Inside Collection (Course): Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
OOM KOWIE EN MISTER KING
Module 16
ADVERTENSIES: BOODSKAPPE EN REAKSIES
AKTIWITEIT 1
OM TUSSEN ALGEMENE EN SPESIFIEKE INLIGTING TE ONDERSKEI
[LU 5.3.2]
OM INLIGTING IN ‘N TABEL TE ORGANISEER [LU 5.3.5]
a) Ons gaan nou eers aandag gee aan advertensies. Let op met hoeveel advertensies ons elke dag in aanraking kom. Ons sien veral drie soorte advertensies, naamlik gedrukte advertensies (in boeke, tydskrifte, koerante en strooipos), advertensieborde en verfilmde advertensies (soos op TV).
(i) Jy en jou maat se eerste taak is om ‘n lys van 20 items wat adverteer word neer te skryf. Moenie die handelsnaam (bv. Colgate of ABSA) van die item neerskryf nie; skryf slegs die soort item neer, bv. tandepasta of bank.
(ii) Items wat adverteer word, kan in drie hoofgroepe verdeel word, naamlik produkte (soos Colgate), dienste (soos banke) en geleenthede (soos sport- of musiekgeleenthede). Probeer nou om die items wat julle in (i) genoem het onder die volgende hofies te tabelleer. As jy minder as vyf van die een soort het, moet jy probeer om nog ‘n paar by te voeg.
| PRODUKTE | DIENSTE | GELEENTHEDE |
AKTIWITEIT 2
OM DIE BOODSKAP WAT DEUR ‘N TV-ADVERTENSIE OORGEDRA WORD, TE BESPREEK. [LU 3.2.1]
OM DIE EMOSIONELE REAKSIE OP ‘N ADVERTENSIE TE BESKRYF EN TE ONTLEED [LU 3.3]
b) Jou volgende opdrag is om ‘n spesiale TV-advertensie te identifiseer: OF jou gunsteling advertensie OF die advertensie waarvan jy die minste hou. (As julle gesin nie TV kyk nie, kan jy gerus enige ander advertensie gebruik). Skryf neer:
Watter tipe diens of produk geadverteer word
die handelsnaam van die produk
die boodskap van die advertensie
die advertensie in jou eie woorde
waarom jy van die advertensie hou / nie daarvan hou nie
c) Julle opvoeder gaan julle kans gee om julle menings uit te spreek oor sommige van die advertensies wat aan julle bekend is. Gee jou eerlike opinie, maar onthou om altyd jou maats se menings te respekteer en hulle kans te gee om te praat sonder om hulle in die rede te val. Hier is ‘n paar idees om te bespreek oor die advertensie waaroor julle opvoeder julle laat praat:
(i) Waarvan hou jy in die advertensie?
(ii) Waarvan hou jy nie?
(iii) Maak die advertensie jou bly, opgewonde, vies?
(iv) Is die advertensie interessant, slim en oorspronklik, of is dit vervelig?
(v) Sal jy die produk koop of die diens gebruik?
| KONTROLELYS(moet deur die individu voltooi word) | ||
| Ek het gehelp om die lys van 20 items op te stel. | Ja | Nee |
| Ek kan onderskei tussen produkte, dienste en geleenthede. | Ja | Nee |
| Ons het na mekaar geluister en mekaar kans gegee om ‘n mening uit te spreek sonder om onderbreek te word. | Ja | Nee |
| Ek kan my eie mening oor ‘n advertensie uitspreek. | Ja | Nee |
AKTIWITEIT 3
OM TE BESPREEK HOE SKRYWERS EN VISUELE KUNSTENAARS OP VERSKILLENDE MANIERE LESERS IN WISSELWERKING TREE; EN HOE HULLE TAAL EN VISUELE KENMERKE GEBRUIK OM VERSKILLENDE WÊRELDBESKOUINGE OOR TE DRA
[LU 3.4]
d) Groepwerk:
(i) Bespreek die volgende:
Watter van die volgende kom in die advertensie voor?
| JA | NEE | ||
| Taal | |||
| Musiek | |||
| Geluide | |||
| Beeldmateriaal |
Sê hoe julle dink bogenoemde gebruik word om julle aandag te trek en te probeer oortuig dat dit ‘n goeie produk, diens of geleentheid is.
Wat is daar in die advertensie wat jou laat glo dat dit ‘n goeie produk, diens of geleentheid is? Skryf dit neer:
AKTIWITEIT 4
OM ENKELVOUDIGE EN SAAMGESTELDE SINNE TE GEBRUIK MET BEWUSTHEID VAN DIE SPESIFIEKE DOEL EN TEIKENGROEP [LU 4.2.4]
OM MET DIE VISUELE EN KLANKEFFEKTE VAN TAAL TE EKSPERIMENTEER [LU 5.4.4]
e) Voordat julle die volgende taak doen, is dit goed om eers mooi na die advertensie oor die natuur se kitskos te kyk. Let veral op na die manier waarop taal gebruik word om ‘n treffende advertensie te skryf.
