Inside Collection (Course): Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
SO MAAK MENS
Module 6
WOORDE, STORIES EN ANDER TAALSAKE
AKTIWITEIT 1
OM INLIGTING IN ‘N WOORDEBOEK NA TE SLAAN [LU 3.1.1]
OM SPELLING EN BETEKENIS IN ‘N WOORDEBOEK NA TE GAAN [LU 6.1.6]
Gebruik ‘n verklarende woordeboek om die betekenis van die volgende begrippe na te slaan. Skryf dit in die spasies wat daarvoor gelaat is.
![]() |
AKTIWITEIT 2
OM NA ‘N STORIE TE LUISTER [LU 1.1]
OM TEKSTUELE LEIDRADE TE GEBRUIK OM AFLEIDINGS TE MAAK
[LU 3.1.1]
OM DIE HOOFIDEE EN INTRIGE TE BESPREEK [LU 3.5.1]
OM AFLEIDINGS TE MAAK OOR DIE INTRIGE EN HOOFKARAKTERS
[LU 3.5.2]
Luister eers hoe jou opvoeder die storie van Dommie en die goue gans voorlees. Lees dit dan op jou eie en beantwoord daarna die vrae.
DIE GOUE GANS
‘n Man en vrou het drie seuns gehad. Die jongste se naam was Dommie, want almal het gedink hy is maar dommerig. Almal by die huis het altyd met hom gespot en hom verkleineer.
Die oudste seun het eendag besluit om te gaan hout kap in die woud. Sy ma het vir hom ‘n heerlike pastei gebak en ook vir hom ‘n bottel goeie koeldrank gegee sodat hy darem lekker kon eet as hy sou honger word van al die harde werk. In die woud kom hy ‘n klein ou mannetjie teë en dié sê vir hom: “Goeiedag, jong man. Gee asseblief vir my ‘n klein stukkie van jou pastei en ‘n bietjie koeldrank uit jou bottel, want ek is baie honger en dors.”
Maar die slim jong man sê: “Ek vir jou van my vleis en koeldrank gee? Nee, ek sal nie genoeg vir myself oorhê nie,” en hy stap verder.
Hy begin kap toe aan die eerste boom, maar die ou mannetjie het sy byl getoor, want skielik gly die byl en hy kap sy been raak. Die wond was so groot dat hy nie verder kon werk nie en hy moes dadelik huis toe gaan sodat die wond verbind kon word.
Die tweede seun besluit toe om te gaan hout kap in die bos. Sy ma gee vir hom ook ‘n heerlike pastei en ‘n bottel koeldrank vir sy middagete. Hy ontmoet dieselfde mannetjie langs die pad, met dieselfde versoek: “Gee my asseblief so ‘n ietsie van jou pastei en koeldrank, want ek is honger en dors.”
Hierdie seun het ook gedink hy is slim, want hy sê: “Hoe meer jy eet, hoe minder is daar vir my. Gaan weg!”
Die ou mannetjie het ook sy byl getoor, want toe hy die tweede hou daarmee kap, kap hy ook sy been raak. Hy moes ook huis toe gaan om die wond te laat behandel.
Dommie sê toe vir sy pa: “Pa, ek wil ook graag gaan hout kap.” Maar sy pa antwoord: “Jou twee broers het hulleself beseer. Jy moet maar liewer by die huis bly, want jy weet tog niks van houtkap af nie.” Maar Dommie hou aan neul en uiteindelik stem sy pa in: “Nou goed dan; gaan tog maar, maar jy sal gou jou les leer.” Sy ma gee toe vir hom ’n ou stuk droë brood en ‘n bottel suur bier en so is hy daar weg.
In die bos ontmoet hy dieselfde ou mannetjie wat vra: “Kan ek asseblief van jou pastei en koeldrank kry? Ek is baie honger en dors.”
Dommie sê: “Ek het net ou droë brood en suur bier, maar as jy dit wil hê, kan ons saam daaraan eet en drink.” Hulle gaan sit op die gras en toe Dommie sy ou brood uithaal, sien hy dat dit in die heerlikste pastei verander het. Tot sy verbasing het ook sy suur bier in die lekkerste koeldrank verander. Hulle het lekker geëet en gedrink en toe hulle klaar is, sê die mannetjie: “Omdat jy so goedhartig is en gewillig was om alles met my te deel, sal ek iets goeds vir jou doen. Sien jy daardie ou boom? Kap dit af en jy sal iets daaronder vind.” Toe stap hy weg.
