Inside Collection: Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
DIE ETE EN DIE ETER
Module 10
OOR WERKWOORDE EN NOG MEER
Die Werkwoord
Om werkwoorde te verstaan en uit te ken is nogal maklik. In ‘n volledige sin is daar altyd minstens een werkwoord. Die werkwoord dui die aksie aan. Ons kan werkwoorde dus uitken as doenwoorde.
AKTIWITEIT 1
OM HOOFWERKWOORDE, HULPWERKWOORDE EN DEELWOORDE KORREK TE GEBRUIK
[LU 6.2.12]
a) Soek die werkwoorde in die volgende paragraaf en merk hulle in kleur:
Langs die pad sien die dominee hulle. Hy gryp die jongste suster aan die hand, en daar sit hy ook vas! Dommie stap net vinnig aan en die dominee volg die drie meisies in die tou. Dit gaan maar swaar met hom, want hy is nie juis fiks nie.
b) Hulpwerkwoorde: Julle weet alreeds dat daar drie hooftye is, naamlik teenwoordige, verlede en toekomende tyd. In die paragraaf hierbo is al die werkwoorde in die teenwoordige tyd geskryf. Kom ons neem die eerste sin as voorbeeld:
Langs die pad sien die dominee hulle.
Verlede tyd: Langs die pad het die dominee hulle gesien.
Toekomende tyd: Langs die pad sal die dominee hulle sien.
Ons noem het ‘n hulpwerkwoord, want hy help om die werkwoord sien na die verlede tyd te verander. Die werkwoord kry dan ge- vooraan.
Die woord sal is ook ‘n hulpwerkwoord, want hy help om die
werkwoord _ na die _ tyd te verander.
Voltooi die volgende sinne deur die regte vorm van die werkwoord neer te skryf en waar dit nodig is ook die hulpwerkwoord in te vul.
Gisteraand na ete _ ek Mamma _ (help) om die tafel af te dek.
Die skole _ volgende week _ (sluit) vir die vakansie.
Wie _ my potlood se punt _ (breek)?
Juffrou _ môre besluit wie die prys _ (wen).
Deelwoorde: Dit is woorde wat afgelei word van werkwoorde en wat eindig op
-end of –ende in die teenwoordige tyd, soos:
Kinders wat speel, is spelende kinders.
Juffrou knik goedkeurend met haar kop.
As die werkwoord op –n eindig, eindig die deelwoord op –d(e), byvoorbeeld:
Hy is siende blind (hy is baie onoplettend).
Die _ leeu storm op sy prooi af. (brul)
Die _ kinders is baie vrolik. (lag)
Ek hou nie van _ voete nie. (sleep)
Die _ baba moenie gesteur word nie. (slaap)
Kyk of jy die volgende een kan regkry!
(v) Die kampioen is _ toegejuig. (staan)
Skryftekens
Daar is vier skryftekens wat julle reg moet kan gebruik, want dis baie belangrik om korrek te kan spel, naamlik:
die kappie ^
die deelteken ..
die koppelteken –, en
die afkappingsteken ’.
Julle het alreeds kennis gemaak met die afkappingsteken toe ons vroeër met meervoude gewerk het. Nou gaan ons meer leer oor die ander drie skryftekens.
AKTIWITEIT 2
OM LEESTEKENS (KAPPIE, DEELTEKEN, KOPPELTEKEN, AFKAPPINGSTEKEN) KORREK TE GEBRUIK [LU 6.1.4]
OM KORREKTE WOORDVERDELINGS TE HERKEN [LU 6.1.7]
Moenie vergeet van jou persoonlike woordelys op die laaste bladsy nie.
a) Die kappie
Woorde met ‘n kappie word in die volgende gevalle gebruik om die besondere klank van die klinker aan te dui. Dit dui meestal in oop lettergrepe die besondere lang e-klank in Afrikaanse woorde aan, byvoorbeeld:
affêre, bêre, blêr, êrens, hê, kêrel, kwêvoël, lê, lêer, liniêr, nêrens, rêrig, sê, skêr.
Ons kry dit ook in betekenisse soos die volgende:
As ons nie nou gou maak nie, is daar pêre (moeilikheid).
Ek het op my stêre geval (op my boude).
Moet hom nie so têre (terg) nie.
Probeer die woorde hierbo met ‘n kort e-klank uitspreek. Jy sal agterkom dat dit nie reg klink nie.
