Inside Collection: Afrikaans Huistaal Graad 5
AFRIKAANS HUISTAAL
Graad 5
ARENDE VANG NIE VLIEË NIE
Module 12
INFORMATIEWE TEKSTE, SKRYFWERK EN SINSDELE
AKTIWITEIT 1
OM NA ‘N INFORMATIEWE TEKS TE LUISTER EN DIE INLIGTING OP GEPASTE MANIER TE GEBRUIK
[LU 1.5]
a) Kom ons lees oor nog ‘n arend. Luister en volg eers terwyl jou opvoeder die volgende teks aan julle voorlees.
Dokter Anton Rupert
Op 18 Januarie 2006 is dr. Anton Rupert rustig in sy slaap in sy huis op Stellenbosch oorlede. Hy was 89 jaar oud.
Wyle Anton Rupert was ‘n groot Suid-Afrikaner en entrepreneur – een van die grootstes wat ons land nog opgelewer het. Hy was nie net in Suid-Afrika bekend nie, maar eintlik dwarsoor die wêreld. Hy was nie net ‘n baie ryk sakeman nie, maar het ook op ander gebiede uitgestyg as ‘n leier. Ons onthou hom ook as bewaarder en beskermer van die kunste en van ons natuurlike omgewing.
Dr. Rupert is op 4 Oktober 1916 op Graaff-Reinet gebore. Hy het altyd gesê die Karoo leer ‘n mens om nederig te wees, veral as jy daar na die sterre kyk. Hy het daar skool gegaan en toe aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Hy wou eers ‘n mediese dokter word, maar kon nie die kursus bekostig nie en het toe maar ‘n graadkursus in die wetenskap geloop. Daar het hy ook vir Huberte Goote ontmoet – die vrou met wie hy 64 jaar lank getroud sou wees. (Mevrou Rupert is in 2005 oorlede, slegs ‘n paar maande voor dr. Rupert).
Hy het alreeds in 1957 ‘n aantal beginsels vir Afrikaanse besighede neergelê. Drie daarvan was die volgende:
EERLIKHEID – omdat eerlikheid altyd die langste duur.
DIENS – altyd: aan jou kliënt, jou medemens en jou volk.
GELOOF – dat alles goed sal gaan as elkeen sy plig doen.
As gevolg van sy suksesse in die sakewêreld het hy een van die rykste mense in die wêreld geword. Hy het die Rembrandt-tabakmaatskappy met slegs R20 begin en dit tot ‘n reusebesigheid uitgebou. Later het hy ook Rothmans International in Europa gevestig, en nog later ook Richemont gestig. Laasgenoemde is ‘n maatskappy wat ander maatskappye besit, soos Dunhill, Mont Blanc en Cartier, wat luukse goedere soos juwele verkoop. Sy Richemont-besigheid is ongeveer R128 miljard werd!
In die laaste jare van sy lewe het hy amper al sy tyd gewy aan sy ideaal om ‘n netwerk oorgrensparke tussen lande in Suider-Afrika te vestig. Dit moes toerisme bevorder en werk skep vir werklose mense. Daarom het hy in 1997 die Stigting vir Vredesparke saam met oudpresident Nelson Mandela en wyle prins Bernard van Nederland begin. Behalwe sy bewaringswerk in Suider-Afrika, het hy ook daarmee gehelp in Europa, Suid-Amerika en Suidoos-Asië. Verder het hy in die 1960’s gesorg dat gratis mediese dienste vir 25 jaar lank aan die mense van Lesotho gelewer word.
Baie van ons historiese geboue is deur sy toedoen gered, soos die vissershuisies van Kassiesbaai op Waenhuiskrans, die Van Wouw-huismuseum in Pretoria, die Reinethuis en die Drostdy-hotel op Graaff-Reinet, die wit huise in die middedorp van Stellenbosch, die Bo-Kaap-museum en talle, talle meer.
Hy en sy vrou was ook entoesiastiese versamelaars van kunswerke. Baie daarvan is te sien in die Rupert-museum op Stellenbosch.
Bewaarder van die land se historiese geboue, kunsskatte, die natuurerfenis en diereryk; bevorderaar van kleinsake as die groot skepper van werkgeleenthede; weldoener wat ander gehelp het om hulleself te help – noem maar op.
Arm begin. Skatryk geword. Wêreldwyd bekend. Beroemd. Gerespekteer. Onder sy vriende het talle koninklikes en staatshoofde getel. Maar dié wat hom geken het, sal hom onthou as iemand wat altyd nederig gebly het.
