SOSIALE WETENSKAPPE: AARDRYKSKUNDE
Graad 9
KAARTWERK
Module 12
Herkenning van topografiese kenmerke op vertikale lugfoto’s en ortofotokaarte
Herkenning van topografiese kenmerke op vertikale lugfoto’s en ortofotokaarte
Die herkenning van eienskappe op vertikale foto’s vereis baie oefening. Julle het al in graad 8 ‘n bietjie daarmee te doen gekry. As jy die eienskappe nie met die eerste oogopslag kan herken nie, moet agtergrondkennis ingesamel word deur sekere geografiese vrae te vra:
Waar is die gebied in die land geleë?
Watter tipe klimaat en plantegroei kom hier voor?
Watter tipe boerderyaktiwiteite kom hier voor?, ens.
Om antwoorde hiervoor en meer te kry, word ‘n atlas en ander bronne gebruik.
Die belangrikste aanwysers op fotobeelde is die volgende:
Vorm
Geometriese vorms dui mensgemaakte voorwerpe aan. Spoorlyne word aangetoon as dun lyne met geleidelike krommings en ineenvloeiings. Paaie is breër en het reghoekaansluitings. Kulturele kenmerke is egalig en volg ‘n definitiewe patroon. Natuurlike kenmerke, soos byvoorbeeld riviere wat kronkelende samevloeiings het, is onreëlmatig.
Grootte
Geboue kan dieselfde vorm hê, maar grootte toon die verskil tussen ‘n hut, ‘n huis en ‘n fabriek aan. Padwydtes is gewoonlik baie duidelik.
Skaduwees
Hoë, dun voorwerpe soos kerktorings, telefoonpale, vuurtorings en fabriekskoorstene kan te klein wees om direk van bo af te sien. Hul skaduwees dui hul ligging en vorm aan.
Lang skaduwees verberg egter sekere kenmerke, dus moet lugfoto’s nie te vroeg soggens of laat in die namiddag geneem word nie. Die beste tyd om lugfoto’s te neem is gewoonlik tussen 10:00 en 14:00.
Skaduwees dui ook rigting aan en dit help die kaartleser om die foto te oriënteer. In die Suidelike Halfrond wys skaduwees gewoonlik suidwaarts.
AKTIWITEIT 1
[LU 1.4]
Die son kom in die ooste op en gaan in die weste onder. Vertikale lugfoto’s moet gewoonlik twee uur voor en twee uur na 12:00 geneem word. In watter rigting sal die skaduwees gedurende hierdie tyd val?
Soggens:
Smiddae:
Skakering
Die skakering op ‘n foto hang af van die hoogte van die son en die hoeveelheid lig wat deur die gefotografeerde voorwerp weerkaats word. Die volgende is ‘n paar nuttige voorbeelde om skakerings op die proef te stel:
| Donker | Ligter | Rede |
| Oneffe oppervlaktes | Gladde oppervlaktes | Gladde oppervlaktes weerspieël lig, terwyl oneffe oppervlaktes lig absorbeer. |
| Helder water | Troebel water | Lig dring helder water binne, maar word deur troebel water weerkaats. |
| Staande water | Golwende waters | Golwe veroorsaak verspreide ligweerkaatsing. |
| Nat grond | Droë grond | Nat grond absorbeer meer lig. |
| Plantegroeibedekking | Kaaltes | Plantegroeibedekking absorbeer lig (sand lyk wit). |
| Geploegde landerye | Braakland | Ploeëry breek die weerkaatsingsoppervlak in kleiner deeltjies op. |
| Gevestigde gewasse | Jong gesaaides | Groter gewasse absorbeer meer lig. |
| Riviere | Paaie | Teerpaaie lyk wit, omdat hulle lig weerkaats (selfs al lyk hulle vir ons op die grond donker). |
Tekstuur
Tekstuur dui grondgebruik- of grondbedekkingspatrone aan. Sitrusboorde het byvoorbeeld ‘n growwer tekstuur as mielielande. Sand lyk glad, terwyl ruigtes/bossieveld wollerig voorkom.
