Inside Collection: Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
DIE ETE EN DIE ETER
Module 9
INFORMATIEWE TEKSTE
AKTIWITEIT 1
OM DIE HOOF- EN ONDERSTEUNENDE GEDAGTES IN ‘N INFORMATIEWE TEKS TE IDENTIFISEER
[LU 3.9.1]
Die volgende leesstuk is vir stillees bedoel. Wanneer jy dit klaar gelees het, moet jy probeer om die hoofgedagte in die stuk in een sin te skryf.
ONS EET SAAM
Gewoonlik is aandete die hoofmaaltyd vir die lede van ‘n huisgesin. In ons moderne, gejaagde tyd is dit egter nie altyd moontlik om al die gesinslede gelyktydig aan tafel te hê nie. Redes daarvoor kan byvoorbeeld wees dat ouers soms laat werk of kinders moet ‘n geleentheid by die skool bywoon.
Om te eet terwyl jy televisie kyk, moet die uitsondering eerder as die reël wees. Die ideaal is dat almal saam sal aansit, die televisie sal afskakel en mekaar se geselskap sal geniet terwyl geëet word. Dit het natuurlik wonderlike voordele: elkeen kan vertel hoe sy of haar dag verloop het en jy kan sommer hoor wat met die ander gedurende die dag gebeur het. Verder kry jy die wonderlike geleentheid om by jou ouers te leer wat goeie tafelmaniere is sonder dat daar met jou geraas word oor wat jy verkeerd doen – solank jy net gewillig is om te leer wat reg is! Weet jy hoe om tafel te dek? Help jy ooit opruim na ete?
Die verdere voordeel is natuurlik dat kos baie lekkerder smaak as daar ‘n gemoedelike atmosfeer om die tafel heers.
HOOFGEDAGTE
b) Aan water redes kan jy dink waarom ‘n gesin nie gereeld saam aan tafel eet nie?
So maak mens aan tafel
‘n Mens leer jou hele lewe lank. Wanneer jy nog jonk is, is daar meer om te leer, omdat daar meer dinge is wat jy nie weet nie of wat jy nog nie kan doen nie. Jy leer by die huis en jy leer by die skool, maar jy leer ook op ander plekke. Iets wat ons maar liewer moet leer terwyl ons nog jonk is, is goeie tafelmaniere. Miskien eet jy eendag saam met jou ouers of maats by ‘n restaurant of ‘n hotel. Watter vurk of mes of lepel gebruik jy vir die verskillende geregte? Iemand gaan beslis raaksien hoe jy jou aan tafel gedra en dan gaan dié persoon iets oor jou te sê hê. Kom ons maak seker dat dit iets moois sal wees. Aktiwiteit 1.2 sal ons daarmee kan help.
![]() |
AKTIWITEIT 2
OM VRAE VIR ‘N ONDERHOUD OP TE STEL
[LU 5.2.1]
Jy gaan met iemand van jou keuse ‘n onderhoud voer oor tafelmaniere. Voordat jy daarby kom, probeer om eers minstens vyf van jou eie vrae op ‘n los vel papier te skryf. Al die vrae moet oor tafelmaniere handel, byvoorbeeld: Hoe behoort mens aan tafel te sit? Hoe kou ‘n mens? ensovoorts.
Wanneer julle daarmee klaar is, sal julle opvoeder toesien dat julle in groepe van so vier of vyf elk verdeel. Sit koppe bymekaar en kyk of julle saam ‘n lys van tien vrae oor tafelmaniere kan saamstel. Maak kort aantekeninge van almal se idees sodat jy jou eie lysie van vyf vrae kan aanvul.
Skryf nou die tien vrae onder mekaar neer. Nommer hulle (a) tot (j).
AKTIWITEIT 3
OM ‘N ONDERHOUD TE GERBRUIK OM INLIGTING TE VERKRY
[LU 5.2.2]
Reël ‘n onderhoud met ‘n volwasse persoon (verkieslik jou ma) ten minste twee dae vooruit. Sê vir haar waaroor die onderhoud gaan en hoeveel vrae jy het om vir haar te vra. Indien sy dit verkies, kan jy die vrae vir haar vooruit gee sodat sy kan weet wat jy gaan vra. Kom met haar ooreen ongeveer hoe lank die onderhoud sal duur (onthou, jy moet aantekeninge van haar antwoorde maak!) en wanneer dit sal plaasvind.