BRONNE: Gedenkbylae by Die Burger, Januarie 2006.
Die Kerkbode, 10 Februarie 2006.
AKTIWITEIT 2
OM ‘N VERSKEIDENHEID LEES- EN BEGRIPSTRATEGIEË TOE TE PAS
[LU 3.1.2]
b) Gebruik die leesstuk om in julle groepe hardop aan mekaar voor te lees. Probeer veral om duidelik en vloeiend te lees en om die moeiliker woorde korrek uit te spreek.
AKTIWITEIT 3
OM TE SOEKLEES VIR SPESIFIEKE BESONDERHEDE
[LU 3.1.1]
c) Gebruik nou die leesstuk om die antwoorde op die volgende vrae neer te skryf:
In watter provinsie is Graaff-Reinet? (Jy kan ook jou atlas gebruik om te kyk waar dié dorp is).
Wat het die Karoo vir dr. Rupert geleer?
Dink jy dr. Rupert was regtig ‘n groot Suid-Afrikaner? Gee minstens twee redes vir jou antwoord.
Probeer jou bes om te skryf wat ‘n oorgrenspark is.
Wenk: breek die woord eers in lettergrepe op en dink goed daaroor voordat jy die betekenis hier neerskryf.
v) Ons het gelees van wyle dr. Anton Rupert en wyle Prins Bernard. Wat beteken dit as die woord “wyle” voor iemand se naam geskryf of gesê word? As jy nie weet nie, sal jy dit op bladsy 1405 in die HAT vind.
As mens ‘n stuk skryfwerk van goeie gehalte wil doen, is dit nodig om dit deeglik voor te berei. Jy moet jou gedagtes eers agtermekaar kry en dit selfs met iemand anders bespreek. Jy moet ook moeite doen om die regte inligting te kry. Op die volgende bladsye gaan julle so ‘n proses volg.
AKTIWITEIT 4
OM ‘N ONDERWERP TE KIES EN TE ONTLEED EN ‘N DINKSKRUM OOR IDEES TE HOU
[LU 4.2.1]
Stap 1:
Julle opvoeder sal julle in klein groepe verdeel (liewer nie minder as drie in ‘n groep nie). Julle eerste taak is om julle onderwerp te kies, naamlik die naam van ‘n Suid-Afrikaner wat julle as “ ‘n arend” beskou en oor wie julle wil skryf. Elke groep moet ‘n ander “arend” kies. Elke groeplid moet minstens een naam voorstel en redes gee waarom hy / sy die persoon voorstel. Die groepie moet alle voorstelle bespreek en uiteindelik een naam kies.
Wat is belangrik?
Die persone wat voorgestel word, moet Suid-Afrikaners wees.
Die persone kan van enige geslag of ras wees.
Die persone moet goeie rolmodelle wees.
Julle ouers mag julle vooraf help met name wat julle kan voorstel.
Wenk: Dink bv. aan Suid-Afrikaners wat presteer het in sport, politiek, die vermaaklikheidswêreld, die mediese wetenskap of ander wetenskappe, liefdadigheid, die versorging van mense, die kunste en musiek. Julle moet egter seker maak dat julle meer as een bron van inligting oor die persoon kan bekom.
AKTIWITEIT 5
OM INLIGTING ONDER VERSKILLENDE HOFIES TE KATEGORISEER
[LU 5.3.3]
Stap 2:
Wanneer julle jul keuse gemaak het, moet julle besluit watter soort inligting julle oor die persoon gaan soek, bv. kinderjare, opleiding, prestasies, persoonlike eienskappe (soos Roland Schoeman se lojaliteit aan SA of dr. Rupert se nederigheid). Maak daarvan aantekeninge sodat julle sal weet waarna om te soek en uiteindelik ‘n inhoudsopgawe kan saamstel.
AKTIWITEIT 6
OM INLIGTING TE VERSAMEL EN TE KATEGORISEER
[LU 5.3.1]
Stap 3:
Elke groeplid bring die inligting (getik, geskryf, prente, knipsels, boeke, sketse) wat hy / sy versamel het klas toe en deel dit met die ander groeplede sodat almal oor dieselfde inligting beskik. Besluit sommer ook oor die volgorde waarin julle die inligting gaan plaas en stel ‘n voorlopige inhoudsopgawe op. Skryf dit onder mekaar neer.
Tot hier het jy saam met jou groeplede gewerk. Van nou af is jy eers weer op jou eie.
