Inside Collection: Afrikaans Huistaal Graad 5
AKTIWITEIT 1
OM LUIDLEES DUIDELIK UIT TE VOER
[LU 3.1.2]
Lees die onderstaande gedeelte eers in julle groepe aan mekaar voor. Probeer om uiting te gee aan die vriendelike toon van die leesstuk en om teen die regte spoed te lees. Kies dan een leser uit elke groep om dit aan die klas voor te lees.
Dit is Dinsdagmiddag en Tania staan in die ry in die poskantoor en wag haar beurt af om bedien te word. Haar ma stuur haar dikwels poskantoor toe en dus weet sy wat om te doen en wat om te verwag. Dit is nie meer vir haar ma nodig om saam met haar poskantoor toe te gaan nie. Sy hou die elektroniese aanwyser bokant die toonbank dop. Elke keer wanneer die poskantoorklerke gereed is om die voorste persoon in die ry te bedien, flits die elektroniese bord: Toonbank 3 of Toonbank 5, ensovoorts. Tania hou van die vrou met die bloedrooi rok by Toonbank 2 en hoop heimlik sy kom vandag by dié klerk uit. Sy moet lank wag, want daar is baie mense voor haar in die ry. Die pakkie voel naderhand vir haar so swaar soos lood.
Uiteindelik staan sy voor in die ry. Haar oë is op die elektroniese bordjie gerig. En sowaar, dis haar gelukkige dag! Sy stap dadelik na Toonbank 2. Die poskantoor se toonbank is hoog, maar sy is darem al groot genoeg om bo by te kom en die persoon daaragter te sien.
“Middag, Kindjie. Kan ek jou help?” vra die dame vriendelik.
“Middag, Tannie. Ja, asseblief. Mamma het gesê ek moet hierdie pakkie pos”, sê Tania toe sy die pakkie aangee. “Dit is vir my broer wat in Engeland woon. Hy werk daar.”
Die klerk sê: “Ek sien dis lekker eetgoed wat in die pakkie is.”
“Ja, Tannie”, antwoord Tania. “Hy verlang baie huis toe en ons mis hom baie.”
Intussen het die klerk die pakkie geweeg. “Dit sal R38,45 kos”.
Tania oorhandig R50. “Sal Tannie asseblief vir my vir die orige geld seëls vir briewe gee?” vra sy.
“Sekerlik. Hier is dit. Sal dit al wees?”
“Ja, dankie Tannie”, sê Tania. Tot siens.”
“Lekker dag vir jou, Kindjie.”
AKTIWITEIT 2
OM ‘N GESPREK TE DRAMATISEER [LU 2.1.2]
OM TAAL TE GEBRUIK OM GEVOELENS UIT TE DRUK [LU 2.4.3]
OM ‘N DINKSKRUM E HOU EN ‘N LYS VAN IDEES TE MAAK [4.2.1]
OM TAAL MET DIE GEPASTE FORMALITEITSGRAAD TE GEBRUIK [6.4.4]
Verdeel in groepe van ongeveer vyf elk. Elke groep kry een van die volgende onderwerpe en berei dit voor vir dramatisering in die klas. Dink saam en maak ‘n lys van dinge wat gesê kan word en hoe dit gesê behoort te word.
‘n Gesprek tussen ‘n onderwyser en vier leerders wat ‘n ruit gebreek het.
‘n Gesprek tussen ‘n polisieman en ‘n persoon wat hy so pas in hegtenis geneem het.
‘n Gesprek tussen ‘n motoris en ‘n pompjoggie by die vulstasie.
‘n Gesprek tussen ‘n beroemde sportpersoonlikheid en ‘n bewonderaar.
‘n Gesprek tussen ‘n kliënt en ‘n persoon wat goeie diens gelewer het.
‘n Gesprek tussen ‘n kliënt en ‘n persoon wat swak diens gelewer het.
‘n Gesprek tussen Mevrou Haastige Hanlie en Stadige Stienie oor die huiswerk wat nie klaar kom nie.
AKTIWITEIT 3
OM OORSAAK EN GEVOLG TE VERDUIDELIK
[LU 5.1.1]
Nadat jy na die dramatiserings van jou klasmaats geluister het, gaan jy nou probeer om twee paragrawe te skryf oor die botsing tussen Mevrou Haastige Hanlie en Stadige Stienie. Gee die redes vir wat jy dink die oorsaak van die onenigheid kan wees. Beskryf ook wat die moontlike gevolge kan wees.
Hoe skryf ons ‘n brief in Afrikaans?