Wanneer jy die onderhoud voer, moet jy sorg dat jy jou potlood en skoon bladsye om aantekeninge te maak gereed het. Hou jou aantekeninge kort; jy kan later langer sinne skryf.
AKTIWITEIT 4
OM INLIGTING TE ORGANISEER
[LU 4.2.2]
Skryf die antwoorde wat jy gekry en aangeteken het in netjiese volsinne oor.
Merk hulle bv. (a) tot (k).
AKTIWITEIT 5
OM TERUGVOERING EN AANWYSINGS OP ‘N LOGIESE MANIER TE GEE
[LU 2.1.4]
OM ONDERHOUDE AS ‘N MANIER OM INLIGTING TE KRY, TE BESPREEK [5.2.3]
Julle behoort nou oor genoeg kennis van tafelmaniere te beskik om daaroor te kan praat.
Kies twee van jou antwoorde en verduidelik dit aan die klas. Probeer om nie te herhaal wat een van jou klasmaats reeds gesê het nie.
Vertel vir die klas watter nuwe kennis jy oor tafelmaniere opgedoen het.
Hou ‘n klasbespreking oor hoe julle die onderhoud ervaar het.
Het jy al die inligting gekry wat jy gesoek het?
Was dit maklik / moeilik om die antwoorde aan te teken?
Kon jy jou aantekeninge in sinne omskep?
Is daar beter maniere om ‘n onderhoud te voer?
AKTIWITEIT 6
OM GEBALANSEERDE EN OPBOUENDE TERUGVOERING TE GEE
[LU 2.2.2]
OM SENSITIEF TE WEES VIR ANDER SE GEVOELENS TYDENS BESPREKINGS [LU 2.2.4]
Julle opvoeder sal julle in vier groepe verdeel en een van die volgende onderwerpe aan elke groep toeken:
‘n Braai
‘n Deftige aansitete
Die daaglikse gesinsmaaltyd
‘n Verjaarsdagpartytjie
![]() |
Die volgende aspekte moet aandag kry tydens julle bespreking:
Hoe word die tafel voorberei?
Watter eetgerei word gebruik?
Word opskepskottels gebruik?
Watter soort versierings pas by die ete?
Maak aantekeninge van julle menings en wys ‘n groeplid aan wat aan die klas terugvoering sal gee.
AKTIWITEIT 7
OM VERSKILLENDE PERSPEKTIEWE OP BEKENDE ONDERWERPE TE ONTWIKKEL
[LU 5.1.4]
FLIEK EN SPRINGMIELIES
As ‘n mens na openbare vermaaklikheidsplekke soos flieks en teaters gaan, is dit natuurlik die heel beste om eers by die huis klaar te eet en te drink en glad nie eet- of drinkgoed in so ‘n plek in te neem nie. Aan die ander kant het dit al deel van ons “fliekkultuur” geword om allerhande lekkernye soos springmielies, lekkers en koeldrank in die fliek te eet. Daar is nie juis iets mee verkeerd nie, solank ons maar net ons maniere ken en toepas. Lees bietjie wat met Corrie-hulle gebeur het en beantwoord dan die twee vrae.
Dis Saterdagoggend. Corrie (11), haar vriendin Marné (10) en haar boetie Gys (14) is al vroeg by die winkelsentrum waar al die flieks is. Hulle sien baie daarna uit om die fliek te sien wat handel oor die avonture van Spiderman en is sommer haastig om hulle kaartjies te koop. Gys hou hulle drie se kaartjies in sy sak en dan maak hulle eers ‘n draai by die toonbank met snoeperye. Hulle koop elkeen ‘n houer met springmielies, ‘n lekker yskoue koeldrank en ‘n sjokolade en gaan neem dan hulle sitplekke in.
Sommige van die voorprogramme en advertensies is baie snaaks en dan skaterlag hulle. Intussen werk hulle hande heen-en-weer tussen houer en mond soos hulle aan die springmielies smul. Dis tog te lekker, maar hulle onthou ook om nie te mors nie, want Mamma sê as jy mors, moet ander mense weer daar kom skoonmaak. Hulle is geleer om nie morsjorse te wees nie. Corrie is ook nou lus vir haar sjokolade en haal die papier versigtig af sodat die gekraak daarvan nie die ander fliekgangers om haar steur nie. Daar is nogal baie kinders in die fliek en almal is rustig. Dié wat gesels, praat op gedempte toon. Uiteindelik begin die Spiderman-film en die drietal skuif opgewonde reg.