AKTIWITEIT 7
OM ‘N KONSEPWEERGAWE TE SKRYF MET ‘N SENTRALE IDEE EN GOED ONTWIKKELDE PARAGRAWE
[LU 4.2.3]
Stap 4:
Jy moet die inligting wat deur jou groeplede versamel is so deeglik bestudeer dat dit vir jou voel asof jy die persoon self ken. Eers daarna kan jy begin skryf. Jou eerste poging sal op los papier wees, sodat jy jou gedagtes goed agtermekaar kan kry. Wanneer jy daarmee tevrede is, moet jy jou konsepweergawe netjies op ‘n skoon vel papier of in jou werkboek neerskryf, onder die opskrif: Inhoudsopgawe.
aktiwiteit 8
om jou skryfwerk te hersien deur te let op jou inhoud en taal en die terugvoer van jou groeplede en opvoeder te gebruik
[lu 4.2.5]
Stap 5
Hersien jou werk deur dit self deeglik te lees. Gebruik jou woordeboek om seker te maak dat jy spelfoute regstel en dat jy hoofletters en ander leestekens reg gebruik het. Is jou inhoud korrek? Handel elke paragraaf oor gedagtes wat bymekaar hoort?
AKTIWITEIT 9
OM JOU SKRYFWERK TE PROEFLEES EN DIE FINALE KONSEP TE KORRIGEER
[LU 4.2.5]
Stap 6
In hierdie stap moet julle nou julle skryfwerk aan die ander groeplede wys. Julle moet probeer om mekaar goeie raad te gee oor hoe julle jul werk kan verbeter en watter foute julle nog kan uitskakel. Julle opvoeder kan ook hiermee help. Skryf die verbeteringe in ‘n ander kleur as jou konsepweergawe neer.
AKTIWITEIT 10
OM JOU WERKSTUK FINAAL OOR TE SKRYF EN OOR DIE ASSESSERING DAARVAN TE DINK
[LU 4.2.5]
Stap 7
Dink ‘n gepaste naam vir jou werkstuk uit en skryf dit bo-aan. Dit word gevolg deur jou inhoudsopgawe. Daarna skryf jy jou finale weergawe sodat dit gereed kan wees vir assessering.
Taalstruktuur en -Gebruik
AKTIWITEIT 11
OM TE LEER DAT TALE WOORDE BY MEKAAR LEEN EN OM NUUTSKEPPINGE TE GEBRUIK
[LU 6.1.11]
Ons land se inwoners het ‘n verskeidenheid moedertale. Julle moedertaal is Afrikaans, maar daar is ook Suid-Afrikaners wat ‘n ander moedertaal het. Kan julle dalk ‘n paar noem?
a) Leenwoorde
Tale “leen” dikwels woorde by mekaar. Afrikaans het ook woorde by ‘n verskeidenheid ander tale geleen.
b) Nuutskeppinge
Afrikaans is ‘n taal wat “lewe” en “groei”, want daar word gedurig nuwe woorde in ons taal bygevoeg. Die meeste van hierdie nuwe woorde kom uit leerareas soos Tegnologie en Elektronika, omdat daar gedurig nuwe ontwikkelinge en uitvindings is. Dink maar aan nuwe woorde wat ontstaan het uit die uitvinding en ontwikkeling van die sellulêre foon en die digitale kamera. Die volgende verrassende voorbeeld kom in die 2005-uitgawe van die HAT (bladsy 1051) voor:
SMS: ‘n Stelsel waarvolgens selfoongebruikers boodskappe kan stuur en ontvang.
“SMS” word dus reeds as ‘n nuwe woord in Afrikaans erken.
(i) Sulke nuwe woorde word nuutskeppinge of neologismes genoem. Die volgende woorde is enkele voorbeelde van nuwe Afrikaanse woorde wat die afgelope paar jaar geskep is. Slaan in ‘n verklarende woordeboek soos die HAT na wat elkeen beteken.
Bemagtig:
Infrastruktuur (van ‘n land):
e-pos (HAT, p.220)
Vigs:
CD-ROM:
(ii) Probeer om sinne te maak waarin elk van die volgende nuutskeppinge se betekenis duidelik is:
voëlgriep:
biep:
oorgrensparke (kom voor in leesstuk oor dr. Anton Rupert):
AKTIWITEIT 12
OM DIE VERSKILLENDE KOMPONENTE VAN SINNE (ONDERWERP, VOORWERP, GESEGDE) UIT TE KEN EN TE VERSTAAN
[LU 6.2.1]
Julle het alreeds in graad 4 kennis gemaak met die verskillende dele (komponente) waaruit sinne bestaan, naamlik die onderwerp, gesegde en voorwerp. Kom ons hersien dit gou.
