Skip to content Skip to navigation

OpenStax-CNX

You are here: Home » Content » Leer Beter Dink Module 2

Navigation

Recently Viewed

This feature requires Javascript to be enabled.
 

Leer Beter Dink Module 2

Module by: Erenst van Niekerk. E-mail the author

Summary: Dit is belangrik dat ons almal kan praat, lees, skryf en somme maak. Kan ons egter leer om beter te dink? Het ons in ons opleiding genoeg aandag gegee om goed te kan dink? Modules 1 tot 3 poog om jou denkvermoë te verbeter. Werk dit deur en jy sal verbaas wees hoe jou denkvermoë kan verbeter. Die modules is vir persone van twaalf tot tagtig.

Module 2 Deel 1

Beperkings wat verhoed dat ons meer Krities kan Dink.

Ons is opgevoed en opgelei met stereotipe denkwyses. Om krities en kreatief te dink moet ons bewus wees van hierdie spreuke en die negatiewe konnotasies daarvan oorbrug.

Uitsprake soos:

  • moenie foute maak nie.
  • moenie laf wees nie.
  • bly binne die reëls.
  • wees prakties/realisties.
  • dit is nie my kundigheids veld nie.

Hierdie is almal denkwyses wat ‘n beperking stel op kritiese denke.

As voorbeeld – moenie foute maak nie of bly binne die reëls, kan die volgende oor gesê word. Daar is in baie gevalle ‘n baie fyn lyn tussen die twee aspekte. In rugby is die ‘fetcher’ in sekere gevalle onkant en van sy kritici sê dat hy te veel strafskoppe afstaan. Maar in baie gevalle speel hy die los bal en wen so balbesit of voer die spel verder. Die grens tussen wanneer ‘n bal uit die skrum is en wanneer nie is maar ‘n grys area. Indien almal sou wag dat die bal uit is, sal die spel baie stereotiep wees.

Om nie foute te maak nie is om nie te leer nie. Terme soos zero foute is anti ontwikkeling. Neem die IT bedryf, nuwe sisteme wat beskikbaar kom het in baie gevalle nog foute in, maar hulle bemark die stelsels en maak regstellings daarna omrede daar kompetisie is en die tydsfaktor baie belangrik is.

As mens nou na sekere uitsprake kyk kan jy nie glo dat persone sulke standpunte kon huldig nie. Hier volg ‘n paar interessante:

What use could the company make of an electric toy? –Western Union’s se rede om nie die patentregte vir die telefoon op te neem nie, in 1878

Everything that can be invented has been invented. U.S. Patente Kommissaris Charles Duell in 1899 (hy wou die patente kantoor sluit)

The horse is here to stay, but the automobile is only a novelty-a fad. Die President van Michigan Bank wat Henry Ford se prokureur wou oortuig om nie in die Ford motormaatskappy te belê nie.

Die volgende frases en algemene stereotipe gesegdes is deel van die daaglikse gesprek maar plaas ‘n demper op kritiese denke.

3.1 Die Regte antwoord.

As na die onderstaande figure gekyk word en gevra word watter figuur pas nie by die groep nie sal elkeen van ons ‘n antwoord gee asook ‘n logiese verduideliking vir ons keuse.

Figuur 1
Figuur 1 (graphics1.jpg)

Indien ons dan verder lees kan ons ‘n tipies arrogante denkfout maak. In baie gevalle kan daar meer as een regte antwoord wees terwyl daar uit ‘n natuurwetenskaplike oogpunt slegs een werklike korrekte antwoord kan wees. Dit kan wel van toepassing wees op die eksakte wiskunde maar in die minder eksakte wetenskappe kan daar verskeie korrekte keuses wees.

Wees bedag op ‘n tweede en meervoudige korrekte antwoorde, al het jy die spesifieke oefening in die verlede al gedoen. Soos ons alreeds gesien het kan aannames, tyds periodes, nuwe materiale en tegnologie nuwe antwoorde tot gevolg hê.

3.2 Dit is nie Logies nie.

Hoe baie kere word die argument nie gebruik nie. Soos in die vorige hoofstuk bespreek is plaas hierdie stelling in baie gevalle ‘n demper op kreatiwiteit. In baie gevalle volg logiese verklarings nuwe uitvindings en word nie vooraf gegaan deur logiese denke nie. Die volgende is tipiese voorbeelde.