Dommie het dadelik begin kap en toe die boom val, kry hy ‘n gans met goue vere onder die boom!
(Word vervolg)
(Die Broers Grimm: Die Goue Gans)
Watter eienskappe was waar van Dommie se twee broers?
| Ja | Nee | |
| Goeie maniere | ||
| Eerbied | ||
| Respek | ||
| Selfsugtigheid |
Dink jy Dommie se ma was goed vir hom? Gee redes vir jou antwoord.
Wat dink jy van Dommie se optrede teenoor die ou man? Was hy . . .
| Ja | Nee | |
| vriendelik? | ||
| mededeelsaam? | ||
| selfsugtig? | ||
| goedgemanierd? |
Watter les dink jy kan ons uit hierdie eerste gedeelte van die storie leer?
Wat dink jy daarvan dat hulle die jongste broer Dommie genoem het?
AKTIWITEIT 3
OM HARDOP TE LEES EN LEESSPOED AAN TE PAS
[LU 3.1.2]
Oefen tuis om die storie hardop te lees. Gee veral aandag aan vlotheid en duidelike uitspraak. Probeer ook om jou stem reg te gebruik in die dialoog-gedeeltes, dit wil sê waar mense met mekaar praat. Kom lees dit dan in julle groepe hardop aan mekaar voor. Jou opvoeder kan dalk ook versoek dat jy dit aan die klas voorlees. Wees dus gereed daarvoor!
AKTIWITEIT 4
OM DISKRIMINERENDE TAALGEBRUIK TE IDENTIFISEER EN TE BEVRAAGTEKEN [LU 2.4.4]
OM STEREOTIPES TE HERKEN EN TE BESPREEK, ASOOK HOE DIT GESKEP WORD [LU 3.8.2]
OM WOORDASSOSIASIES EN KONSEPTE TE ONDERSOEK EN UIT ‘N ANDER HOEK NA ONDERWERPE TE KYK [LU 5.4.5]
Bespreek in julle groepe wat julle van die jongste seun se bynaam dink. Gee veral aandag aan die volgende:
a) Dink julle sy ouers het reg opgetree oor die benaming “Dommie”?
b) Watter mooi of aanvaarbare byname ken julle? Skryf dit neer. Dink aan voorbeelde onder sportsterre, soos “Vinnige Fanie” (krieket), “Rocky” (boks), “Super Sarel” (tydrenne), “Pistol Pete” (tennis), ensovoorts.
c) Wat is julle groep se standpunt oor benaminge wat op ‘n negatiewe en diskriminerende manier verwys na mense se ras, geslag of gestremdhede?
AKTIWITEIT 5
OM GEVOLGTREKKINGS TE MAAK EN REDES DAARVOOR TE GEE
[LU 5.3.6]
Skryf nou ‘n paragraaf oor elk van die volgende:
Paragraaf 1
Ons groep se mening oor diskriminerende naamgewing
Paragraaf 2
Ek dink name kan mense seer maak
Taalstruktuur en -Gebruik
Woordsoorte
In hierdie module gaan ons vier verskillende soorte woorde probeer uitken. Hulle is
die selfstandige naamwoord (s.nw.)
die byvoeglike naamwoord (b.nw.)
die werkwoord (ww.)
die bywoord (bw.)
Die Selfstandige Naamwoord
Wat is selfstandige naamwoorde?
Dit is woorde wat een of meer van die volgende eienskappe besit:
‘n verkleiningsvorm,
soos gans – gansie
‘n enkelvoud en meervoud,
soos gans – ganse
woordjies soos ‘n en die kan ook altyd sinvol voor ‘n selfstandige naamwoord gebruik word,
soos ‘n gans of die gans;
‘n veer of die veer.
AKTIWITEIT 6
OM SELFSTANDIGE NAAMWOORDE TE IDENTIFISEER
[LU 6.2.11]
a) In elkeen van die vier sinne wat volg, is daar ‘n selfstandige naamwoord. Kan jy hulle uitken? Skryf hulle neer en skryf ook die rede waarom jy sê dis ‘n selfstandige naamwoord, byvoorbeeld:
Hy tel die gans op.
gans: dit word voorafgegaan deur die.
Sy het vir hom ou brood gegee.