‘n Paar minute nadat die fliek begin het, word die rustige atmosfeer meteens versteur deur ‘n paar jong seuns en meisies wat taamlik luidrugtig binnekom. Hulle soek in die donker na hulle sitplekke en moet verby ander mense skuur om by hulle plekke te kom. Hulle sit twee rye voor ons drie maats.
Dis sommer gou duidelik dat hierdie laatkommers nie juis respek vir andere se regte het nie. Hulle trap met hulle voete teen die rugleunings voor hulle en praat sommer hard! Hulle krap raserig in die houers met springmielies en laat lekkergoedpapiere kraak. Later skiet hulle springmielies in die lug op sodat dit ver van hulle af op ander mense val .........
Wel, die gevolg van hulle aanstootlike gedrag was dat die bestuurder die vertoning tydelik gestaak het en hulle gevra het om die teater te verlaat. Wat ‘n skande!
a) Skryf ‘n paragraaf van drie sinne oor hoe mens jou in ‘n fliek behoort te gedra.
b) Wat dink jy van die laatkommers se optrede? Was hulle ...
| Ja | Nee | |
| bedagsaam? | ||
| vriendelik? | ||
| onbeskof? | ||
| goedgemanierd? |
As daar nog iets is wat julle van goeie tafelmaniere behoort te weet, maar wat nog nie genoem is nie, sal julle opvoeder julle daarvan kan vertel. Dit kan nogal interessant wees.
Noudat jy meer weet oor goeie tafelmaniere, moet jy jou kennis gaan toepas. Die beste is om van goeie maniere ‘n gewoonte te maak. Wys vir jou gesinslede en ander familie dat jy weet ... so maak mens aan tafel!
| KONTROLELYS(moet saam deur die groeplede ingevul word)Merk die toepaslike kolom | ||
| Almal in die groep het vrae vir die onderhoud voorgestel. | Ja | Nee |
| Ons het ‘n deeglike bespreking oor die voorgestelde vrae gehou. | Ja | Nee |
| Ons het na mekaar geluister en mekaar kans gegee om te praat sonder om mekaar te onderbreek. | Ja | Nee |
| Ons kon die inligting wat ons tydens die onderhoud aangeteken het, in goeie sinne neerskryf. | Ja | Nee |
| Ons het nuwe kennis oor tafelmaniere opgedoen. | Ja | Nee |
| Ons het alreeds begin om van hierdie nuwe kennis tuis toe te pas. | Ja | Nee |
Taalstruktuur en -Gebruik
Nog meer oor die Selfstandige Naamwoord
In ‘n voige module het jy meer oor die selfstandige naamwoord geleer en veral aandag gegee aan verkleinwoorde en getal (enkelvoud en meervoud). Nog iets wat ons oor selfstandige naamwoorde kan leer, is dat baie van hulle ook ‘n geslagsvorm het, m.a.w. ‘n manlike en vroulike vorm. Jy sal dalk die meeste van hulle ken, maar jy moet tog versigtig wees met die spelling daarvan.
AKTIWITEIT 8
OM MEER VAN GESLAGSVORME TE LEER
[LU 6.2.11]
Voltooi die tabel hieronder. Gebruik jou woordeboek as jy twyfel oor die korrekte spelling.
| MANLIK | VROULIK |
| 1. haan | hen |
| 2. bul | |
| 3. | verskalf |
| 4. | skoonsuster |
| 5. bruidegom | |
| 6. buurman | |
| 7. | dame |
| 8. koning | |
| 9. sanger | |
| 10. skrywer | |
| 11. | merrie |
| 12. | teef |
| 13. | wyfie |
| 14. | beoordelares |
| 15. | inspektrise |
Assessering
LU 2
PRAAT
Die leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ‘n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer.
2.1 ervaringe, idees en inligting in verskillende kontekste vir verskillende teikengroepe en doeleindes oordra:
2.1.1 gebruik taal denkend vir interpersoonlike kommunikasie (soos: bespreek leerders se pligte);
2.1.3 deel idees en lug mening oor minder bekende onderwerpe en gebeurtenisse deur spekulasie en hipotese te gebruik;
2.1.4 beskryf gebeurtenisse, gee terugvoering en gee aanwysings op ‘n logiese manier;
2.2 interaksievaardighede en –strategieë in groepsituasies gebruik:
2.2.1 neem beurte, hou by die onderwerp, stel relevante vrae, help die bespreking om te vloei en reageer met respek en empatie op ander se idees;
2.4 gepaste woorde en strukture vir verskillende doeleindes en teikengroepe gebruik:
2.4.4 identifiseer en bevraagteken diskriminerende taalgebruik.