  • Die vliegkuns was nie op logika gegrond nie, inteendeel personeel in Ingenieurswese het voorspel dat dit nie kan werk nie
  • Die vulkaniserings proses is per toeval uitgevind
  • Die ontstaan van swart gate en die kragte wat hulle uitoefen. Hoe beïnvloed hulle die wentelbane van sterre en planete na aan hulle?

Natuurlik het baie uitvindinge en ontwikkellinge uit die logika voort gevloei soos die volgende:

  • Die ontwikkeling van die rekenaar vanaf ‘n meganiese masjien tot die rekenaar soos ons dit vandag ken.
  • Die uitvinding vanaf die wiel en al sy toepassings tot die moderne motor.

Vele gevolgtrekkings of uitsette is die totale resultaat van meer as een inset, en in die meeste gevalle is die interaksies van al die insette nie baie duidelik nie, met die gevolg dat die ‘nie logiese’ argument in baie gevalle nie ‘n sterk argument kan wees nie. Moet dus nie dat die stelling jou van koers laat bring by die ontstaan van ‘n nuwe of verbeterde idee nie.

3.3 Wees prakties.

Persone wat goeie ondervinding in ‘n area het kom baie keer met die argument dat die nuwe voorstel nie prakties is nie, en dus nie sal werk nie. Hou dit in gedagte maar dink aan wat in die tussen tyd verander het, veral t.o.v. tyd, materiale, beter sisteme en ander ontwerpe.

Kyk bv. hoe die persoonlike bank dienste verander het t.o.v. diens met die huidige kits banke en die veranderinge is die gevolg van betroubaarder toerusting en verbeterde stelsels.

3.4 Volg die Reëls

Vir personeel wat in groot organisasies werk is dit belangrik om die reëls na te kom. Enige kwaliteit stelsel lê baie sterk klem op reëls/standaarde/werkvoorskrifte en baie mense het al hulle werk verloor omrede hulle nie reëls nagevolg het nie. Vir verbetering en ontwikkeling moet die reëls egter ook altyd bevraagteken word en kwaliteit stelsels lê al meer klem op goed beplande veranderinge want die stelsel met sy baie reëls plaas inderwaarheid ‘n demper op ontwikkeling. ‘n Stelsel moet help om dinge reg te doen, maar, ‘n goeie stelsel help om die regte dinge reg te doen.

Vir kursus gangers is dit dus noodsaaklik dat hulle deeglik bewus moet wees met die toepassing van die denkproses beginsels. Indien hy/sy in ‘n streng geordende werksomgewing werk is dit belangrik dat hy wel krities moet dink maar dat die afwyking van reëls onder streng beheerde toestande moet plaasvind, anders kan veranderinge wat nie tot beter uitsette lei nie negatiewe gevolge hê. In bedrywe waar prosesse nie so afhanklik is van mekaar nie kan veranderinge/verbeteringe op ‘n minder beheerde wyse plaasvind maar die gevolge (positief of negatief) moet nog gedra word.

Vir kritiese denke moet “volg die reëls “ egter nie as ‘n beperking in die begin fase gesien word nie. Inteendeel die reëls en grens kondisies is beperkings wat bevraagteken moet word en van die heilige koeie kan onder die slagmes kom.

3.5 Dit is nie in my Gebied nie

Hoe baie hoor ons nie dat iemand hierdie woorde uitspreek nie en dit kan heeltemal waar wees. Ons moet egter in baie gevalle besluite neem wat oor dissiplines heen strek soos byvoorbeeld ons gesondheid en finansies wat inmekaar gevleg is, of ons spaar of beleggingsbesluite wat ons moet neem. In baie gevalle kry ons teenstrydige aanbevelings van kundiges in dieselfde gebied en dan moet ons in elke geval die finale besluit neem

‘n Opgevoede, belese, kundige persoon moet vir homself kan dink en besluite kan neem. Hedendaagse tegnologie soos televisie, koerante die radio, biblioteke, die internet, familie, vriende en kennisse het moontlik sekere inligting wat jou kan help om uiteindelik ‘n holistiese besluit te kan neem oor ‘n saak. ‘n Voorvereiste is dus dat jy genoegsame inligting het oor die onderwerp, en dit is in baie gevalle die ongemaklikheid dat die ondersteunende kundigheid tekort skiet. Die kritiese denker is juis ingestel om te besluit onder watter omstandighede hy/sy wel ‘n besluit kan neem.

