Inside Collection (Course): Sosiale Wetenskappe: Aardrykskunde Graad 5
AARDRYKSKUNDE
Graad 5
FISIESE STRUKTUUR VAN SUID-AFRIKA
Module 7
STRUKTUUR VAN DIE RSA
1. Die reliëf (bou) van die RSA
Die oppervlak van die RSA is nie gelyk soos ‘n tafelblad nie. Hierdie ongelykheid van die oppervlak het te doen met die bou van die land. Die landvorme soos kusvlaktes, laaglande, plato’s, berge en riviere vorm almal saam die bou van ‘n land.
As jy na die onderstaande reliëfkaart van die RSA (of na enige natuurkundige kaart van die RSA in ‘n atlas) kyk, sal jy verstaan dat ons land op verskillende hoogtes bo seevlak lê.
![]() |
Op so ‘n reliëfkaart word verskillende kleure gebruik om die verskillende hoogtes bo seevlak aan te dui:
Groen = laagste dele, byvoorbeeld kusvlakte
Geel = net hoër as die groen dele (Klein Karoo)
Oranje = hoër dele
Bruin = berge
Pers / wit = hoogste bergpieke
Blou = water
Gebruik jou atlas en kleur jou kaart op bl. 3 volgens bogenoemde kleursleutel in.
Boustreke van die RSA
Kuslyn en kusvlakte
Die kuslyn is die gedeelte waar die land en die see mekaar ontmoet. Die RSA het ‘n baie lang en amper reguit kuslyn met min kape (punte soos Kaappunt) en min baaie (soos Tafelbaai en Valsbaai). Die enigste plek waar ons albei kry, is die Kaapse Skiereiland.
![]() |
n Nadeel van so ‘n reëlmatige kuslyn is dat daar min natuurlike hawens soos Kaapstad-hawe voorkom.
![]() |
Die kusvlakte is die lae streke langs die kus. Die RSA se kusvlakte vorm ‘n smal strook tussen die see en die berge van die platorand.
Die Klein Karoo en die Groot Karoo
Tussen die see en die platorand is daar egter ‘n area waar mens eers ‘n paar “trappe” moet klim om by die platorand uit te kom. Die trappe word die Karoo genoem. Die woord “Karoo” beteken hard. Dit is dus ‘n harde, droë wêreld.
Dit is twee plat, kleiner plato’s tussen bergreekse.
![]() |
Vanaf die suidkus (Mosselbaai) styg die land trapsgewys van die kusvlakte na die Outeniekwaberge en Langeberge. Die laagte wat hierna volg voordat die Swartberge bereik word, word die Klein Karoo genoem. Noord van die Swartberge lê die Groot Karoo wat ‘n trap hoër as die Klein Karoo geleë is, voordat die Nuweveldberge bereik word wat deel van die platorand vorm.
Plato en platorand
Die platorand dui aan waar die binnelandse plato begin en vorm ‘n aaneenlopende bergketting. Dit begin in die noordweste by die Kamiesberge en word suidwaarts die Roggeveldberge. Dan draai dit ooswaarts waar die Nuweveld-, Sneeu-, en Stormberge voorkom. In die noordooste kry ons die Drakensberge. Hier is die platorand baie hoër as die res en die hoogste bergpieke, Mont-Aux-Sources (3 299 m) en Thaba Ntlenyana (3 482 m) kom hier voor. Die platorand vorm ook ons land se belangrikste waterskeiding.
Suid-Afrika se berge is net soos alle ander berge oor die wêreld deur kromming, verskuiwing of plooiing gevorm.
Die Hexrivierberge, Cederberge, Swartberge en Langeberge is byvoorbeeld almal plooiberge in sedimentêre gesteentes. Baie is al afgeplat deur erosie en mens sien min daarvan. Voorbeelde van stollingsgesteentes is in die Drakensberge te sien.
Ongelukkig keer die platorand dat vogtige lug vanaf die see die binnelandse plato kan bereik. Dit veroorsaak dat ons binneland baie droogtes beleef. Die binnelandse plato is die groot, uitgestrekte deel van ons land wat aan die binnekant van die platorand lê. Dit vorm die grootste deel van die RSA en lê van 900 m (weste) tot 3 000 m (ooste) bo seevlak.
