Inside Collection: Afrikaans Huistaal Graad 7
![]() |
Die verhaal van andries somers
Andries Somers was ‘n visserman duisend. Hy kon alles beter doen as die ander vissermanne. Hy was ‘n dapper man en uitstekende swemmer wat dikwels mense uit die see gered het wat besig was om te verdrink terwyl sy makkers staan en toekyk.
Dit was dus nie vreemd dat die ander vissermanne jaloers op hom was nie. Eendag op die strand pak ‘n klomp vissers hom, maar gou moes hulle laat spaander voor Andries Somers se vuiste. Maar een het stil bly lê op die sand. Hy het met sy kop teen ‘n klip geval.
Andries het besef dat hy moes vlug uit vrees dat die mense hom sou ophang omdat hy iemand doodgemaak het. Om homself te vermom, het hy by sy suster ‘n lang rok met breë strepe geleen, ‘n rooi kopdoek om sy kop gebind, en met ‘n mandjie oor sy arm die binneland in gevlug.
Dae lank het hy geloop totdat hy op ‘n plaas as arbeider werk gekry het. Weer het hy homself bewys as ‘n werker sonder gelyke. Van die oggend tot die aand het hy sonder ophou gewerk. Kort voor lank het hy die voorman van die ander werkers geword.
Soos ‘n mens kon verwag, was die ander mense afgunstig op Andries Somers se opgang. Dit was nie lank nie of hulle het kliphard onder mekaar geskinder. “Vertel ons van die rok wat jy in jou huis wegsteek, Andries”, het een van die mans gesê. “En die rooi kopdoek, Andries Somers? Of is jou naam eintlik Antjie? “Antjie Somers. Antjie Somers!” het hulle gekoggel.
Dae lank het dit aangehou, maar Andries het gemaak of hy niks hoor nie. Hy was bang dat dit weer op ‘n bakleiery sou uitloop as hy iets sou sê. Maar na ‘n week kon hy die geterg nie langer verduur nie. Daardie nag toe almal reeds slaap, het hy sy goed gepak en gemaak dat hy daar wegkom.
Andries Somers het soos ‘n groot speld verdwyn. Niemand het ooit weer van hom gehoor nie.
Maar die kinders wat teen skemertyd in die klowe gaan hout soek het, het al meer vertel van ‘n ou vrou wat hulle verwilder. Volgens die kinders het sy ‘n lang rok met strepe en ‘n rooi kopdoek gedra. Sy het ‘n lang mes, ‘n mandjie en ‘n groot sak by haar gehad.
“Sy wil ons vang en in die sak gooi!” het hulle huilend gesê.
Die grootmense het onderlangs na mekaar gekyk en gesê: “Dit is sekerlik Antjie Somers”.
Met die tyd het die mense vergeet van Andries Somers, die visserman en arbeider wat so fluks en hardwerkend was. Maar die storie wat niemand na al die jare vergeet het nie, was: “Antjie Somers! Antjie Somers! Antjie Somers gaan jou vang!”
![]() |
Sinonieme en Antonieme
aanhoudend, fluks, weghardloop, afgunstig, arbeider
Werker
Sonder ophou
Hardwerkend
Laat spaander
Jaloers
lui, onthou, kinders, laggende, dapper.
Bangmaakstories
Julle opdrag is om nog bangmaakstories te gaan soek. Vra vir Ma en Pa om te help. Met watter bangmaakstories het hulle grootgeword? Hier volg ‘n paar voorbeelde:
Amakeia : A. G. Visser
Maballêl : Eugene Marais
Makoemazaan die waterman: A.G. Visser
Kom vertel julle bangmaakstories aan die klas.
Die volgende bangmaakgedig is ‘n verwerking van A G Visser se bekende Ruiter van Skimmelperdpan.
![]() |
Ruiter in die Nag
In die oorlog het daar ‘n berede soldaat,
In ‘n veldslag skielik die lewe gelaat
Toe ‘n bom wat langs hom ontplof,
Sy kop afruk en laat rol in die stof.
Met neusgate wyd het die perd deur ‘n kloof
Gejaag met die man sonder hoof.
Die grusame vrag het bly sit in die saal,
Maar die einde van die pad sou hulle nooit haal.
By ‘n huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk.
Sy gil en word bleek soos ‘n lyk,
Want in die afkop-ding herken sy haar Jan!
In die skemer verdwyn die perd en man.
Wee die vreemd’ling wat snags daar skuiling kom soek,
Want die verhaal staan geskryf in geen boek:
Van die huisie wat bouvallig nog staan
In die silwere lig van die maan.
En saam met die wind wat tier deur die kloof,
‘n Perd wat verskyn met ‘n man sonder hoof.
Dis alles te veel vir die menslike oog,
Want die bloed uit sy nek spuit ‘n boog!
En dan uit die vervalle gebou
Verskyn daar meteens ‘n waansinnige vrou.
Met hare orent en vingers wat krul,
Begin die skrikbeeld histeries te gil:
“Hoekom rus jy nie Jannie de Beer?
Waarom kom jy weer en weer?
Elke nag jaag jy my op,
Met jou ewige galop ……….. galop?”
Bly weg van die bouval daar diep in die kloof
Waar ‘n wit perd met man sonder hoof,
En ‘n vrou se waansinnige lag,
Na al die jare op mense steeds wag.
Ter wille van al die akteurs en aktrises in die klas
Memoriseer die strofe.
Dra die strofe voor aan die klas. Maak gebruik van oordrewe dramatisering waar nodig.
Onthou, hierdie gedig is veronderstel om ‘n mens koue rillings te gee, want dit is ‘n bangmaakstorie. Maak dus gebruik van gepaste stemtoon (fluister, gil, lag, histerie, ens.)