LU 3
LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 ‘n verskeidenheid fiksie- en nie-fiksietekste vir verskillende doeleindes lees:
3.1.1 lees onafhanklik deur ‘n verskeidenheid lees- en begripstrategieë gepas vir verskillende doeleindes te gebruik;
gebruik vroeëre kennis of tekstuele leidrade om betekenis vas te stel en afleidings te maak;
voer luidlees duidelik uit en pas leesspoed volgens doel en gehoor aan;
3.5 begrip van fiksie-tekste toon:
3.5.1 bespreek die hoofidee, intrige, ruimte, atmosfeer en karakters;
3.5.2 maak afleidings oor intrige en karakters;
3.8 omgewings-, kulturele en sosiale waardes in tekste identifiseer en bespreek:
3.8.2 stereotipes herken en bespreek en hoe dit geskep word;
3.11 relevante tekste kies en navorsingsvaardighede toepas om inligting in woordeboeke te verkry.
LU 4
SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
4.4 kennis van taal op verskeie vlakke toepas:
4.4.3 paragraafvlak:
√ skryf ‘n kernsin en sluit relevante inligting in om ‘n samehangende paragraaf te ontwikkel.
LU 5
DINK EN REDENEER
Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
5.1 taal gebruik om te dink en te redeneer:
5.1.3 onderskei tussen die voor- en nadele van iets en verduidelik dit;
5.3 inligting verwerk:
5.3.6 evalueer en maak gevolgtrekkings en verduidelik redes daarvoor;
5.4 taal gebruik om skeppend te dink:
5.4.1 vorm hipoteses oor die moontlike resultate of slot van ‘n reeks stappe of gebeurtenisse;
5.4.5 ondersoek woordassosiasies en konsepte om uit ‘n ander hoek na onderwerpe te kyk.
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.1 met woorde werk:
6.1.1 skep eie persoonlike spellys;
6.1.2 toon kennis van die kompleksiteit van alfabetiese volgorde waar die orde volgens die eerste letter gegee word;
6.1.4 gebruik skryftekens (kappie, deelteken, koppelteken, afkappingsteken) doeltreffend in alledaagse woorde;
6.1.6 gebruik hoofletters korrek;
6.2 met sinne werk:
6.2.11 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse selfstandige naamwoorde, asook getal, geslag en verkleinwoorde;
6.2.14 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse bywoorde (tyd, wyse, plek);
6.2.15 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse voornaamwoorde (persoonlik, besitlik, vraend, betreklik.
Memorandum
Aktiwiteit 1
a) Dis belangrik dat ‘n gesin tyd maak om saam aan tafel te wees en mekaar se geselskap te geniet.
b) Leerders gee verskeidenheid redes.
Aktiwiteit 2
Elke leerder skryf eie vrae neer.
Aktiwiteit 3
Onderhoude.
Aktiwiteit 4
Antwoorde in volsinne.
Aktiwiteit 5
Mondeling.
Aktiwiteit 6
Groepbesprekings en terugvoering.
Aktiwiteit 7
a) Elke leerder se paragraaf bestaande uit drie sinne.
b) Eie menings.
| Ja | Nee | |
| bedagsaam? | √ | |
| vriendelik? | √ | |
| onbeskof? | √ | |
| goedgemanierd? | √ |
Taalstruktuur en -gebruik
Alle aktiwiteite wat betrekking het op Leeruitkoms 6 moet slegs as voorbeelde beskou word. Dit word aanbeveel dat die opvoeder self meer aktiwiteite / voorbeelde byvoeg, aangesien dié wat in die module voorkom nie as noodwendig voldoende beskou behoort te word nie.
Aktiwiteit 8
| MANLIK | VROULIK |
| 1. haan | hen |
| 2. bul | koei |
| 3. bulkalf | verskalf |
| 4. swaer | skoonsuster |
| 5. bruidegom | bruid |
| 6. buurman | buurvrou |
| 7. heer / meneer | dame |
| 8. koning | koningin |
| 9. sanger | sangeres |
| 10. skrywer | skryfster |
| 11. hings | merrie |
| 12. reun | teef |
| 13. mannetjie | wyfie |
| 14. beoordelaar | beoordelares |
| 15. inspekteur | inspektrise |