Die aanslag moet egter nie wees dat dit nie my gebied is nie. Elke persoon moet vir homself kan dink en moet sy besluite kan neem, nieteenstaande teenstrydige aanbevelings.

3.6 Moenie Laf wees nie.

Mense is kudde wesens en wil nie graag uitgestoot word nie. Om in ‘n groep te hoor dat jy nie moet laf wees nie laat baie mense ongemaklik voel. “Groupthink” bevoordeel ‘n samehorigheidsgevoel maar werk baie beperkend in op die generering van nuwe idees. Die nar in die ou koningshuise het juis die rol vervul om idees vanuit ‘n ander oogpunt te sien, en veral met ‘n bietjie humor by, is die kanse beter dat die ander siening geredelik van kennis geneem word. Die nar was ook gewoonlik kundig oor wat in die koningshuis aangegaan het en was ‘n vertroueling van die koning.

Om een rigting denkwyses te verbreek is dit belangrik vir kritiese denke om die saak uit ‘n ander oogpunt te beskou en kan die gedagtes van die lawwe persoon moontlik meriete inhou.

3.7 Om foute te maak is verkeerd “Right the first Time”

In die boerdery gemeenskap is iemand wat nog nie van ‘n perd afgeval het nie nog nie ‘n goeie ruiter nie. Voordat Edison ‘n materiaal gevind het wat lig afgee vir sy gloeilamp het hy honderde materiale getoets. ‘n Klein kleuter wat begin loop, val baie maar staan weer op. Is ‘n fout wat jy gemaak het werklik negatief? Van die beste lesse wat geleer word, is geleer van foute wat gemaak is. Natuurlik is daar blatante foute uit agterlosigheid of nie goeie beplanning nie wat nie goedgepraat kan word nie.

‘n Mens leer baie uit jou foute. As jy ingestel is om nie foute te maak nie plaas jy ‘n beperking op jou kreatiwe vermoë wat nie tot ontwikkeling bydra nie.Toets jou grense en rek jou spiere om te bepaal waar jou grense is, anders sal jy dit nooit weet nie. Indien jy die grense oorskrei het neem kennis daarvan, dit is deel van jou leer proses en dit vind deur jou hele lewe plaas.

Werkstuk voor Deel 1

3.1 Kan daar volgens jou meer as een korrekte antwoord wees, vir ‘n probleem, en wat

van ‘n nuwe ontwerp?

………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

3.2 Beskou jy jouself as iemand wat logies redeneer of spring jou gedagtes baie rond

(Scattered head). Noem ‘n goeie voorbeeld van jou huidige beredenerings metode(s)

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

3.3 Beskou jy jouself as ‘n praktiese persoon. As jy ‘n man is maak jyself die normale

goed reg in die huis? Indien jy ‘n vrou is hoe doeltreffend berei jy ‘n ete voor?

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

3.4 Hoe nougeset volg jy voorgeskrewe reëls?

……………………………………………………………………………………

3.4 Hoe holisties kyk jy na ‘n probleem? Maak jy gou jou eie gevolgtrekkings oor ‘n

onderwerp, of gebeur dit baie dat jy eers meer kennis sal inwin oor ‘n onderwerp

voordat jy ‘n gevolgtrekking/besluit maak?

…………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

3.5 Is jy soms lighartig oor ‘n onderwerp? Maak jy soms absurde voorstelle wat jou

man/vrou maak as sommer twak.

…………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

3.6 Is jy ‘n groot voorstander van “Right the first Time” of “Zero Defekte” Voel jy dit is

van toepassing oor die hele spektrum van jou daaglikse lewe.

…………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………..

3.7 Sien jy soms die humor in jou foute, of beskou jy al die foute in ‘n ernstige lig?

……………………………………………………………………………………..

……………………………………………………………………………………..

Module 2 Deel 2

Idee Generering, Evaluering en die Uitvoering daarvan.