AKTIWITEIT 1
OM VRAE OOR DIE BOU VAN DIE LAND TE BEANTWOORD
[LU 1.1; 2.1]
Gebruik die inligting wat jy reeds opgedoen het, sowel as jou atlas om die volgende vrae oor die bou van Suid-Afrika te beantwoord.
Wat verstaan jy onder die bou van ‘n land?
Op watter soort kaart sal jy die bou van ‘n land bestudeer?
Gebruik jou atlas en vind uit in watter twee streke die kusvlakte op sy breedste is.
en
Wat dink jy is die beste: ‘n reëlmatige of gebroke kuslyn?
Hoekom sê jy so? Gee ‘n voorbeeld uit jou atlas van ‘n vasteland met ‘n gebroke kuslyn.
Wat verstaan jy onder die term “platorand”?
Tussen watter twee bergreekse lê die Groot Karoo?
en
Die Klein Karoo is geleë tussen die Outeniekwaberge en die ........................-berge in die suide, en die -berge in die noorde.
Gaan soek die presiese ligging van die bergpieke Mont-Aux-Sources en Thaba Ntlenyana in jou atlas op. In watter bergreeks is die bergpieke?
Wat verstaan jy onder die term “waterskeiding”?
Wat dink jy is die invloed van die hoogte bo seevlak van die plato op die temperatuur van die binneland?
Ander bergreekse
Veral die Cederberge in die noordweste en die bergreekse wat tussen die kusvlakte en die platorand in die suide lê, is belangrik. Die Drakenstein-, Hottentots-Holland-, Lange-, en Outeniekwaberge vorm die kusketting (nader aan die see), terwyl die Karooketting (nader aan die platorand) uit die Swart- en Winterberge bestaan. In die noordooste kry ons die Soutpansberge en die Waterberge.
Laeveld
Die laagliggende gebied tussen die Lebomboberge en die Drakensberge in die noordooste van die land word die Laeveld genoem.
AKTIWITEIT 2
OM MOONTLIKE OPLOSSINGS VIR 'N PROBLEEM TE BESPREEK
[LU 1.7; 2.3]
Vind ‘n oplossing vir die probleem wat die platorand aan vroeë reisigers in ons land gebied het.
Dit is die helfte van die 17 de eeu en die eerste nedersetters is van voornemens om die binneland van die Kaap-Kolonie te verken. Hoe nou gemaak om oor die Hexrivier- en Cederberge na die binneland te trek?
Bespreek moontlike oplossings in jul groepe en lê dit aan die klas voor. Neem in ag dat julle slegs oor 17de eeuse tegnologie beskik.
Assessering
LU 1
AARDRYKSKUNDIGE ONDERSOEK
Die leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om aardrykskundige en omgewingsbegrippe en -prosesse te ondersoek.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
bronne met nuttige aardrykskundige inligting kan kies en gebruik;
inligting kategoriseer;
'n indeks gebruik om plekke op wêreldatlaskaarte te vind;
deur projekte, bespreking, debat en diagramme, kennis en begrip van die vraagstuk toon [dra die antwoord oor].
LU 2
AARDRYKSKUNDIGE KENNIS EN BEGRIP
Die leerder is in staat om aardrykskundige en omgewingskennis en –begrip te toon.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
2.1 belangrike fisiese kenmerke van Suid-Afrika identifiseer en beskryf;
2.2 die skakels tussen natuurlike hulpbronne en ekonomiese bedrywighede identifiseer;
2.3 maniere waarop die fisiese omgewing menslike bedrywighede beïnvloed en hoe menslike bedrywighede die fisiese omgewing beïnvloed, beskryf.
Memorandum
AKTIWITEIT 1
Ongelykheid van die oppervlak van ‘n land – verskillende landvorme
Reliëf
NO en SW
Gebroke
Natuurlike hawens
Europa
Waar die binnelandse plato begin (aaneenlopende bergreeks)
Swart- en Nuweveldberge
Lange- en Swartberge
Drakensberg
Berge keer reëndraende wolke/winde van binneland af – binneland droër
Koeler