Inside Collection (Course): Wiskunde Graad 3
Die module maak steeds voorsiening vir konsolidering, vaslegging en assessering van werk wat in die vorige grade onderrig is, met spesiale aandag aan die getal 100.
Getalbegrip tot 200.
Bewerkings: – Konsolideer alle werk gedoen in Grade 1 en 2.
Die name van die maande en die korrekte skryfwyse moet aandag geniet. Gesprekke rondom die seisoene en ‘n gesonde omgewing (Natuurbewaring) sorg vir integrering met ander leerareas.
Weerkaarte van die verskillende seisoene kan gehou word, bv. Februarie – somer; Mei – herfs; Augustus – winter; November – lente. Dit is nie die beste maande van die betrokke seisoene nie, maar dit is die maande waartydens die leerders die hele maand skool bywoon. Voltooi elke keer ‘n blokgrafiek aan die einde van die weerkaart, sodat die weersomstandighede vergelyk en bespreek kan word. Sodoende kan die blokgrafieke aan die einde met mekaar vergelyk word en die leerders kan self ontdek watter weersomstandighede eie aan hul eie omgewing en ook eie aan elke seisoen is. Die opvoeder kan die betrokke jaar se grafieke bêre om dit dan met die volgende jaar se grafieke te vergelyk.
Die take en aktiwiteite in Module 2 is nog hoofsaaklik gemik op konsolidasie en vaslegging van die werk van die vorige grade. Dit is egter noodsaaklik dat daar steeds van konkrete apparaat gebruik gemaak sal word om alle begrippe wat nie baasgeraak is nie te herhaal, te verduidelik en vas te lê.
Dit is van die allergrootste belang dat die leerders heeltemal vertroud moet wees met die tiene-groepering van ons getalstelsel:
10 ene word gegroepeer as 1 groep van tien
10 groepe van tien word gegroepeer as 1 groep van honderd
10 groepe van honderd word gegroepeer as 1 groep van duisend, ens.
Leerders moet werk met tellers wat in honderde, tiene en ene gegroepeer is. Indien daar nie tellers beskikbaar is nie, kan van die volgende semi-konkrete apparaat gebruik gemaak word.
![]() |
Die spreikaarte is baie handig wanneer plekwaardes, herbenoeming, vereniging van getalle en die 0 as plekhouer verduidelik word.
Aangeheg is 'n voorbeeld van spreikaarte en 'n sleutel vir die skrywe van alle getalname. Met die spreikaarte kan die leerders enige getal bou en indien die leerders die basiese getalname ken, kan hulle enige getalnaam uit die dele opbou en skryf. Rol dit af en gee dit aan elke leerder om by hom te hou.
Voorbeeld:
Getalnaam: eenduisend eenhonderd sewe en dertig
![]() |
Indien u hierdie voorbeeld wil gebruik, vergroot dit en rol dit dan af op manilla.
| 0 nul 1 een 2 twee 3 drie 4 vier 5 vyf 6 ses 7 sewe 8 ag 9 nege 10 tien 1 1 elf 12 twaalf 13 dertien 14 veertien 15 vyftien 16 sestien 17 sewentien 18 agtien 19 negentien (neëntien) |
|
| 100 eenhonderd 200 tweehonderd 300 driehonderd 400 vierhonderd 500 vyfhonderd 600 seshonderd 700 sewehonderd 800 aghonderd 900 negehonderd | 101 eenhonderd en een102 eenhonderd en twee103 eenhonderd en drie104 eenhonderd en vier105 eenhonderd en vyf106 eenhonderd en ses107 eenhonderd en sewe108 eenhonderd en ag109 eenhonderd en nege |
| 1 000 eenduisend 3 000 drieduisend 5 000 vyfduisend 7 000 seweduisend 9 000 negeduisend | 2 000 tweeduisend4 000 vierduisend6 000 sesduisend8 000 agduisend10000 tienduisend |
| 111 eenhonderd en elf112 eenhonderd en twaalf113 eenhonderd en dertien114 eenhonderd en veertien115 eenhonderd en vyftien116 eenhonderd en sestien117 eenhonderd en sewentien118 eenhonderd en agtien119 eenhonderd en negentien (neëntien)120 eenhonderd en twintig121 eenhonderd een en twintig122 eenhonderd twee en twintig123 eenhonderd drie en twintig124 eenhonderd vier en twintig125 eenhonderd vyf en twintig126 eenhonderd ses en twintig127 eenhonderd sewe en twintig128 eenhonderd ag en twintig129 eenhonderd nege en twintig |
| 110 eenhonderd en tien120 eenhonderd en twintig130 eenhonderd en dertig140 eenhonderd en veertig150 eenhonderd en vyftig160 eenhonderd en sestig170 eenhonderd en sewentig180 eenhonderd en tagtig190 eenhonderd en negentig (neëntig) |
Voorblad.