‘n Paar algemene grondgebruike met hul eienskappe is:
Bewerkte landerye
gewasse het ‘n “bont” voorkoms
afgemaaide graanlande of landerye waarop voergewasse verbou word, is lig en glad
daar is duidelik merkbare stippellyne waar gewasse op landerye met dorsmasjiene geoes word
geploegde landerye lyk gestreep en is donkerder
Boorde en wingerde
het gewoonlik ‘n skaakbordtekstuur
vrugteboorde het ‘n growwe tekstuur
wingerde het ‘n fyner tekstuur en lyk soms gestreep
Woude of plantasies
lyk gespikkeld of bont
het ‘n maklik herkenbare streeppatroon
Weiveld
is klein kolle of vertoon gespikkeld
voetpaadjies wat deur diere uitgetrap is, kom voor as dun wit lyne wat gewoonlik by ‘n watersuiping ineenvloei.
Kenmerke wat maklik geïdentifiseer kan word
By ‘n skool is daar gewoonlik sportterreine.
‘n Golfbaan het skoonveld en setperke.
Stedelike nedersettings toon residensiële verskille duidelik aan:
geboutjies naby mekaar, bv. in die middestad dui lae-inkomstewonings aan;
geboue op groot terreine weg van die middestad dui die hoë-inkomstewonings aan.
Lughawens het maklik uitkenbare aanloopbane.
Mynbougebiede het opvallende mynhope en uitgrawings.
Telefoon- en kraglyne kan uitgeken word aan die reëlmatigheid van hul skaduwees.
2. Kaartvaardighede
In graad 8 het jy met die basiese kaartvaardighede kennis gemaak en oefeninge op die 1:50 000 topografiese kaart van Alice gedoen. Hiertydens het jy geleer om:
ligging te bepaal
ware peiling te doen en rigting te bepaal
afstand te bereken deur van die skaal gebruik te maak
die kaartnaam te verduidelik
konvensionele kaarttekens te herken
hoogtevoorstelling op kaarte te herken
kontoerpatrone te identifiseer
Hierdie kennis en nog meer gaan vanjaar gebruik word deur van die 1:50 000 topografiese kaart van Bloemfontein en ‘n 1:10 000 ortofotokaart van ‘n gedeelte van die kaart gebruik te maak.
Voordat ons egter met praktiese oefeninge begin, is daar ‘n paar nuwe kaartvaardighede wat julle eers moet bemeester.
Afstandberekening op ‘n ortofotokaart
‘n Ortofotokaart is altyd op ‘n skaal van 1:10 000 geteken. Gaan soos volg te werk om werklike afstand te bepaal:
Meet die afstand tussen twee punte akkuraat met ‘n liniaal in sentimeter (of ‘n toutjie as dit kronkelend is).
Herlei hierdie afstand na km of m afhangende wat gevra word.
| Wat is die werklike afstand in km? | Wat is die werklike afstand in m? |
| 10 cm x 10 000100 000 cm ÷ 100 0001 km | 10 cm x 10 000100 000 ÷ 1001000 m |
Hoekom word daar met 100 000 en 100 gedeel?
Die metrieke eenheidsmate kan soos volg voorgestel word:
| Km | Hm | Dm | M | dm | cm | mm |
| 1 | 0 | 0 | 0 | 0 | 0 | |
| 1 | 0 | 0 |
Daar is dus 100 000 cm in 1 km
en
100 cm in 1 meter
Jy kan dus die korter metode gebruik as jy onthou dat jou skaal van 1 : 10 000 dieselfde is as:
1 cm = 10 000 cm
1 cm = 100 m (÷ 100)
1 cm = 0,1 km (÷ 100 000)
AKTIWITEIT 2
Bereken die werklike afstand in meter as die afstand op ‘n 1:10 000 ortofotokaart die volgende is:
5,8 cm.
10,1 cm.
Bereken die werklike afstand in kilometer as die afstand op ‘n 1 : 10 000 ortofotokaart die volgende is:
92,2 cm.
15,6 cm.
[LU 1.3]
Assessering
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 1 |
| AARDRYKSKUNDIGE ONDERSOEKDie leerder is in staat om ondersoekvaardighede te gebruik om aardrykskundige en omgewingsbegrippe en –prosesse te ondersoek. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 1.3 gevolgtrekkings oor inligting uit bronne soos foto’s, kaarte, atlasse, grafieke en statistiek ontleed en maak [werk met bronne];inligting tussen verskillende bronne korreleer; |
Memorandum
AKTIWITEIT 1:
Soggens - effens suidwes
Smiddae - effens suidoos
AKTIWITEIT 2:
580 m
1 010 m
9,22 km
1,56 km