Reël: Wanneer die e-klank in Afrikaans ‘n lang, oop klank is, kry dit ‘n kappie op. Die lettergreep met die e is oop, naamlik
bê-re kê- rel rê-rig
LET WEL: Die kappie word gewoonlik nie in geslote lettergrepe gebruik nie, byvoorbeeld:
kers, perd, pens stert, pers, ver, werd, ensovoorts.
MAAR: blêr en skêr, want ons kan dit verbuig tot blêrende en skêre waar die lettergreep oop is.
(i) Ons kry die kappie ook by oop lettergrepe in slegs ‘n paar Afrikaanse woorde wat ‘n i-, o-, en u-klank het, byvoorbeeld:
wîe (wigge), môre(more), sôre (sorg), brûe (brugge).
(ii) Spreek nou die volgende woorde hardop uit. Watter verskil maak die kappie aan die uitspraak?
se (Piet se boek) sê
leer lêer
tere têre
wie wîe (wig)
(iii) Skryf die volgende woorde oor en plaas die kappie op die regte klinker:
| populere | |
| rerig | |
| dissiplinere | |
| miljoener | |
| affere | |
| rue | |
| bedleend | |
| aikona | |
| bogom | |
| primere | |
| ietermago | |
| militere |
b) Die deelteken
‘n Deelteken doen presies wat dit sê: dit toon altyd ‘n lettergreepverdeling aan.
Toon nou die lettergreepverdeling met ‘n skuins potloodstrepie (/) aan.
breër hoë vlieë
oë treë voëltjie
knieë geëet geleë
vroeër oorloë ongeërg
seël moeë vlieënde
spieël droë seëvier
c) Die koppelteken
(i) ‘n Koppelteken word gebruik waar dieselfde woorde herhaal word, soos in:
gou-gou speel-speel nou-nou lag-lag
hoes-hoes staan-staan fluit-fluit twee-twee
(ii) 'n Koppelteken word ook gebruik om verwarring uit te skakel, byvoorbeeld:
na-aap buite-om poot-uit bek-af (neerslagtig)
raad-op pronk-ertjie bo-oor been-af (verlief)
(iii) Daar is ook ander woorde wat met koppeltekens geskryf word, byvoorbeeld:
pa-hulle A-groep graad 5-klas X-strale
Oom Jan-hulle Suid-Afrika Wes-Kaap
Kyk of jy nou nog vyf koppelwoorde kan byvoeg.
(iv) Die koppelteken word ook gebruik wanneer ons ‘n langerige woord aan die einde van ‘n reël breek. Dit behoort slegs aan die einde van ‘n lettergreep gedoen te word. Die volgende is voorbeelde:
voor-beelde of voorbeel-de
tafel-maniere of tafelma-niere
tele-visie of televi-sie
gesins-lede
letter-greep
koppel-woord
d) Die afkappingsteken
Julle het alreeds in ‘n vorige module kennis gemaak met die afkappingsteken toe ons met meervoude gewerk het . Kom ons kyk weer daarna.
Ons kan sê die afkappingsteken is ‘n “hoë komma”. Dit word veral gebruik om te wys dat ‘n klank of klanke afgekap (weggelaat) is. ‘n Afkappingsteken word ook ‘n apostroof genoem; in Engels ken julle dit as ‘n “apostrophe”. Voorbeelde is die volgende:
g’n (Hy het g’n plesier nie).
daar’s (Daar’s niks geld in my sak nie). Dit word in spreektaal of dialoog gebruik en nie in formele tekste nie.
hy’t (Ons weet hy’t dit gedoen). Ook slegs aanvaarbaar in spreektaal of dialoog.
Kan jy nog ‘n paar in sinnetjies gebruik? Probeer.
(ii) Die afkappingsteken word ook gebruik by sommige meervoudsvorme (sien Aktiwiteit 1(c) en verkleinwoorde. Die volgende is voorbeelde:
Meervoudsvorm: a’s : Die woord “saam” het twee a’s.
Hugo’s : Die Hugo’s is ons bure.
Verkleinwoorde: a’tjie b’tjie Hugo’tjie
Kan jy aan nog voorbeelde dink? Skryf dit neer.
aktiwiteit 3
om die idiomatiese uitdrukkings te leer en te gebruik [lu 6.4.6]
om metaal te gebruik [lu 6.6.1]
a) Leer die volgende idiome en probeer om dit in jou mondelinge aanbiedings en skryfwerk te gebruik:
| IDIOOM | BETEKENIS |
| Hy eet soos ‘n wolf. | (i) Hy eet gulsig. |
| Sy eet met lang tande. | (ii) Sy eet teësinnig (is nie lus vir die kos nie). |
| As die muis dik is, is die koring bitter. | (iii) As iemand genoeg geëet het, is die lekkerste kos nie meer so lekker nie. |
| Die ou perd eet genadebrood. | (iv) Die ou perd kan nie meer werk nie, maar sy baas sorg steeds vir hom. |
b) Probeer uitvind wat die volgende idiome beteken en skryf die betekenis neer:
(i) Sy oë is groter as sy maag.