Dit is nodig dat daar 'n voorafgesprek oor die wisseling van seisoene sal wees. Sommige leerders kan 'n verduideliking van hoe die seisoene ontstaan en hoekom daar verskillende seisoene in 'n jaar is, baie stimulerend vind.
Die leerders moet die prente voltooi deur dít wat eie is aan elke seisoen by te teken, bv. 1 Lente: blomme en bloeisels, 2 Somer: alles by die see of swembad, 3 Herfs: blare in herfskleure aan bome en op die grond en 4 Winter: sneeu op die berge of reën (waar van toepassing) en bome sonder blare. Bespreek dit met die leerders.
Dit word nou van die leerders verwag om die name van die maande in die regte volgorde te ken en te kan skryf. 'n Soortgelyke "jaar en seisoen-horlosie" kan in die klas aangebring word, wat kan help dat die leerders die skrywe van die name kan bemeester.
Verduidelik aan die leerders waar die ekstra dag elke 4 jaar vandaan kom. Daar mag van die leerders wees wat dit in hierdie stadium sal verstaan, alhoewel dit geensins van hulle verwag word nie.
Hierdie werkvel kan 'n gesprek oor die Olimpiese Spele uitlok.
Dit is belangrik dat die leerders moet begryp dat as 1 by die 9 ene van 99 getel word, daar nog 'n groep van tien is. Altesaam is daar nou 10 groepe van tien, wat dan weer saam gegroepeer word om 1 groep van honderd te maak.
Net so moet hulle ook begryp dat as hulle ene van eenhonderd wegneem, hulle eers die groep van honderd en dan 1 groep van tien moet ontbind voordat hulle ene sal hê om weg te neem.
Die 0 as plekhouer kan vir sommige leerders probleme gee, daarom is dit noodsaaklik dat die leerders tellers wat in honderde, tiene en ene gegroepeer is (of die afgerolde blokke), asook die spreikaarte, moet gebruik as hierdie werk gedoen word. Gee soortgelyke aktiwiteite, indien dit nodig blyk te wees.
Indien die leerders met plekwaardes sukkel, pak die getalle met die spreikaarte uit.
Dit kan van baie waarde wees as die voorbeeld van die veelvoudkaart op bl. O - 6, afgerol en aan elke leerder gegee word. Hierdie voorbeeld is verder gedoen as die een op die werkvel, maar dit kan vir die hele jaar gebruik word en daar is tog leerders wat in hierdie stadium ook in veelvoude van 6, 7, 8 en 9 wil en kan tel.
Wys vir die leerders hoe om die antwoorde van die tafels, x en ÷, van die kaart af te lees.
Voorbeeld: 2 x 4 = 8 Gaan van 2 regs en bo van 4 af - ontmoet by 8 (sien pyle)
15 ÷ 3 = 5 Gaan van 15 links na 3 en van 15 op - 5de veelvoud
Veelvoude: Tel tot by die 10de veelvoud en terug
![]() |
In hierdie stadium moet die leerders weet dat 100c = R1. Die leerders het nou 'n goeie begrip van 100 en sal besef dat 120c gelyk is aan R1 en nog 20c., dus kan hulle nou die korrekte skryfwyse leer, nl. 120c = R1,20. Leer dit aan tot 199c = R1,99.
As hulle dit bemeester het, doen dan die omgekeerde: R1,20 = 120c tot
R1,99 = 199c.
Dit is noodsaaklik dat die leerders die volmaak en ontbinding van 'n tien baie goed moet verstaan. Dit is 'n belegging vir die toekoms. Hoe meer konkrete werk hier gedoen word, hoe beter sal die leerders dit begryp en verstaan.
Hulle moet kan vertel wat hulle doen. As hulle nie kan sê hoe hulle by die antwoord uitkom nie, is die konkrete beeld nie goed genoeg vasgelê nie. Gee baie en gereelde oefeninge in dié verband.
Onthou, as u nie die volmaak en ontbinding net na mekaar wil doen nie, staan dit u vry om die volgorde van die werkvelle te verander.
Vooraf beplanning :
(i) Verskeie vorms van driehoeke: gelyksydige, gelykbenige, reghoekige en enige ander driehoeke.
(ii) Verskeie reghoeke en vierkante.
(iii) Gradeboë en liniale, genoeg vir elkeen in die groep op die mat.