Kom ons leer eers hoe ‘n informele brief in Afrikaans lyk en dan kry jy kans om jou eie brief te skryf.
Die vorm van die informele brief
| Die skrywer se adres Begin regs, net regs van die middel, bo-aan die bladsy. Skryf die adres in blokvorm, dit wil sê direk onder mekaar. Geen kommas of punte word gebruik nie. Die straatnaam word as een woord geskryf, bv. Kerkstraat, Sentraalweg, ens.Eerste, Tweede, Vierde Laan of Straat kan vas of los geskryf word, bv.: Tweedelaan, Vyfdestraat, of Eerste Laan, Tiende Straat. Skryf altyd die nommer van die eiendom ná die straatnaam. Die poskode verskyn onder die naam van die dorp, stad of voorstad. Die datum word in dié volgorde geskryf:dag, maand, jaar5 Maart 2009 Skryf die maandname voluit. Moenie afkortings gebruik nie. |
|
Die aanhef
Beste Dion
Laat 'n reël oop tussen die datum regs en die aanhef links.
Begin die aanhef teenaan die kantlyn.
Geen komma na die aanhef nie
Die inhoud
Laat 'n reël oop ná die aanhef.
Al die paragrawe moet teenaan die kantlyn begin.
Laat 'n reël oop tussen alle paragrawe.
Die slot
Groete.
Jou vriendGeorge
Laat 'n reël oop tussen die laaste paragraaf en die slotsin.
Laat 'n reël oop tussen die slotsin en die werklike slot.
Skryf 'n punt ná die slotsin, byvoorbeeld: Vriendelike groete.
Skryf die slot in blokvorm, teen die linkerkantlyn.
Geen leestekens ná die slot nie.
‘n Brief lyk dus so:
Keurboomlaan 238
Eersterivier
7100
5 Maart 2009
[Oop reël hier]
Beste Dion
[Oop reël hier]
(Begin hier vir jou eerste paragraaf)
(Laat ‘n reël oop tussen paragrawe)
[Laate paragraaf]
Geniet jou vakansie.
Jou vriend
George
AKTIWITEIT 4
OM ‘N INFORMELE BRIEF TE SKRYF [LU 4.1.1]
OM NETJIES EN LEESBAAR TE SKRYF [LU 4.3]
OM SINVOLLE PARAGRAWE TE SKRYF [LU 4.4.3]
Jou nefie of niggie, met wie jy baie goeie maats is, kon nie jou verjaarsdagpartytjie bywoon nie omdat hy / sy in ‘n ander provinsie woon. Skryf vir hom / haar 'n brief en vertel van jou partytjie. Jy mag maar jou verbeelding gebruik. Onthou om netjies te skryf.
Onthou
Goeie beplanning van jou brief is noodsaaklik.
Skryf drie paragrawe.
Paragraaf 1: Maak melding van: die datum
hoeveel maats jy genooi het
waar hulle die geskenke gesit het
waar die partytjie gehou is.
Paragraaf 2: Vertel: wat julle alles gedoen het
wat julle geëet en gedrink het.
Paragraaf 3: Vertel: dat jou maats vertrek het
hoe jy dit geniet het om jou geskenke oop te maak.
[Skryf jou brief op ‘n skoon vel papier of in jou werkboek.]
Skryf jou neef / niggie se adres op ‘n koevert en plak dit onder jou brief, of teken ‘n koevert en skryf die adres daarin. Onthou, hy / sy woon in ‘n ander provinsie. Sorg ook dat jy die korrekte poskode byvoeg.
LU 2
PRAAT
Die leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ‘n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer.
2.1 ervaringe, idees en inligting in verskillende kontekste vir verskillende teikengroepe en doeleindes oordra:
2.1.2 gebruik taal vir skeppende en beeldryke selfuitdrukking (soos: denkbeeldige interpersoonlike situasies dramatiseer);
2.1.6 lug en regverdig eie mening met redes;
2.2 interaksievaardighede en –strategieë in groepsituasies gebruik:
2.2.1 neem beurte, hou by die onderwerp, stel relevante vrae, help die bespreking om te vloei en reageer met respek en empatie op ander se idees;
2.4 gepaste woorde en strukture vir verskillende doeleindes en teikengroepe gebruik:
2.4.3 gebruik taal sorgvuldig om komplekse dog algemene gevoelens soos woede, ongeduld, simpatie en bewondering uit te druk.