Voorbeeldsin: Die kaptein vang die bal.
Om die komponente van ‘n sin uit te ken, is dit die maklikste om by die gesegde te begin. Jy moet net onthou dat die gesegde die woord(e) in die sin is wat aandui of die sin in die teenwoordige, verlede of toekomende tyd geskryf is. Dit is dus gewoonlik ’n werkwoord (teenwoordige tyd), maar dit word ook saam met ‘n hulpwerkwoord soos sal of het gebruik in die toekomende en verlede tyd. Om die drie komponente uit te ken, moet jy drie vrae vra.
Vraag 1: Wat is die gesegde in die voorbeeldsin hierbo? Dit is vang.
Vraag 2: Wie of wat vang? Die antwoord op die vraag is die onderwerp, naamlik: Die kaptein.
Vraag 3: Wat vang hy? Die antwoord op die vraag is die voorwerp, naamlik: die bal.
Die drie komponente van die sin is dus die volgende:
Onderwerp: Die kaptein
Gesegde: vang
Voorwerp: die bal.
Hier volg nou drie enkelvoudige sinne. Gebruik die voorbeeld hierbo om die drie vrae korrek te vra sodat jy kan vasstel wat die onderwerp, gesegde en voorwerp in elke sin is.
(a) Petro skryf ‘n brief.
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
(b) Hy het die potlood opgetel.
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
(c) Pappa sal my vanmiddag saamneem.
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
Maak nou drie enkelvoudige sinne van jou eie – een in die teenwoordige, een in die verlede en een in die toekomende tyd. Breek elke sin in sy komponente op en dui so aan wat die onderwerp, gesegde en voorwerp in elke sin is.
Sin 1 (Teenw. tyd):
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
Sin 2 (Verlede tyd):
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
Sin 3: (Toekomstige Tyd):
Onderwerp:
Gesegde:
Voorwerp:
AKTIWITEIT 13
OM SINNE UIT TE BREI DEUR DIE BYVOEGING VAN BYVOEGLIKE NAAMWOORDE, BYWOORDE EN BYSINNE
[LU 6.2.3]
Jy praat nie altyd in kort, enkelvoudige sinne nie. Jou sinne is dikwels langer, omdat jy woorde byvoeg wat beter beskryf wat jy eintlik wil sê. In die volgende sinne is die skuinsgedrukte woorde bygevoeg om ‘n duideliker beskrywing te gee.
Die vinnige atleet het die moeilike wedloop gewen.
(Twee byvoeglike naamwoorde)
Juffrou sê sy sal my later help. (Bywoord)
Die man wat baie haastig is, het vertrek. (Bysin)
(Jou opvoeder sal vir julle verduidelik wat ‘n bysin is).
Brei die volgende sinne uit met byvoegings soos gevra:
Die fotograaf neem _ foto’s. ( Byvoeglike naamwoord).
Mamma het _ ‘n koek gebak. (Bywoord).
Die _ dokter het vir my _ medisyne gegee. (Twee byvoeglike naamwoorde).
Die boom __, is baie hoog. (Bysin).
Dr. Rupert was ‘n _ (Byvoeglike naamwoord) man wat __. (Bysin).
My persoonlike woordelys
(GEBRUIK DIE VOLGENDE OPSKRIFTE)
| Woord | Opgebreek | Kort sin |
Assessering
LU 1
LUISTER
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te luister en gepas en krities binne ‘n wye verskeidenheid situasies te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
1.5 luister na verskillende soorte informatiewe tekste (aanwysings, instruksies, ens.), kennis neem van hoofidees of spesifieke besonderhede en inligting op ‘n gepaste manier gebruik.
LU 3
LEES EN KYK
Die leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
3.1 ‘n verskeidenheid fiksie- en nie-fiksietekste vir verskillende doeleindes lees:
lees onafhanklik deur ‘n verskeidenheid lees- en begripstrategieë gepas vir verskillende doeleindes te gebruik:
soeklees vir spesifieke besonderhede;
3.1.1.5 maak voorspellings oor inhoud en slot;
3.1.2 voer luidlees duidelik uit en pas leesspoed volgens doel en gehoor aan.