Vind eers uit wat die leerders reeds weet van die sye en hoeke van driehoeke, reghoeke en vierkante.
Meet van hoeke:
Verduidelik wat 'n regte hoek is (hoek gelyk aan 90°) as hulle dit nie ken nie. Wys vir die leerders die gradeboog en hoe om 'n hoek daarmee te meet. Maak seker dat hulle presies weet hoe om hoeke te meet.
Laat hulle nou die hoeke van die verskeie vorms op die mat meet. Hulle moet eers vertel wat hulle omtrent die hoeke van die driehoeke, reghoeke en vierkante ontdek het.
Al die hoeke van die reghoeke en die vierkante is regte hoeke. Gee hulle die geleentheid om ander regte hoeke oral in die klas te ontdek.
Het hulle ontdek dat 'n driehoek nooit meer as 1 regte hoek kan hê nie? 'n Driehoek met 'n regte hoek word 'n reghoekige driehoek genoem.
Meet van sye:
Gee aan die leerders die liniale om die sye te meet. Maak baie seker dat al die leerders weet hoe om met 'n liniaal te meet.
Hulle moet self ontdek:
(i) Daar is driehoeke waarvan die 3 sye ewe lank is. Dit is gelyksydige driehoeke.
(ii) Daar is driehoeke waarvan 2 sye ewe lank is. Dit is gelykbenige driehoeke.
(iii) Daar is ook driehoeke waarvan al die sye verskil.
(iv) Die 4 sye van 'n vierkant is ewe lank.
(v) Die 2 teenoorstaande sye van 'n reghoek is ewe lank.
Hierdie werk sal moontlik nie alles in een sessie op die mat afgehandel kan word nie en die tyd wat nodig is, kan ook van groep tot groep verskil. Dit sal raadsaam wees om die meet van die hoeke in een sessie en die meet van die sye in 'n volgende sessie af te handel.
Indien die leerders reeds die halvering van onewe getalle verstaan, is dit net nodig om die skryfwyse van
| 1 | is teller |
| 2 | is noemer |
Hier gaan dit oor die halvering van 3, 5, 7 of 9 groepe van tien. Daar is altyd 1 tien wat ontbind moet word. Moedig die leerders aan om eers te hergroepeer, voordat hulle halveer. Hulle moet dit eers konkreet op die mat doen.
![]() |
![]() |
Wanneer die getalle 6 tot 9 verdubbel word, word daar elke keer 'n tien volgemaak.
Die leerders moet dit aantoon op die werkvel deur die tien te omkring.
![]() |
Indien 'n sakrekenaar nie beskikbaar is nie, kan die opvoeder of selfs een van die leerders, na voltooiing van die werkvel, die antwoorde wat bereken moet word, op die bord skryf. Die leerders wat dit egter self kan bereken, moet toegelaat word om dit te doen.
Moedig die leerders aan om aan te hou, totdat hulle die regte "pad" kry. Hulle mag dalk 'n ekstra vel papier benodig om die getalle te skryf terwyl hulle na die regte pad soek.
![]() |
Bonnie sal R_____ kry en Tommie sal R_____ kry.
![]() |
![]() |
Bonnie en Tommie weet daar is 'n skat in die huisie aan die oorkant van die rivier, maar hulle weet nie hoe om daar te kom nie. Kan julle vir hulle help?
Hier is 'n leidraad.
Tel die getalle op die klippe, soos jy loop, bymekaar. As jy 200 kry wanneer jy die 8 op die klip regvoor die huisie bytel, het jy die regte pad gekry. Wees versigtig, want daar is klippe waarop jy nie moet trap nie. Teken dan vir ons op die prent die pad wat jy geloop het.
![]() |
_____________________________________________________________________
_____________________________________________________________________
Leeruitkomste 1:Die leerder is in staat om getalle en die verwantskappe daarvan te herken, te beskryf en voor te stel, en om tydens probleemoplossing bevoeg en met selfvertroue te tel, te skat, te bereken en te kontroleer.
Assesseringstandaard 1.8: Dit is duidelik wanneer die leerder die gepaste simbole in berekeninge kan gebruik om probleme wat die volgende behels;
Assesseringstandaard 1.9: Dit is duidelik wanneer die leerder hoofberekeninge uitvoer;
Assesseringstandaard 1.10: Dit is duidelik wanneer die leerder die volgende tegnieke gebruik:
1.10.1 opbou en afbreek van getalle;
1.10.2 verdubbeling en halvering;
1.10.3 getallelyne;
1.10.4 afronding in tiene.