In die vorige modules het die klem geval op basiese foute en beperkinge wat daar bestaan. Indien ons daaraan aandag gee sal ons minder denkfoute maak en dus sal ons mos beter dink. Dit is egter net ‘n gedeelte van kritiese denke. Soos die voorbeeld wat vroeër gebruik is nl. om die onkruid uit die groente tuin uit te haal sal ons noodwendig ‘n beter oes kry. Ons kan egter nog baie beter doen om die groente nat te gooi, kompos te gee en te sorg dat die plante die regte hoeveelheid lig en lug kry of. die ontwikkeling van beter saad. Hierdie aksies tesame met geen onkruid gaan vir ons die beste resultate gee

So ons moet iets nuut by ons normale gedagtes voeg en dit is nuwe gedagtes of idees. Die verklarende woordeboek gee as alternatiewe vir nuwe idée’s die volgende:

Nuwe denkbeeld, gedagte, begrip, voorstelling, opinie, plan of ontwerp.

Nuwe idees kan op verskillende maniere ontstaan:

  • Logiese ontwikkeling soos kundigheid oor ‘n onderwerp neem toe. Byvoorbeeld die ontwikkeling van die rekenaar van ‘n meganiese optelmasjien tot die elektroniese apparaat wat hy vandag is met veelvuldige sagteware of die motor vanaf ‘n een silinder binnebrand masjien tot die moderne voertuig van vandag.
  • Die A-Ha metode waar daar ewe skielik ‘n lig vir ‘n persoon op gaan en hy die oplossing sien van ‘n probleem of ‘n nuwe ontwerp soos byvoorbeeld Archimedes met die digtheids beginsel van komplekse vorms of vir Niels Bohr met sy voorstelling van die atoom model.
  • ‘n Kombinasie van bogenoemde maniere. Nuwe idees in die meeste gevalle maak staat op ontwikkelinge en as die A-Ha metode bykom is dit natuurlik ‘n deurbraak indien die uiteindelike uitsette goed is.
Figuur 2
Figuur 2 (graphics2.jpg)

Daar is drie baie belangrike fase van ‘n idée naamlik van af sy ontstaan tot die suksesvolle implementering daarvan en dit lyk as volg.

4.1 Idee Oorsprong

- In jou gedagte. Hoe kan ons idees stimuleer?

4.2 Evalueering van Idees

- Aandag aan Detail

- Holistiese benadering

4.3 Uitvoering van Idees

- Oorkom struikelblokke

4.1 Idee Oorsprong.

Idees se oorsprong is in jou gedagtes Hoe kan die kwaliteit en ook die aantal gestimuleer word? Ons gaan nou daarna kyk. In hierdie stadium moet daar nie baie krities na die idee gekyk word nie. Minder goeie idees sal in die volgende fase uitval.

4.1.1 Kyk orals krities om jou rond.

Luister bietjie wat Leonardo da Vinci gesê het.” I roamed the countryside searching for answers to things I did not understand. Why shells existed on the top of mountains along with the imprints of coral and plants and seaweed usually found in the sea. Why the thunder lasts a longer time than that which causes it and why immediately on its creation the lightning becomes visible to the eye while thunder requires time to travel. How the various circles of water form around the spot, which has been struck by a stone and why a bird sustain itself in the air. These and other strange phenomena engaged my thought throughout life.”

Kyk gedurig om jou rond as jy gaan stap, kos maak, inkopies doen, reis of werk, evalueer situasies en gebeure en vra jouself die vraag af, is daar nie ‘n beter plan of metode nie.

Figuur 3
Figuur 3 (graphics3.jpg)

Leonardo da Vinci

4.1.2 Fokus op ‘n spesifieke area/onderwerp.

Kyk na iets met ‘n spesifieke onderwerp ingedagte. Indien jy gevra sal word om aan enige kleur te dink behalwe blou, waaraan dink jy? Of ‘n gholfspeler wat ‘n hou moet speel en daar is ‘n watergat net links van die setperk. Indien hy sy aandag op die watergat fokus is sy kanse baie goed om die bal in die watergat te slaan. Natuurlik moet hy op die setperk fokus.

‘n Mens vind waarvoor hy soek. Indien jy swak of goeie punte in jou vriend se gedrag soek sal jy dit kry.

Vra jouself die vraag af: Waarna soek Ek?

4.1.3 Kyk in ander gebiede/dissiplines/ondernemings.

Goeie idees kan verkry word deur baie wyd te kyk en grense vir idees bestaan nie.