(ii) Hy hou sy lyf aasvoël.
(iii) As die kos koud word, word die vrou warm.
(iv) Hy is gou by die bak, maar lui by die vak.
AKTIWITEIT 4
OM DIE LYDENDE EN BEDRYWENDE VORM KORREK TE LEER GEBRUIK
[LU 6.2.7]
OM METATAAL TE GEBRUIK [LU 6.6.1]
Wanneer ons skryf of praat, gebruik ons gewoonlik die bedrywende (aktiewe) vorm, byvoorbeeld: Sy lees die boek.
Soms kan dit egter verwarrend wees om die bedrywende vorm te gebruik en sal ons woorde duideliker wees as ons liewers die lydende vorm gebruik. Kyk byvoorbeeld na die volgende sin – dit is in die bedrywende vorm geskryf:
Die kind wat die hond gebyt het, is siek.
Dis glad nie duidelik wie gebyt het nie. Dit sal in hierdie geval baie duideliker wees om die sin in die lydende vorm te skryf, naamlik:
Die kind wat deur die hond gebyt is, is siek.
Kyk nou mooi na die volgende eenvoudige voorbeeldsinne:
| Bedrywende vorm | Lydende vorm |
| Sy lees die boek.Sy het die boek gelees.Lees sy die boek?Het sy die boek gelees? | Die boek word deur haar gelees.Die boek is deur haar gelees.Word die boek deur haar gelees?Is die boek deur haar gelees? |
a) Skryf die volgende sinne in die lydende vorm:
Gys koop die kaartjies.
Vanessa het die glas gebreek.
Bestel jou pa die koffie?
Het die kat ‘n duif gevang?
b) Skryf die volgende sinne in die bedrywende vorm:
Die rots word deur die sterk man opgetel.
Die springmielies is deur Corrie opgeëet.
Word die regte vurk deur jou gebruik?
Is die tafel deur jou gedek?
Assessering
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.1 met woorde werk:
6.1.1 skep eie persoonlike spellys;
6.1.2 toon kennis van die kompleksiteit van alfabetiese volgorde waar die orde volgens die eerste letter gegee word;
6.1.4 gebruik skryftekens (kappie, deelteken, koppelteken, afkappingsteken) doeltreffend in alledaagse woorde;
6.1.6 gebruik hoofletters korrek;
6.2 met sinne werk:
6.2.11 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse selfstandige naamwoorde, asook getal, geslag en verkleinwoorde;
6.2.14 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse bywoorde (tyd, wyse, plek);
6.2.15 verstaan die funksie en gebruik van alledaagse voornaamwoorde (persoonlik, besitlik, vraend, betreklik.
Memorandum
Aktiwiteit 1
a) sien gryp sit stap volg gaan is
b) sien ; toekomende tyd
(i) het ; gehelp
(ii) sal ; sluit
(iii) het ; gebreek
(iv) sal ; wen
c) (i) brullende
laggende
slepende
slapende
staande
Aktiwiteit 2
a) (iii) populêre
rêrig
dissiplinêre
miljoenêr
affêre
rûe
bedlêend
aikôna
bôgom
primêre
ietermagô
militêre
b) bre/ër ho/ë vlie/ë
o/ë tre/ë vo/ël/tjie
knie/ë ge/ëet ge/le/ë
vroe/ër oor/lo/ë on/ge/ërg
se/ël moe/ë vlie/ën/de
spie/ël dro/ë se/ë/vier
c) (iii) Eie voorbeelde
d) (i) Eie voorbeelde
(ii)Eie voorbeelde
Aktiwiteit 3
a) (i) Hy wil altyd meer kos hê as wat hy kan opeet.
Hy vertrek sodra hy klaar geëet het.
As die kos gereed is en die mense kom nie eet nie, word die vrou kwaad.
Hy eet graag, maar is lui om te werk.
Aktiwiteit 4
a) (i) Die kaartjies word deur Gys gekoop.
Die glas is deur Vanessa gebreek.
Word die koffie deur jou pa bestel?