Hy het ‘n bottel saamgeneem.
Sy wou net van sy vere pluk.
DIe prinses het lekker gelag.
b) Probeer ook om die selfstandige naamwoorde in die volgende leesstuk te vind. Merk hulle met ‘n kleur van jou keuse.
Ganse is “waghonde”
Ganse word beskou as uitstekende wagters in die nag. Sommige boere hou ganse op die plaas aan en maak vir hulle slaapplek naby die kraal waar die vee snags slaap. Indien daar ‘n bedreiging gedurende die nag is, is die ganse altyd die eerste om dit agter te kom en hulle maak dan dadelik ‘n groot lawaai. Sodoende word die boer gewaarsku en kan hy sy eiendom, byvoorbeeld klein lammertjies, beskerm.
Wanneer ons praat, sukkel ons gewoonlik nie met verkleinwoorde en meervoude nie. Omdat ons Afrikaanssprekers is, weet ons amper instinktief wat die korrekte gebruik van verkleinwoorde en meervoude is. Die uitdaging is om dit korrek te spel! Kom ons leer ‘n paar dinge oor ons eie taal.
Verkleinwoorde
In die storie het ons gelees van ‘n klein mannetjie. Die woord mannetjie is die verkleinwoord van man.
Kyk goed na die onderstreepte woord in die volgende sin.
Die bedreiging laat die ganse wakker word.
As 'n woord op -ng eindig en uit meer as een lettergreep bestaan, verander die -ng na -nkie om die verkleinwoord te vorm.
Op watter twee letters eindig die onderstreepte woord?
Uit hoeveel lettergrepe bestaan die onderstreepte woord?
Skryf nou die verkleinwoord neer van hierdie woord.
Wat het nou met die -ng gebeur?
Onthou die reël hierbo by punt 1.
AKTIWITEIT 7
OM DIE GEBRUIK VAN VERKLEINWOORDE TE VERSTAAN
[LU 6.2.11]
a) Gebruik nou jou kennis van die reël hierbo om die verkleinwoorde van die volgende neer te skryf:
| kussing | piesang | |||
| leuning | koning | |||
| woning | horing | |||
| ketting | piering | |||
| toring | doring |
b) Lees die gediggie hieronder sorgvuldig deur. Probeer om al die verkleinwoorde met potlood te onderstreep. Daarna sal julle opvoeder julle daarmee help en dan kan jy hulle in kleur merk.
Die Watervolkies
Stemme, stemme fluister,
saggies, saggies in die duister!
Is dit bo, of is dit onder,
al die suise, sagte ruise?
O, ek wonder, wonder, wonder!
Hoor die skaterlaggies-laggies
en die geute drup-drup saggies,
tienkel bo en doempel onder!
O, die volkies van die wolkies,
wat gesels hul so, ek wonder . . .
Nou’s dit oor, ‘k hoor niks meer buite.
Ek gaan loer tog deur die ruite –
nee, ‘k sien niks nie, net daar ver
dryf die wolkies met die volkies
oor die bome, verder, verder . . .
En ‘n kriekie kriek-kriek binne,
hou eers op, dan weer beginne;
Japie luister, gaap en . . . gapies . . .
en met armpie teen die raampie
val die outjie vas aan slapies.
A.G. Visser
Jy het reeds geleer dat ‘n selfstandige naamwoord ‘n enkelvoud en ‘n meervoud het. Ons gaan nou verder daaraan aandag gee.
AKTIWITEIT 8
OM EIE PERSOONLIKE SPELLYS TE SKEP [LU 6.1.1]
OM DIKWELS GEBRUIKTE WOORDE KORREK TE SPEL EN UITSONDERINGS TE HERKEN [LU 6.1.2]
OM DIE AFKAPPINGSTEKEN REG TE GEBRUIK [LU 6.1.4]
OM DIE GEBRUIK VAN MEERVOUD EN ENKELVOUD TE VERSTAAN [LU 6.2.11]
a) Voltooi die volgende tabel. Gebruik ‘n goeie woordeboek as jy vashaak.
