Inside Collection (Course): Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
OOM KOWIE EN MISTER KING
Module 14
SKEPPENDE SKRYFWERK
AKTIWITEIT 1
OM ‘N HUMORISTIESE STAALTJIE VIR SKEPPENDE EN SPEELSE DOELEINDES TE SKRYF
[LU 4.1.1]
Nou gaan jy kans kry om jou eie humoristiese storietjie te skryf. Die HAT is die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Dit gee op bladsy 432 die volgende verduidelikings vir humor en humoristies:
humor: humoristies:
die lagwekkende geestig
geestigheid grappig
skerts luimig
komieklikheid
Kyk eers weer mooi na die vorm van die humoristiese teks op bladsy 1 van die vorige module. Let veral op hoe die dialoog geskryf is. Wat is dialoog nou weer? O ja, dit is mos die gesprek tussen Oom Kowie en die koning. Omdat jy seker ‘n goeie idee het van hoe ‘n koning in sy paleis lewe, sal jy seker saamstem dat die leesstukkie nogal snaaks is. Maar dit is juis wat die skrywer, Abraham H. de Vries, wou hê: dat die leser die verhaaltjie moet geniet, dit snaaks moet vind en daarvoor moet lag. Hy gebruik die direkte rede baie, want dan is dit nog snaakser.
Jou opvoeder sal jou sommer ‘n hele paar dae tyd gee om jou eie humoristiese staaltjie te skryf. Die volgende is belangrik:
‘n grappige staaltjie
dit mag waar wees, of
dit hoef nie die waarheid te wees nie
dialoog (mense wat met mekaar praat)
korrekte gebruik van aanhalingstekens
paragrawe
minstens 15 geskrewe reëls
netjiese handskrif en werk.
AKTIWITEIT 2
OM ‘N DENKBEELDIGE SITUASIE TE BESKRYF, GEBASEER OP BEKENDE INLIGTING
[LU 6.2.17]
Teen hierdie tyd weet jy dat Oom Kowie Brönn nie regtig by die koning besoek afgelê het nie – dit was maar net ‘n droom. ‘n Mens stap ook nie sommer net by ‘n koning of koningin se paleis in en gesels met hulle nie. Dis nie só maklik nie en jy moet ook weet hoe om jou te gedra.
Verbeel jou jy het ‘n uitnodiging van ons staatspresident ontvang om hom in sy kantoor te besoek en vyf minute alleen met hom te gesels oor enigiets van jou keuse. Beskryf jou besoek aan hom deur die volgende leidrade te gebruik. Onthou dat jy hoflik en vriendelik moet wees.
Hoe ek aangetrek is
Hoe ek by sy kantoor gekom het
Wie my ontvang
Hoe die president my groet
Hoe ek hom groet
Wat hy vir my vra
My antwoord
Wat ek vir hom vra
Wat ek dink sy antwoord sal wees
Ek groet
Taalkstruktuur en -Gebruik
AKTIWITEIT 3
OM VOORSETSELS DOELTREFFEND TE GEBRUIK
[LU 6.2.16]
a) Kies die regte voorsetsel en skryf die volgende sinne korrek neer.
Ek droom ek stap (op, met, in) Engeland.
Die Prince of Wales kyk (oor, onder, agter) die onderdeur.
Ons loop in die gang (op, voor, met) die portrette teen die mure.
Sy help (teen, met, oor) die kokery.
Die koning gaan sit (deur, uit, op) sy troon.
Nie moeilik nie, nè? Toets nou jou kennis van die taal wat jy praat deur te probeer om ook die volgende voorsetsels te verskaf. Skryf die hele sin neer.
Sy kan haar tog so verknies _ klein dingetjies.
Ek stem nie saam _ jou nie.
Hy het hom vergryp _ die lekker kos.
Voeg nou sout _ smaak by.
Ek moes _ my ontsteltenis ontdek dat my boek weg is.
Alles is _ die voet verkoop.
Ons skool gaan ‘n projek _ stapel stuur om die omgewing skoon te maak.
Ek was so verras toe my beste maat skielik _ lewende lywe voor my staan.
Pappa werk hard sodat hy _ ons behoeftes kan voorsien.
Ons bid altyd _ tafel om dankie te sê vir die kos.