In, om en uit die gedig
Skrikwekkend
Waansinnig
Afgryslik
Weersin
Grusaam
Wie is die hoofkarakter in die gedig?
Ruiter in die nag is ‘n verwerking van A.G. Visser se Ruiter van Skimmelperdpan. Hieronder word Windy Nights van R.L. Stevenson afgedruk. Lees dit aandagtig deur en reageer op die volgende vrae:
Windy Nights
Whenever the moon and stars are set,
Whenever the wind is high,
All night long in the dark and wet,
A man goes riding by.
Late in the night when the fires are out,
Why does he gallop and gallop about?
Whenever the trees are crying aloud,
And ships are tossed at sea,
By, on the highway, low and loud,
By at the gallop goes he.
By at the gallop he goes, and then
By he comes back at the gallop again.
Robert Louis Stevenson
| Leeruitkomstes(LUs) |
| LU 1 |
| LUISTERDie leerder is in staat om vir inligting en genot te luister en gepas en krities binne ‘n wye verskeidenheid situasies te reageer. |
| Assesseringstandaarde(ASe) |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 1.2 aandagtig luister vir spesifieke inligting en kerngedagtes en gepas reageer: |
| 1.2.2 beantwoord vrae oor inhoud van tekste en gee eie mening; |
| LU 2 |
| PRAATDie leerder is in staat om vrymoedig en doeltreffend in gesproke taal binne ‘n wye verskeidenheid situasies te kommunikeer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 2.1 idees en gevoelens op ‘n ekspressiewe manier, met selfvertroue oordra: |
|
| 2.5 mondelinge aanbiedings op ‘n kreatiewe wyse doen: |
| 2.5.1 let op duidelike spraak; |
| 2.5.2 korrekte pousering; |
| 2.5.3 tempo en volumewisseling; |
|
| LU 3 |
| LEES EN BESIGTIGDie leerder is in staat om vir inligting en genot te lees en te kyk en krities op die estetiese, kulturele en emosionele waardes in tekste te reageer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 3.1 ‘n strokiesverhaal lees en die kenmerke herken; |
| 3.2 stillees korrek en met begrip toepas; |
| 3.5 verskillende tekssoorte en die hoofkenmerke daarvan identifiseer en die struktuur van die teks verduidelik. |
| LU 4 |
| SKRYFDie leerder is in staat om verskillende soorte feitelike en verbeeldingstekste vir ‘n wye verskeidenheid doeleindes te skryf. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 4.1 verskeie verbeeldingstekste skryf: |
| 4.1.2 skryf ‘n storie (verhalende opstel); |
| 4.1.2 skryf ‘n samespraak (dialoë). |
| LU 5 |
| DINK EN REDENEERDie leerder is in staat om taal vir dink en redeneer te gebruik en inligting vir leer te verkry, verwerk en gebruik. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 5.1 taal vir dink en redeneer gebruik: |
| 5.1.3 twee moontlikhede oorweeg en besluit watter een die beste keuse is;5.1.1 betekenis aflei en die skrywer se bedoeling verduidelik deur geskrewe, visuele en mondelinge tekste te interpreteer; |
| LU 6 |
| TAALSTRUKTUUR EN –GEBRUIKDie leerder ken en is in staat om die klanke, woordeskat en grammatika van die taal te gebruik om tekste te skep en te interpreteer. |
| Dit is duidelik wanneer die leerder: |
| 6.1 met woorde werk: |
| 6.1.1 raak vertroud met kort en lang klanke en met tweeklanke (diftonge); |
| 6.1.2 verdeel woorde korrek in lettergrepe; |
| 6.1.3 gebruik skryftekens (deelteken, koppelteken, afkappingsteken en kappie) korrek; |
| 6.1.5 gebruik ‘n woordeboek om woordeskat en spelvermoë uit te brei; |
| 6.1.9 algemene sinonieme, antonieme verstaan en gebruik; |
| 6.4 bewustheid en gebruik van styl ontwikkel: |
| 6.4.3 gebruik idiomatiese uitdrukkings en taalidioom gepas; |
| 6.5 kritiese taalbewustheid ontwikkel: |
| 6.5.1 maak kennis met die letterlike en figuurlike gebruik van woorde; 8 |
Opdrag 1
Gesels eers met die leerders oor die begrippe. Lees dan die leesstuk. Verduidelik vooraf wie Antjie Somers was.
Antwoorde:
Opdrag 2
Die leerders kry vroegtydig hierdie opdrag. Hulle moet hul storie kom vertel of voorlees in die klas. So ook die gedigte.
Opdrag 3
Verdeel die klas in groepe van agt. Elke leerder kry een strofe van die gedig om te memoriseer. Elke groep tree aan voor die klas en dra die gedig voor.
Byklanke kan gebruik word, bv. die perdehoewe, geluide van nagdiere, die wind wat tier deur die kloof, bomme wat ontplof, geweerskote, ens.
Voorsiening vir voorbereiding moet gemaak word.
Die gedig kan ook deur ‘n spreekkoor voorgedra word.
Opdrag 4
1. ‘n Wind wat verskriklik waai
Opdrag 5
1. ‘n Wit perd is meer sigbaar in die maanlig. Dit is ook spookagtig
Opdrag 6
Hierdie is ‘n goeie voorbeeld van intertekstualiteit, m.a.w. wanneer een skrywer se werk as inspirasie dien vir ‘n ander skrywer om ‘n kunswerk te skep met bv. dieselfde tema. Daar is ooreenkomste tussen twee tekste. Dit is nie noodwendig plagiaat nie. A.G. Visser het dikwels inspirasie gekry uit ander digters se gedigte.