Is ‘n duif deur die kat gevang?
b) (i) Die sterk man tel die rots op.
Corrie het die springmielies opgeëet.
Gebruik jy die regte vurk?
Het jy die tafel gedek?
Verwerkte uittreksel uit:
Goeie maniere en etiket – Emsie Schoeman
Dis belangrik dat ‘n mens mooi eet. Nie net ter wille van jou selfrespek nie, maar ook ter wille van mense wat saameet en regtig nie wil hoor hoe ander hulle sop eet of praat met ‘n mond vol kos nie. Daar word gesê dat dit die ware toets vir ‘n fyn opgevoede mens is: al is hy alleen, bly sy tafelmaniere asof hy aan ‘n koningstafel eet.
‘n Mens wil aan tafel lekker ontspan, en dis reg so. As kinders van kleins af geleer word om reg te eet, word dit deel van hulle en sal hulle hul nooit in enige geselskap hoef te skaam vir die tafelmaniere wat hulle tuis geleer het nie. Kinders moet tuis só leer eet dat hulle in ‘n hotel of restaurant of by ‘n formele banket sal weet wat om te doen.
Dek byvoorbeeld nou en dan vir groter kinders deftig tafel, met ‘n viergangmaaltyd en al die fyner dinge wat daarmee saamgaan, byvoorbeeld ‘n vrugtekelkie as voorgereg, daarna sop en ‘n hoofgereg, en kaas as nagereg. So sal hulle leer hoe om alle tafelgereedskap te hanteer. Wissel die manier van dek af: die klein messie een keer regs, net buitekant die groot mes, en dan weer op die kleinbordjie. Laat hulle saam doen en kook. Dit kan ‘n heerlike gesinsgedoente afgee.
‘n Gesin moet minstens een maaltyd per dag rustig saam eet, sodat hulle kan lag en gesels. Kinders leer só van hul ouers dat lede van ‘n gesin mekaar oor hul dag se bedrywighede moet uitvra, die atmosfeer aan ‘n eettafel ontspanne en gesellig moet wees en dat die kos geniet moet word. Seuns kan agter hul stoele wag totdat die ouers eers sit en ‘n seun moet leer om sy ma se stoel vir haar uit te trek en te help instoot voordat hyself gaan sit.
Dit bly ‘n goeie gewoonte om ‘n kort tafelgebed te doen sodra almal sit en net voordat die ete begin. Kinders kan ook beurte kry om die tafelgebed te doen.
Die gebruik van eetgerei
Daar word nie met tafelgereedskap op die tafel gespeel nie.
Mes en vurk word nie soos ‘n potlood vasgehou nie, maar met die hef onder die hand en die wysvinger uit òp die hef om te kan vasdruk en sny.
In die geval van sop of nagereg word die lepel of teelepel wel soos ‘n potlood vasgehou, met die hef tussen die duim en voorvinger deur.
(L.W. Kinders is geneig om eetgerei by die hef te omklem, d.w.s. om die hef in die palm van die hand toe te vou. Dit is natuurlik verkeerd.)
Die vurk mag nie met die linkerhand omgekeer word om rys of ertjies mee te eet nie. ‘n Stukkie vleis of aartappel kan onder gesit word as basis om die rys op die vurk te hou. As geëet word met die vurk in die linkerhand en die mes in die regterhand, bly die vurk se tande na onder.
Dis reg om, wanneer daar niks is om te sny nie, die vurk in die regterhand te neem met die tande na bo, en so met die vurk alleen te eet. Kos word na die mond gelig; die kop word nie afgebuig na die kos nie.
Kos word nie deurmekaargekrap nie.
Pasta soos spaghetti word nie gesny nie, maar om ‘n vurk gedraai. ‘n Lepel mag in die regterhand geneem word om hiermee te help, maar die vurk met lang noedels word alleen na die mond gebring. ‘n Mens leer dit taamlik maklik aan, net soos die gebruik van die Chinese eetstokkies.
Baie belangrike “mag-nie’s
Moenie jou mond so volstop dat jou wange uitpof soos ‘n paar Skotse doedelsakke nie, het Hannah Wolley in haar sewentiende-eeuse etiketboek geskryf.
As jy self jou kos inskep, moenie jou bord oorlaai nie. Skep klein porsies.
Vingers mag nie afgelek word nie.
Kinders moet van kleins af leer om nie te rek nie, maar om te vra, byvoorbeeld: Mag ek die botter kry, asseblief? Of net: Botter asseblief. Mense wat saameet, moet vir mekaar sorg en byvoorbeeld suiker of slaai aangee. Vra byvoorbeeld: Het Pa al suiker gekry? As iemand iets nodig het, moet daarom gevra word.
