel (nie hardop nie) 1 – 2 – 3 terwyl jy deur jou neus inasem en voel hoe jou ribbes uitdy.
Moenie te veel lug inasem nie.
Laat jou kakebeen oopval (tong plat, punt van jou tong agter jou onderste tande).
Asem uit deur jou mond terwyl jy weer 1 – 2 – 3 in jou kop tel.
Voel hoe die lug deur jou mond vloei.
Vermeerder die in- en uitaseming deur elke keer een telling by te voeg totdat jy tien bereik het.
Herhaal ses keer.
Resonansie is die klank wat deur jou liggaam gemaak word. Dit is jou stem. Stem is die algemene klank van die vibrerende stembande geresoneer in die holtes van jou kop, keel en borskas.
Met hierdie oefening moet jy streef om jou borskasholte te vergroot om sy funksie van resonansie vir die stem te verbeter.
Resonansie-oefening:
Plaas die agterkante van jou hande op jou lae-ribbes.
Asem stadig in deur jou neus terwyl jy in jou kop 1 – 2 – 3 – 4 – 5 tel.
Laat jou kakebeen oopval.
Rond en druk jou lippe vorentoe soos wanneer jy ‘n oo-klank sal maak.
Onthou om jou kakebeen oop te hou.
Blaas vyf kort sterk asems deur jou ronde lippe uit en probeer jou asem aan die ander kant van die klas blaas.
Voel hoe die krag van die uitgaande asem gehoor word aan die ander kant van die klas.
Herhaal ses keer.
Herhaal die oefening met ‘n klank terwyl jy uitasem.
Herhaal ses keer.
Opwarmingsoefeninge sal jou in staat stel om te reageer, vry van onnodige spanning, binne ‘n reeks energieke en plesierige situasies.
Opwarmingsoefening:
Plaas stoele langs een muur van die klas of skoolsaal om ‘n lang doolhof te vorm.
Maak seker daar is genoeg plek vir jou om deur die doolhof te loop sonder om aan ‘n stoel of die muur te raak.
Verbeel jou die stoele en die area buite die doolhof is geëlektrisifeer.
Werk in pare, A en B.
A is blind, so hy/sy moet sy/haar oë toehou of geblinddoek word.
B is stom en moet A fisies deur die doolhof lei sonder om geskok te word.
Die pare moet mekaar deur die doolhof volg en seker maak dat daar genoeg ruimte is om nie in mekaar vas te loop nie.
Soos jy uit die doolhof kom, moet jy stil gaan sit en na die ander kyk soos hulle hulle pad deur die doolhof vind.
AKTIWITEIT 2
OM TE REAGEER OP VERSKILLENDE STIMULI IN DRAMATIESE SPELETJIES EN OEFENINGE: SPELETJIES
[LU 1.6]
Na die opwarmingsoefeninge is jy gereed om met die drama-aktiwiteite te begin. Vandag gaan ons speletjies speel. Ja, drama is baie pret!
Oefening 1: Tasbare boks
Jou opvoeder sal ‘n kartondoos voorsien met voorwerpe daarin.
Die inhoud sal artikels bevat soos ‘n sleutel, ‘n kers, wasgoedpennetjie, potlood, ens.
Daar sal net een van elke artikel in die boks wees.
Die sykante van die boks sal toe wees, maar daar sal ruimte wees vir ‘n hand om tussen die kante in die boks te glip, maar niemand mag die inhoud van die boks kan sien nie.
Die boks word in die middel van die speelarea geplaas.
Jy moet aan die ver kant van die boks kniel met jou gesig na die ander leerders toe, wat dan moet dophou of jy nie in die boks kyk as jy jou hand in die boks steek nie.
Jy moet ‘n artikel identifiseer deur net daaraan te vat.
Los die artikel in die boks en haal jou hand uit.
Mimiek die artikel en die gebruik daarvan vir die klas.
Die ander leeders moet dan uitroep wat die artikel was.
As hulle nie reg raai nie, moet die mimiekaksie herhaal word.
Jy moet probeer onthou watter artikels al geïdentifiseer is en dan daardie artikels vermy, m.a.w. jy sal ‘n klomp verskillende artikels moet identifiseer d.m.v. aanraking voordat jy ‘n artikel vind wat nog nie mimiek is nie.