| Meervoude en Verkleinwoorde | ||||
| Kernwoord | Meervoud | Verkleinwoord | ||
| veer | vere | veertjie | ||
| bottel | ||||
| brood | ||||
| wond | ||||
| woord | ||||
| potlood | ||||
| stem | ||||
| wolk | ||||
| kriek | ||||
| boek | ||||
| raam | ||||
| boom | ||||
| woning | ||||
| koning | ||||
| tekening | ||||
| rekening | ||||
| lam | ||||
| kalf | ||||
| bok | ||||
| plek | ||||
In die oefening hierbo het jy 'n belangrike reël ten opsigte van verkleinwoorde toegepas, naamlik:
Die verkleinwoord van woorde wat op -ng eindig, verander na _ .
b) Kom ons leer nog meer oor meervoude. Kyk baie goed na die volgende lys woorde:
| bof | bedryf | kerf | skroef |
| kreef | vyf | stoof | stof |
| kolf | straf | kloof | gerf |
| dief | duif | hoef | brief |
| sif | geloof | wolf | graaf |
Wat merk jy op omtrent hierdie woorde?
Hulle eindig almal op _ .
Skryf nou die meervoud van elk van hierdie woorde neer.
PASOP: sommige eindig op -we en sommige op -wwe!
Skryf nou self ‘n reël oor die meervoude van hierdie woorde wat op f eindig.
c) Gebruik nou 'n goeie verklarende woordeboek, soos die HAT, om die volgende woorde na te slaan en skryf hul meervoude neer.
| pa | |
| ma | |
| hoera | |
| karba | |
| balju | |
| skadu | |
| radio | |
| foto |
Sê die woorde hardop met die klem op die regte lettergreep.
Reël:
Woorde wat op ‘n beklemtoonde a eindig, kry ‘n afkappingsteken in die meervoud.
Woorde wat op u en o eindig, kry ook ‘n afkappingsteken in die meervoud, bv. skadu’s en foto’s.
d) Slaan nou ook die meervoude van die volgende woorde na:
| drie | |
| vlieg | |
| ploeg | |
| boog | |
| oog |
Is daar dalk van hierdie woorde wat jy in jou persoonlike woordelys op die laaste bladsy van jou module behoort te skryf? Doen dit dan dadelik, voordat jy Assessering
LU 1
LUISTER
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te luister en gepas en krities binne ‘n wye verskeidenheid situasies te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.1 dit geniet om na verskillende soorte mondelinge tekste te luister (soos stories, mites, dreunsang, grappe, raaisels en kort toneelstukke) en gepas reageer;
LU 3
LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 ‘n verskeidenheid fiksie- en nie-fiksietekste vir verskillende doeleindes lees:
3.1.1 lees onafhanklik deur ‘n verskeidenheid lees- en begripstrategieë gepas vir verskillende doeleindes te gebruik;
gebruik vroeëre kennis of tekstuele leidrade om betekenis vas te stel en afleidings te maak;
voer luidlees duidelik uit en pas leesspoed volgens doel en gehoor aan;
3.5 begrip van fiksie-tekste toon:
3.5.1 bespreek die hoofidee, intrige, ruimte, atmosfeer en karakters;
3.5.2 maak afleidings oor intrige en karakters;
3.8 omgewings-, kulturele en sosiale waardes in tekste identifiseer en bespreek:
3.8.2 stereotipes herken en bespreek en hoe dit geskep word;
3.11 relevante tekste kies en navorsingsvaardighede toepas om inligting in woordeboeke te verkry.
LU 5
DINK EN REDENEER
Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
5.1 taal gebruik om te dink en te redeneer:
5.1.3 onderskei tussen die voor- en nadele van iets en verduidelik dit;
5.3 inligting verwerk:
5.3.6 evalueer en maak gevolgtrekkings en verduidelik redes daarvoor;
5.4 taal gebruik om skeppend te dink:
5.4.1 vorm hipoteses oor die moontlike resultate of slot van ‘n reeks stappe of gebeurtenisse;
5.4.5 ondersoek woordassosiasies en konsepte om uit ‘n ander hoek na onderwerpe te kyk.
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.1 met woorde werk:
6.1.1 skep eie persoonlike spellys;
6.1.2 toon kennis van die kompleksiteit van alfabetiese volgorde waar die orde volgens die eerste letter gegee word;
6.1.4 gebruik skryftekens (kappie, deelteken, koppelteken, afkappingsteken) doeltreffend in alledaagse woorde;
6.1.6 gebruik hoofletters korrek;
6.2 met sinne werk:
6.2.11 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse selfstandige naamwoorde, asook getal, geslag en verkleinwoorde;
6.2.14 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse bywoorde (tyd, wyse, plek);
6.2.15 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse voornaamwoorde (persoonlik, besitlik, vraend, betreklik.