Moenie oor die tafel nies of hoes nie. Nies of hoes in ‘n sakdoek met die kop weggedraai. As ‘n mens erg stik of neus snuit, is dit beter om van die tafel op te staan.
Kinders mag nie op stoele ry nie, met ander woorde die voorpote lig sodat die stoel op sy agterpote staan nie. Dis gevaarlik vir die stoel en sy sitter!
Eetgerei word nie gebruik om te wys of te beduie nie.
Met kos in die mond mag nie gepraat word nie. Neem dus klein genoeg happies kos in die mond sodat, as ‘n vraag gestel word, jy taamlik gou kan antwoord sonder om jou te versluk.
Elmboë mag nie op die tafel gesit word terwyl geëet word nie. Nadat die borde weggeneem is, mag wel lekker gesels word met die elmboë op die tafel. Maar dan is almal klaar geëet.
Elmboë moet teenaan die sye gehou word en nie soos vlerkies uitstaan nie.
Negatiewe aanmerkinge word nie oor kos gemaak nie. Kinders mag nie vra: Wat is dit? Of sê: Ek wil nie daarvan hê nie.
Kinders mag nie begin eet vóór die gasvrou of gasheer, ma en pa nie.
Ander belangrike reëls aan die eettafel
Die mes en vurk word neergesit voordat die mond met ‘n servet afgevee word en voordat enigiets gedrink word. Vee die mond liggies af.
Maak kinders daarop attent dat ‘n vloeistof soos melk of vrugtesap (in die geval van kinders), wyn of water gedrink word. Kos word nooit met enige vloeistof afgesluk nie.
As die hoofgereg klaar geëet is, word die mes en vurk langs mekaar neergesit met die hewwe reguit na die eter; die mes regs met die skerp kant na links en die vurk met die tande na bo gedraai.
Die bord word glad nie teruggestoot nie. Indien moontlik, moet al die kos op die bord opgeëet word.
Aan ‘n mes en vurk moet nie krampagtig vasgehou word nie. Nadat kos na die mond gebring is, word die mes en vurk neergesit, die vurk met die tande na onder, en so dat die twee stukke eetgerei ‘n X of ‘n omgekeerde V vorm. Kelners sal dan weet dat die persoon nog nie klaar geëet het nie. As dié happie kos klaar gekou en ingesluk is, kan rustig gesels word, met die hande op die skoot en die eetgerei nog steeds op die bord. Die punt van die hef mag nie op die tafel rus nie.
Addisionele inligting
Kinders kom moeilik by ‘n tafel by as hulle nog klein is. Sit hulle op ‘n kussing, sodat hulle kan leer om vorentoe en regop op hul stoel te sit en oor hul bord te eet.
‘n Mens mag net aan tafel lees as jy alleen eet.
As skottels omgestuur word waaruit hulle self moet skep, moet hulle van alles ‘n klein porsie neem. Ook dié kos wat hulle normaalweg tuis nie eet nie, behalwe as hulle daarvoor allergies is. Van die kos (geregte) waarvan hulle hou, mag hulle net ‘n klein porsie neem. Daar is altyd geleentheid vir ‘n tweede porsie, en dan het almal reeds gehad. As die vleis in kleinerige stukke gesny is, mag twee stukke geneem word, anders net een stuk.
Roer tee of koffie saggies met die teelepel om. As ‘n drank soos koffie in ‘n beker sonder ‘n piering aangebied word, is dit in elk geval informeel en kan jy maar die teelepel op enige gerieflike plek neersit, soos op die kant van ‘n gebruikte bord of in ‘n skinkbord. Beskuit of koekies word nie in koffie of tee gedoop nie – in elk geval nie in hoë geselskap nie!
Lede van ‘n gesin moet sorg dat hulle betyds is vir ete en kom sodra hulle gevra word. As hulle laat is, moet hulle om verskoning vra. Hulle moet onthou om te laat weet as hulle nie vir ete tuis kan wees nie.
‘n Mens draai nie tafelgereedskap, soos byvoorbeeld ‘n mes, om om te sien of dit regte silwer is nie.
Enige ongeluk moet onopsigtelik reggestel word. Om ‘n fout aan tafel te maak, is nie die einde van die wêreld nie. Vra om verskoning indien nodig en lag maar stilletjies vir jouself. Dit gebeur die een of ander tyd in die beste familie!