Oefening 2: Ontmoetings
Jou opvoeder sal aan jou ‘n karakter toeken om te karakteriseer.
Niemand mag weet watter karakters die ander gaan karakteriseer nie.
Vorm groepe van drie, nie meer as vier nie.
Maak jou karakter aan die ander lede van die groep bekend.
Julle moet ‘n kort toneel beplan, ‘n situasie uitdink, ontwikkeling beplan, dialoog en ‘n slot inwerk.
Jy mag onder geen omstandighede gedurende die toneel die karakters se temperament of beroep noem nie.
Teen die einde van elke kort toneel moet die leerders in die speelarea bly, terwyl die ander leerders probeer raai wat elke speler uitgebeeld het.
Die spelers word nie toegelaat om te sê wat of wie hulle was nie; hulle moes dit net gewys het.
Oefening 3: Die oorname
Jou opvoeder sal ‘n aantal items (enige items) in die middel van die speelarea plaas.
Ondersoek die artikels.
Hierdie artikels kan gebruik word in ‘n kort toneel, soos hulle is, of as iets anders.
Bly in die groepe van die vorige oefening .
Jy het vyf minute vir voorbereiding.
Jou opvoeder sal na ‘n groep wys om hulle toneel met hulle artikels op te voer.
Sy/hy sal dan na ‘n ander groep wys om in die vorige groep se toneel in te beweeg en oor te neem – die eerste groep moet die tweede groep toelaat om hulle toneel, hulle ruimte en hulle artikels oor te neem, en moet dan wegbeweeg van die speelarea terug na hulle plekke in die sirkel.
Die oorgange moet egalig en vinning gebeur.
Om die ‘oorname’ te inisieer, kan die opvoeder musiek speel, op ‘n fluitjie blaas, hande klap, roep, op ‘n musiekinstument speel, ens.
AKTIWITEIT 3
OM SENSORIESE DETAIL EN EMOSIONELE UITDRUKKING IN DRAMATIESE AKTIWITEITE TE GEBRUIK: VOORWERPE EN SENSASIES
[LU 1.7]
Die doel van hierdie aktiwiteit is om te streef na helderheid van kommunikasie, sonder spraak, deur gebruik te maak van grafiese beweging. Moenie bekommerd raak nie, ons speel nog steeds!
Oefening 1: Kyk daarna
Dink aan iets lewendigs of leweloos waarna jy kan kom kyk in die speelarea.
Jy mag nie daaraan raak of daarmee toneelspeel nie, net kyk en reageer.
Jy moenie die oefening aanpak voordat jy ten volle voorbereid is om die voorwerp duidelik te visualiseer nie.
Die ander leerders moet dan die reaksies van die leerder in die speelarea kan ‘lees’.
Na elke visualisering moet die leerders raai wat die voorwerp was.
Oefening 2: Sensasies
Kies een van die sintuie om op te voer:
Gebruik jou gesigsuitdrukking sowel as jou liggaam om die sintue uit te druk.
Oefening 3: Voorwerpe en Sensasies
In julle groepe, skep ‘n kort toneel deur Oefeninge 1 en 2 te kombineer.
Julle mag net een voorwerp gebruik.
Julle mag soveel sintuie as wat julle wil, gebruik.
Voer die toneel vir die klas op.
Lewer kommentaar oor elke opvoering.
Kies ‘n ‘wen-toneel’ na afloop van die opvoerings.
LU 1
SKEPPING, INTERPRETERING EN PRESENTERINGDie leerder kan in elk van die kunsvorme skep, interpreteer en werk presenteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
DRAMA
1.5 eenvoudige ontspannings- en asemhalingsoefeninge onder leiding van die onderwyser kan doen wanneer opgewarm en afgekoel word;
1.6 regeer op gehoor-, mondelinge, visuele, tasbare en bewegings-stimuli gedurende drama-oefeninge en –speletjies;
1.7 gebruik maak van sintuiglike detail en emosionele uitdrukking in drama-aktiwiteite soos eenvoudige mimiek om gewig, grootte en vorm aan te dui.