LU 4
SKRYF
Die leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
4.2 idees deur die skryfproses ontwikkel en organiseer:
4.2.1 kies en ontleed ‘n onderwerp en hou ‘n dinkskrum oor idees met behulp van kopkaarte, vloeidiagramme en lyste;
4.2.2 ontwikkel die onderwerp deur relevante bronne te raadpleeg, gepaste inligting te kies en idees te organiseer;
4.2.3 skryf ‘n konsep-/eerste weergawe met ‘n sentrale idee en goed ontwikkelde paragrawe;
4.2.5 hersien werk deur op inhoud, gepaste taal, struktuur en styl te fokus en terugvoering van klasmaats en onderwyser te gebruik;
4.2.6 proeflees en korrigeer finale konsep;
4.2.7 lewer finale weergawe in en besin oor die assessering van die stuk.
LU 5
DINK EN REDENEER
Die leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
5.2 taal gebruik om te ondersoek:
5.2.4 soek inligting in ander relevante bronne;
5.3 inligting verwerk:
5.3.1 versamel en kategoriseer relevante idees en verduidelik die redes vir die kategorisering;
5.3.3 organiseer inligting onder verskillende hofies.
LU 6
TAALSTRUKTUUR EN -GEBRUIK
Die leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer.
Dit is duidelik wanneer die leerder:
6.1 met woorde werk:
6.1.11 begryp dat tale woorde by mekaar leen en gebruik nuutskeppinge;
6.2 met sinne werk:
6.2.1 begryp dat sinne uit verskillende komponente bestaan (onderwerp, voorwerp, gesegde) en verstaan die funksie van elk;
6.2.3 brei sinne uit deur adjektiewe, bywoorde, byvoeglike en bywoordelike bepalings en bysinne by te voeg;
6.2.17 verstaan en gebruik gepaste sinonieme, antonieme, homonieme en homofone;
6.4 bewustheid en gebruik van styl ontwikkel:
6.4.6 toon kennis van die gebruik van bekende idiomatiese uitdrukkings.
Memorandum
Aktiwiteit 1
a) Luisteroefening.
Aktiwiteit 2
b) Leesoefening.
Aktiwiteit 3
c) (i) Dis in die Oos-Kaap.
(ii) Die Karoo het hom geleer om nederig te wees.
(iii) Die leerders se antwoorde sal varieer.
(iv) oor-grens-park
Dis ‘n park wat oor verskillende lande se grense strek.
(v) Dit beteken dat die persoon alreeds oorlede is.
Aktiwiteite 4 – 10
Groep en individuele werk.
Taalstruktuur en -gebruik
Alle aktiwiteite wat betrekking het op Leeruitkoms 6 moet slegs as voorbeelde beskou word. Dit word aanbeveel dat die opvoeder self meer aktiwiteite / voorbeelde byvoeg, aangesien dié wat in die module voorkom nie as noodwendig voldoende beskou behoort te word nie.
Aktiwiteit 11
a) Leenwoorde
b) Nuutskeppinge
(i) Bemagtiging: Om mag te gee aan iemand.
Infrastruktuur: Stelsels wat mekaar ondersteun sodat sake glad verloop, bv. vervoer, gesondheidsdienste, bankwese, mynwese, ens.
e-pos: Briefwisseling met behulp van die internet.
vigs: Dodelike, hoogs aansteeklike siekte, deur ‘n virus oorgedra in die bloed, gekenmerk deur ernstige verlies aan weerstand teen infeksie.
CD-ROM: ‘n Kompakte skyf in die rekenaar wat data vertoon wat slegs gelees kan word en nie verander kan word nie.
(ii) Voëlgriep is ‘n siekte wat onder voëls voorkom en wat tans na al hoe meer lande versprei.
Die selfoon het ‘n biepgeluid gemaak om aan te toon dat daar ‘n SMS is.
Die oorgrenspark tussen Suid-Afrika en Mosambiek is baie groot en baie diere kom daarin voor.
Aktiwiteit 12
a) Onderwerp: Petro
Gesegde: skryf
Voorwerp: ‘n brief.
b) Onderwerp: Hy
Gesegde: het opgetel
Voorwerp: die potlood.
c) Onderwerp: Pappa
Gesegde: sal (vanmiddag) saamneem
Voorwerp: my.
Eie sinne.
Aktiwiteit 13
(a) mooi / interessante / duidelike / ens.
(b) gister / vanoggend / haastig / ens.
(c) vriendelike / slim / vreemde / goeie / ens.
lekker / slegte / ens.
(d) wat groen is, ens.
(e) ryk / slim / goeie / nederige
wat baie mense gehelp het.