Memorandum
Aktiwiteit 1
Respek : ‘n Sinoniem vir eerbied, ontsag, agting/Respek vir iemand hê/koester.
Eerbied : Agting vir iemand anders/Gevoel van bewondering vir
iemand hê
Dissipline : Gehoorsaamheid aan gesag/Ordelike gedrag
Goeie maniere: Die korrekte wyse om iets te doen of om jou te gedra
Etiket : Die voorgeskrewe maniere waarop mens jou moet gedra
Verantwoordelikheid: Die plig wat jy het om rekenskap te gee van jou doen en
late.
Aktiwiteit 2
a)
| Ja | Nee | |
| Goeie maniere | √ | |
| Eerbied | √ | |
| Respek | √ | |
| Selfsugtigheid | √ |
b) Nee, want sy het hom ‘n ou stuk droë brood en ‘n bottel suur bier gegee.
c)
| Ja | Nee | |
| vriendelik? | √ | |
| mededeelsaam? | √ | |
| selfsugtig? | √ | |
| goedgemanierd? | √ |
d) Ons moet vriendelik, behulpsaam en mededeelsaam wees teenoor alle mense – ook teenoor vreemdelinge.
e) Leerders se antwoorde behoort te dui op onbillikheid, onregverdige en gemene spot, verkleinering.
Aktiwiteit 3
Luidlees.
Aktiwiteit 4
Groepe se menings.
Groepe se voorbeelde.
Groepe se standpunte (Ook individuele menings).
Aktiwiteit 5
Eie skryfwerk.
Aktiwiteit 6
a) brood – kan meervoud vorm, nl. brode.
bottel – voorafgegaan deur ‘n.
vere – kan enkelvoud vorm, nl. veer.
prinses – voorafgegaan deur die.
b) ganse wagters nag boere plaas slaapplek
kraal vee bedreiging nag lawaai boer eiendom lammertjies
_ng
drie
bedreiginkie
Dit het verander in _nk_
Aktiwiteit 7
a) kussinkie piesankie
leuninkie koninkie
woninkie horinkie
kettinkie pierinkie
torinkie dorinkie
b) skater-laggies (laggies)
volkies
wolkies
kriekie
armpie
raampie
outjie
slapies (kan voorafgegaan word deur die).
Aktiwiteit 8
a)
| Meervoude en Verkleinwoorde | ||||
| Kernwoord | Meervoud | Verkleinwoord | ||
| veer | vere | veertjie | ||
| bottel | bottels | botteltjie | ||
| brood | brode | broodjie | ||
| wond | wonde | wondjie | ||
| woord | woorde | woordjie | ||
| potlood | potlode | potloodjie | ||
| stem | stemme | stemmetjie | ||
| wolk | wolke | wolkie | ||
| kriek | krieke | kriekie | ||
| boek | boeke | boekie | ||
| raam | rame | raampie | ||
| boom | bome | boompie | ||
| woning | wonings | woninkie | ||
| koning | konings | koninkie | ||
| tekening | tekeninge | tekeninkie | ||
| rekening | rekeninge | rekeninkie | ||
| lam | lammers | lammetjie | ||
| kalf | kalwers | kalfie | ||
| bok | bokke | bokkie | ||
| plek | plekke | plekkie | ||
b) _f
| bowwe | bedrywe | kerwe | skroewe |
| krewe | vywe | stowe | stowwe |
| kolwe | strawwe | klowe | gerwe |
| diewe | duiwe | hoewe | briewe |
| siwwe | gelowe | wolwe | grawe |
Almal eindig op _we.
REËL: Wanneer ’n selfstandige naamwoord in die enkelvoud op f eindig, eindig dit in die meervoud op –we of –wwe. Daar is egter uitsonderings, soos graf – grafte; skof – skofte (bv. werkperiodes).
c)
| pa | pa’s |
| ma | ma’s |
| hoera | hoera’s |
| karba | karba’s |
| balju | balju’s |
| skadu | skadu’s |
| radio | radio’s |
| foto | foto’s |
d)
| drie | drieë |
| vlieg | vlieë |
| ploeg | ploeë |
| boog | boë |
| oog | oë |