Inside Collection (Course): Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 8
AFRIKAANS EERSTE ADDISIONELE TAAL
Graad 8
Module 11
SKRYF OM INLIGTING OOR TE DRA
Aktiwiteit 1
Om
te skryf om inligting oor te dra
skeppend te skryf
sommige elemente van poësie te verstaan
| LU 3.2 | LU 4.1 | LU 4.4 | ||||||||||||||
1. Gebruik die inligting wat jy in aktiwiteit 2 oor die onderwerp van jou keuse ingewin het en skryf een paragraaf oor die voordele en die nadele van die saak.
2. Wanneer ‘n mens op skool is, dink jy nie juis daaraan dat dit ’n voorreg is om te kan studeer nie. Maar dit is! Dalk ken julle iemand wat nooit die kans gehad het om te leer lees en skryf nie. Dink net wat mis so ’n mens in die lewe.
Lees die volgende gediggies wat deur twee persone geskryf is wat nooit die geleentheid gehad het om skool toe te gaan nie. Hulle het laat in hulle lewe eers leer lees en skryf.
Die gediggies is deur dr Flip Strydom van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) opgeteken in ‘n boek getiteld Versies uit die veld.
Gedig A:
Blindheid (Uit Grootdrink)
Baie lank gelede is ek gebore
met oë groot en soekend in die wêreld.
Maar is met blindheid geslaan
in die plaashuis
op ’n kissie voor die opwasbak
toe die ander kinders
skool toe gaan.
Gedig B
Soos ‘n koelteboom in februarie se karoo (Uit Murraysburg)
Meneer, u vra oor geletterdheid in my lewe?
Wel, ek is ’n Karookind
En geletterdheid is vir my soos ’n koelteboom
In Februarie se Karoo.
Of ’n jaloers buitjie reën wat die stof laat ruik
In die strate van Murraysburg.
Of die doringboomgeur van die Kamdeboo-streek
Daar naby Graaff-Reinet.
Of die treurgesang op ’n Sondagaand
Uit die kerkie op die bult.
Karoomense kyk anders na dinge, Meneer.
(Bron: Die Burger, 16 Augustus 2003)
2.1 Lees die gediggies hardop by die huis. Indien moontlik, kan jy dit op band neem en terugspeel sodat jy na jouself kan luister.
2.2 Skryf een reël neer uit die gedig “Blindheid” wat vir jou sê dat die persoon wat in die gedig praat (die spreker) van kleins af graag meer van dinge wou weet (dat hy/sy gretig was om nuwe dinge te leer).
2.3 Skryf die woorde neer wat vir jou sê dat die spreker nog klein was toe hy/sy reeds moes begin werk en verduidelik hoekom jy hierdie woorde gekies het.
2.4 As ‘n mens sê dat iemand met blindheid geslaan word, beteken dit dat daardie mens blind geword het (m.a.w. hy/sy is nie blind gebore nie). Dit beteken verder dat die blindheid ’n groot ramp of ’n soort straf is. So ’n mens word benadeel omdat hy/sy nie kan sien nie. Hou dit in gedagte wanneer jy die volgende vrae beantwoord:
(a) Is die spreker in die gedig regtig fisies blind, m.a.w. kan hy/sy nie sien nie?
(b) Wat bedoel hy/sy dan met die woorde “Maar is met blindheid geslaan”?
2.5 In die gedig word die spreker teenoor ander mense gestel. Hulle omstandighede is anders as die spreker s’n. Wie is die mense en hoekom is hulle omstandighede verskillend?
2.6 In hierdie gedig is daar nie juis rym nie. Jy kan dus sien dat rym nie altyd in ’n gedig voorkom nie. Skryf die twee woorde neer wat wel rym.
2.7 Skryf kortliks in jou eie woorde die “storie” wat in “Blindheid” vertel word.
2.8 Skryf een woord neer om te sê hoe jy oor die spreker voel. (M.a.w. watter emosie voel jy as jy aan hom/haar dink?)
2.9 Kyk nou na die gedig “Soos ‘n koelteboom in Februarie se Karoo”. Hoe voel mense in Februarie (hoogsomer) oor ’n koelteboom in die Karoo? Gee ’n rede vir jou antwoord.
2.10 Hierdie gedig bestaan eintlik uit vier vergelykings. Skryf kortliks in jou eie woorde neer waarmee die spreker geletterdheid vergelyk.
2.11 As ‘n mens sê iemand is “jaloers”, beteken dit dat hy/sy afgunstig of nydig is (Eng: jealous / envious). Maar hier word van ‘n jaloers buitjie reën gepraat. Dit is streektaal. Wat dink jy beteken dit hier?
2.12 Het jy van hierdie gedigte gehou? Skryf ’n kort stukkie kommentaar oor die gedigte.
3. Kies een van die volgende onderwerpe, doen ’n bietjie navorsing en hou ’n dinkskrum daaroor met ’n paar van jou klasmaats. Maak dan ‘n kopkaart en gebruik die woorde daarin om ’n kort gediggie van jou eie te skryf.