Kan jy aan ‘n rede dink waarom die woord “knarsvars” ‘n goeie keuse vir hierdie advertensie is? Skryf dit neer:
Waarom is die derde reël so treffend?
Jy en jou maat moet nou koppe bymekaar sit om die woorde vir julle eie advertensie te skryf. Dit moet uit minstens vyf sinne bestaan, waarvan ten minste twee lang sinne moet wees. Julle mag die advertensie versier, maar die belangrikste is om taal so te gebruik dat julle sinne trefkrag sal hê en julle maats daarvan sal hou. Dit moet uiteindelik treffend en oortuigend aan die klas voorgelees word, d.w.s. met die regte gebruik van die stem.
![]() |
Skryf julle finale poging neer. Probeer dit illustreer deur van kleur gebruik te maak.
Taalkstruktuur en –Gebruik
aktiwiteit 5
om eenvoudige vorms van beeldspraak (soos vergelykings, metafoor en personifikasie) te verstaan en gebruik
[lu 4.2.4]
Voltooi die volgende vergelykings:
Die nat stoep is so glad soos _ .
Skakel die lig aan. Dis so donker soos die _ .
Hy is so vinnig soos _ hier weg.
Die brood is te oud om te eet; dis so _ soos klip.
Sy is vandag afwesig, want sy is glo so _ soos ‘n hond.
Die lekkers is so soet soos _ .
Die atleet hardloop soos die _ .
Die arme man wat gister laas geëet het, is nou so honger soos
‘n _ .
Ek kan sien hy kry warm, want hy is so rooi soos ‘n _ .
Die kameel word ook die _ van die woestyn genoem.
Iemand wat niks vir ander mense of vir diere omgee nie het ‘n
hart van _.
Probeer hierdie moeilike een:
Die winter het sy ysige _ om ons geslaan.
Assessering
LU 3
LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 ‘n verskeidenheid fiksie- en nie-fiksie-tekste vir verskillende doeleindes (soos gedigte, boekresensies, kort romans, omsendbriewe, naslaanboeke) lees:
3.1.1 vluglees vir die algemene idee;
3.2 kyk na en kommentaar lewer op verskeie visuele en multimedie-tekste (soos advertensies, video’s/films, TV-dramas, en, indien beskikbaar, rekenaarprogramme en CD-ROM’s):
3.2.1 bespreek die boodskap wat oorgedra word;
3.3 emosionele reaksie op tekste beskryf en ontleed;
3.4 kan bespreek hoe skrywers en visuele kunstenaars op verskillende maniere met lesers in wisselwerking tree en hoe hulle taal en visuele kenmerke gebruik om verskillende wêreldbeskouinge oor te dra;
3.8 omgewings-, kulturele en sosiale waardes in tekste identifiseer en bespreek:
3.8.1 identifiseer en bespreek vertelperspektief en die doel en effek daarvan.
LU 4
SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
4.1 verskeie soorte tekste vir verskillende doeleindes en teikengroepe skryf:
4.1.1 skryf vir persoonlike, ondersoekende, speelse, verbeeldings- en skeppende doeleindes (soos dagboekinskrywings, humoristiese staaltjies, stories, gedigte);
4.2 idees deur die skryfproses ontwikkel en organiseer:
4.2.4 gebruik enkelvoudige en saamgestelde sinne met bewustheid van die spesifieke doel en teikengroep.
LU 5
DINK EN REDENEER
Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
5.3 inligting verwerk:
5.3.2 onderskei tussen algemene en spesifieke inligting;
5.3.5 organiseer inligting in ‘n paragraaf, tabel, tydlyn, diagram of ander gepaste grafiese voorstelling;
5.4 taal gebruik om skeppend te dink:
5.4.4 eksperimenteer met die visuele en klankeffekte van taal.
Memorandum
Aktiwiteit 1
a) (i) Eie lys
(ii) Eie tabel
Aktiwiteit 2
b) en c) Eie antwoorde
Aktiwiteit 3
d) Hou altyd in gedagte dat dit hier gaan om die boodskap wat deur ‘n advertensie oorgedra word, sowel as die leerders se emosionele reaksie daarop.
Aktiwiteit 4
e) Enkelvoudige en saamgestelde sinne; visuele en klankeffekte
(i) Die woord “knarsvars” laat mens dink aan die klank wat jy hoor wanneer jy ‘n appel hap.
(ii) Al drie woorde begin met “s”.
(iii) Eie poging.
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Aktiwiteit 5
a) Vergelykings
seep
nag
blits
hard
siek
suiker / stroop
wind
wolf
kalkoen / beet
skip
klip
vingers