LU 3
LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 ‘n verskeidenheid fiksie- en nie-fiksietekste vir verskillende doeleindes lees:
3.1.1 lees onafhanklik deur ‘n verskeidenheid lees- en begripstrategieë gepas vir verskillende doeleindes te gebruik;
3.2 kyk na en kommentaar lewer op verskeie visuele en multi-media tekste (soos advertensies):
3.2.1 bespreek die boodskap wat oorgedra word;
3.2.2 identifiseer en bespreek grafiese tegnieke soos kleur, keuse van beelde, soort en grootte van letterwerk, simbole, uitleg;
3.5 begrip van fiksie-tekste toon:
3.5.3 bespreek temas en vraagstukke en lug menings met redes daarvoor;
3.11 relevante tekste kies en navorsingsvaardighede toepas om inligting in woordeboeke te verkry.
LU 4
SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
4.1 verskeie soorte tekste vir verskillende doeleindes en teikengroepe skryf:
4.1.1 skryf vir persoonlike, ondersoekende, speelse, verbeeldings- en skeppende doeleindes (brief, persoonlike boodskap);
4.1.2 skryf informatiewe tekste waarin idees duidelik en logies vir verskillende teikengroepe uitgedruk word (verslag);
4.1.3 skryf en ontwerp visuele tekste waarin inligting duidelik en skeppend aangebied word (advertensie);
4.1.4 verander inligting van een formaat na ‘n ander (telefoonrekening na teks);
4.2 idees deur die skryfproses ontwikkel en organiseer:
4.2.1 kies en ontleed ‘n onderwerp en hou ‘n dinkskrum oor idees met behulp van kopkaarte, vloeidiagramme en lyste;
4.3 netjiese, leesbare werk lewer, met aandag aan aanbieding;
4.4 kennis van taal op verskeie vlakke toepas:
4.4.1 woordvlak:
4.4.2 sinsvlak:
4.4.3 paragraafvlak:
√ toon verskillende maniere om paragrawe te skakel.
LU 5
DINK EN REDENEER
Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
5.1 taal gebruik om te dink en te redeneer:
5.1.1 identifiseer oorsaak en gevolg in mondelinge en geskrewe tekste en verduidelik die verband daartussen;
5.1.3 onderskei tussen die voor- en nadele van iets en verduidelik dit;
5.3 inligting verwerk:
5.3.5 organiseer inligting in ‘n tydlyn;
5.3.6 evalueer en maak gevolgtrekkings en verduidelik redes daarvoor.
5.4 taal gebruik om skeppend te dink:
5.4.2 voorspel wat in ‘n denkbeeldige situasie sou kon gebeur.
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.1 met woorde werk:
6.1.1 skep eie persoonlike spellys;
6.1.2 toon kennis van die kompleksiteit van alfabetiese volgorde waar die orde volgens die eerste letter gegee word;
6.1.3 spel dikwels gebruikte woorde korrek en herken uitsonderings in spelpatrone;
6.1.5 gebruik hoofletters korrek;
6.1.8 ontwikkel woordeskat deur woordvorming, deur woordfamilies en woorde uit dieselfde veld te herken en deur betekenis uit die konteks af te lei;
6.1.10 gebruik samestellings om woordeskat uit te brei;
6.1.12 gebruik alledaagse afkortings en akronieme;
6.2 met sinne werk:
6.2.4 gebruik voegwoorde en betreklike voornaamwoorde doeltreffend om sinne te verbind;
6.2.5 gebruik die korrekte woordorde en verstaan hoe woordorde betekenis kan beïnvloed;
6.2.6 gebruik en wissel tydsvorme doeltreffend en gepas;
6.2.8 verstaan en gebruik die ontkennende vorm gepas;
6.2.9 gebruik en wissel die direkte en indirekte rede doeltreffend, met korrekte punktuasie, voornaamwoorde en bywoorde;
6.2.10 gebruik hoofletters en punktuasie korrek: punt, komma, vraagteken, uitroepteken, dubbelpunt, afkappingsteken, aanhalingstekens;
6.2.13 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse adjektiewe: intensiewe vorme;
6.4 bewustheid en gebruik van styl ontwikkel:
6.4.3 gebruik duidelike en samehangende sinne sonder te veel woorde en met die korrekte grammatikale struktuur;
6.4.4 gebruik taal met die gepaste formaliteitsgraad (register) in minder bekende situasies en toon bewustheid van teikengroep;
6.6 metataal gebruik:
6.6.1 gebruik die woordeskat wat nodig is om oor die taal te praat (akronieme, direkte en indirekte rede).
Aktiwiteit 1
Luidlees
Aktiwiteit 2
Voorbereide dramatisering
Aktiwiteit 3
Eie skryfwerk
Aktiwiteit 4
Eie brief