Hier is een spesiaal vir die “oopkoppe”. Wie gaan probeer?
Wanneer die regter ‘n aangeklaagde in die hof verhoor, moet hy
regverdig oordeel, _ aansien _ persoons.
aktiwiteit 4
om kern- en ondergeskikte sinne te gebruik om ‘n samehangende paragraaf te skryf
[lu 6.3.1]
b) Gebruik die gegewens wat volg om ‘n paragraaf met duidelike sinne te skryf.
Dieretuin by Sun City. ‘n Vyfjarige meisie, Helen Grant, se arm is amper morsaf gebyt deur ‘n Bengaalse tier. Gedink dis ‘n “katjie”. Wou streel. Aan vingers gegryp en nader getrek. Beentjies tussen gewrig en elmboog almal gebreek. Gered deur haar oom. Arm in hospitaal op Rustenburg geheg.
(Bron: Die Burger, 3 Mei 2006).
AKTIWITEIT 5
OM VOEGWOORDE EN WOORDE WAT TYD, OORSAAK EN GEVOLG AANDUI, TE GEBRUIK VIR DIE SKEP VAN LOGIESE SINNE EN PARAGRAWE
[LU 6.3.2]
c) Kies enige een van die volgende onderwerpe en skryf drie paragrawe daaroor.
Ontwerp 1
Jou troeteldier het siek geword of is beseer en jy moes dit saam met Mamma of Pappa veearts toe neem.
Ontwerp 2
Terwyl jy in die tuin gespeel het, het ‘n by jou gesteek.
Ontwerp 3
Jy moes tandarts toe gaan.
As jy jou onderwerp gekies het, moet jy jou opskrif self bewoord.
Jy moet die volgende woorde in jou skryfstuk gebruik:
en, maar, want, omdat, dus
verlede week, gister, die volgende dag, later, daarna, tans, voortaan
Assessering
LU 4
SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
4.1 verskeie soorte tekste vir verskillende doeleindes en teikengroepe skryf:
4.1.1 skryf vir persoonlike, ondersoekende, speelse, verbeeldings- en skeppende doeleindes (soos dagboekinskrywings, humoristiese staaltjies, stories, gedigte);
4.2 idees deur die skryfproses ontwikkel en organiseer:
4.2.4 gebruik enkelvoudige en saamgestelde sinne met bewustheid van die spesifieke doel en teikengroep.
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.2 met sinne werk:
6.2.13 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse adjektiewe: intensiewe vorme;
6.2.16 gebruik voorsetsels doeltreffend;
6.2.17 verstaan en gebruik gepaste sinonieme, antonieme, homonieme en homofone;
6.3 met tekste werk:
6.3.1 gebruik kern- en ondergeskikte sinne om ‘n samehangende paragraaf te vorm;
6.3.2 gebruik voegwoorde en woorde wat tyd, oorsaak en gevolg aandui om logiese sinne en paragrawe te skep;
6.4 bewustheid en gebruik van styl ontwikkel:
gebruik ‘n verskeidenheid sinslengtes en -soorte;
wissel woordorde gepas vir fokus en klem;
6.4.4 gebruik taal met die gepaste formaliteitsgraad (register) in minder bekende situasies en toon bewustheid van teikengroep;
6.4.5 pas toon en woordkeuse vir verskillende teikengroepe en doeleindes aan.
Memorandum
Aktiwiteit 1
Eie skryfwerk.
Aktiwiteit 2
Denkbeeldige besoek aan staatspresident
Dit is belangrik dat die leerders bewus gemaak word van die nodigheid van hoflike en respekvolle optrede en ‘n netjiese houding. Wys ook daarop dat dit nie net geld in optredes teenoor BBP’s (Baie Belangrike Persone; Eng.: VIP’s) nie, maar teenoor alle persone, veral volwassenes.
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Aktiwiteit 3
a) Voorsetsels
in (ix) na
oor (x) tot
met (xi) voor
met (xii) van
op (xiii) in
oor (xiv) in
met (xv) aan
aan (xvi) sonder, des
Aktiwiteit 4
b) Skryf samehangende paragraaf
Aktiwiteit 5
c) Voegwoorde, en woorde wat tyd, oorsaak en gevolg aandui