Hier is die onderwerpe waaruit jy EEN moet kies:
Plaaskinders
Februarie in die Karoo
Om blind te wees
Om nie te kan lees nie
3.1 Jou kopkaart kom hier:
3.2 Die gedig se raamwerk en die rofwerk kom hier:
3.3 Die gedig in sy finale vorm kom hier. Gee jou eie titel.
| LU 3.2 | LU 4.1 | LU 4.4 | ||||||||||||||
Aktiwiteit 2
Om
te skryf om inligting oor te dra
skeppend te skryf
sommige elemente van poësie te verstaan
| LU 3.3 | LU 3.6 | LU 5.2 | ||||||||||||||
1. Vergelyk die volgende advertensies wat albei in die Distrikspos van 15 Augustus 2003 verskyn het. Voer die volgende opdragte uit wat daarop gebaseer is:
![]() |
![]() |
1.1 Wie is die “JY” wat in advertensie A aangespreek word?
1.2 Wat is die doel van albei hierdie advertensies?
1.3 Watter advertensie is vir jou die aantreklikste? Hoekom?
1.4 Na watter van die twee skole sou jy die graagste wou gaan? Gee ten minste twee redes.
1.5 Die volgende woorde kom uit die advertensies. Slaan hul betekenis na in ‘n verklarende woordeboek en skryf hulle neer:
(a) legio
(b) dinamies
pret
uitblink
inligting
1.6 Bloemhof se leuse is “Beter Beste Bloemhof!” Kan jy onthou wat ‘n mens dit noem as jy woorde so naby mekaar het wat met dieselfde klank begin? Kies die regte woord uit dié tussen hakies en omkring dit: (klanknabootsing, alliterasie, rym)
2. Beantwoord die volgende vrae in volsinne:
2.1 Indien jy graag muurbal sou wou speel en ook in ‘n koor sou wou sing, na watter skool sou jy gaan?
2.2 Watter gemeenskapsprojek wat by Parel Vallei aangebied word, sou jy wou ondersteun as jy daar ‘n leerder was?
2.3 Hoekom verkies jy daardie projek? Gee net jou eie mening.
2.4 Voltooi die volgende sin deur die korrekte woord in te voeg. Oppas vir die spelling!
Bloemhof is ’n meisieskool en daar is geen seuns nie. ‘n Skool waar net seuns
toegelaat word, word ‘n genoem.
2.5 Haal die sin aan wat vir jou sê dat die personeel van Bloemhof baie vir hul leerders
omgee: .
| LU 3.3 | LU 3.6 | LU 5.2 |
Assessering
| LU 3 |
| LEES EN KYKDie leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer. |
| Dit word bewys as die leerder: |
| 3.1 fiksie en nie-fiksie verhale lees; |
| 3.2 sommige elemente van poësie verstaan; |
| 3.3 sosiale tekste lees en daarop reageer; |
| 3.4 vir inligting lees (bv. grafiese diagramme en tabelle) en inligting opsom; |
| 3.6 leesstrategieë gebruik om leesbetekenis vas te stel; |
| 3.7 vir genot lees; |
| 3.8 begrip toon van die gebruik van naslaanwerke; |
| 3.9 ’n woordeskat van 5 000 tot 6 500 alledaagse woorde demonstreer. |
| LU 4 |
| SKRYFDie leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ’n wye verskeidenheid doeleindes te skryf. |
| Dit word bewys as die leerder: |
| 4.1 skryf om inligting oor te dra;4.4 skeppend skryf. |
| LU 5 |
| DINK EN REDENEERDie leerder is in staat om taal vir denke en redenasie te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik. |
| Dit word bewys as die leerder: |
| 5.2 taal gebruik om te dink. |
Memorandum
AKTIWITEIT 1
1. Eie paragraaf
2. Lees gediggies.
2.1 Lees en luister
2.2 “met oë groot en soekend”
2.3 “op ‘n kissie voor die opwasbak”. Rede: bv. dat dit wys dat die kind uitgebuit is (kinderarbeid) en van regte ontneem is (skool toe gaan).
2.4 (a) Nee die spreker is nie regtig blind nie.
(b) Intellektueel blind gemaak (leerders se eie, eenvoudiger woorde)
2.5 Die ander mense is die plaasmense wat bevoorreg was (kon skool toe gaan en leer).
2.6 geslaan / gaan
2.7 Eie woorde
2.8 Eie woord vir emosie (bv. hartseer, simpatiek, jammer, ens.)
2.9 Mense wens hulle het so ‘n boom gehad om onder te sit vir lafenis.
2.10 Geletterdheid word met die volgende vergelyk: ‘n Koelteboom; ‘n welkome buitjie reën; die geur van doringbome; die klank van kerkgesange (eie woorde waar moontlik).
2.11 Eie verklaring word gegee. Dit beteken eintlik net so ‘n bietjie reën.
2.12 Eie kommentaar
3. Eie onderwerp
3.1 Verduidelik wat ‘n kopkaart is en hoe mens daarmee te werk gaan.
3.2 Rofwerk – raamwerk van gedig.
3.3 Gedig. Praat oor die titel en verduidelik wat die rol van ‘n titel is.
AKTIWITEIT 2
1. Advertensies
1.1 Leerders wat moontlik na die skole sou wou kom
1.2 Om nuwe leerders te werf
1.3 Eie keuse en mening
1.4 Eie keuse en redes
1.5 Woordbetekenisse:
a) baie
b) lewendig / aktief
c) iets wat aangenaam is
d) goed doen
e) informasie
1.6 alliterasie
2.
2.1 Parel Vallei
2.2 eie keuse
2.3 eie mening
2.4 seunskool
2.5 “Ons personeel dra ons belange op die hart!”