Die model van die atoom het sy oorsprong vanaf die sonnestelsel. ‘n Vliegtuig se vorm hou verband met ‘n voël se vorm. Ons liggame en die ontwerp van die aarde is ‘n puik stukke Ingenieurs vernuf, maak gebruik van die idees.

Moet jou egter nie deur enigiets laat beperk nie. Die wiel beginsel is byvoorbeeld baie sterker in die meganika ontwikkel as wat sy gebruik in ons liggame of op die aarde is.

4.1.4 Soek meer as een idee.

“Nothing is more dangerous than an idee when it is the only one you have” - Emile Chartier ‘n filosoof.

Moet nie die idee wat jy het te gou by die venster uitgooi nie, hy sal wel later uitval as jy met jou evaluasie besig is en sy potensiaal is laag. Slegs ‘n baie klein persentasie idees word geïmplementeer, so met hoe meer jy kan begin hoe beter. Die aksies van ‘n fotograaf is ‘n goeie voorbeeld. Hy neem baie foto’s van ‘n onderwerp en kies daaruit net die bestes om te publiseer.

Die regte benadering kan wees, hierdie is ‘n goeie oplossing maar daar kan ‘n meer elegante oplossing wees so ek hou aan soek. Moet nie die arrogante denkfout maak en die houding het van hierdie is die beste oplossing nie so ek hou op soek want daar kan nie ‘n beter oplossing wees nie.

4.1.5 ‘n Ondersoek na iets spesifieks kan na iets totaal anders lei.

Tydens jou waarnemings en met ‘n spesifieke onderwerp ingedagte kan daar baie ander interessante idees by jou opkom. Skryf hulle neer sodat hulle nie verlore gaan nie en spandeer later tyd aan hulle. Waarskuwing, moet dit asseblief nie op vroulief toepas wat gaan inkopies doen sonder ‘n inkopielys nie, sy kom moontlik alreeds met te veel ander inkopies by die huis aan.

4.1.6 Moet nie die voor die handliggende dinge miskyk nie.

Maak seker dat jy aandag daaraan gee na wat geredelik beskikbaar is en dat jy daarvan gebruik maak. Neem as voorbeeld elektriese apparate wat in elke geval bedrading het wat krag verskaf aan die apparaat, eers onlangs is begin kyk of die kabels nie ook gebruik kan word om ander seine na die apparaat te stuur nie.

4.1.7 Gee aandag aan Detail

‘n Gesegde lui ‘The Devil is in the Detail’ maar dit is ook waar dat ‘The Solution is in the Detail’. Een van die bekende voorbeelde is die El Nino verskynsel waar ‘n effense verwarming van die see naby Ecuador ‘n baie groot uitwerking op die hele wêreld se weerpatrone het. Indien na die onlangse swem items by die Olimpiese spele gekyk word is dit baie opmerklik dat klein veranderinge mee help om nuwe wêreld rekords op te stel. Neem die nuwe swemklere, en die dolfyn swem bewegings tydens induik as voorbeelde.

Veral vir probleem oplossing, maak eers seker dat aandag gegee is aan voor die hand aspekte en kyk daarna met aandag na die detail.

4.1.8 Kyk na die Groot Prentjie

Dit is baie maklik dat jy so verdiep raak in die soeke na oplossings en idees dat jy die gevaar loop om die groter prentjie mis te kyk. Filosofies gewys is dit nodig dat jy van tyd tot tyd terug staan om na die bos te kyk en nie net verstrengel te raak met die bome nie.

Vir die Weskus is Saldanha Staal nie net ‘n staalfabriek wat staal produseer en vir die mense wat daar werk ‘n heenkome bied nie. Hy het ‘n langtermyn invloed op die plaaslike ekonomie, die omgewing en op die ontwikkeling in die area.

Vra jouself die vraag af: Watse groot implikasies hou my idee in?

4.1.9 Ondersoek ook die Heilige Koeie gebied.

Waar is die areas wat jy versigtig is om te kyk vir nuwe idees? Moenie van hulle wegskram nie, ondersoek die areas. Moontlik is daar goeie redes om nie daaraan te krap of te verander nie maar die kanse is goed vir moontlike verandering indien die area vir lank al ‘n heilige koei was.

Dertig jaar gelede was spaar die wagwoord wat deur jou ouers verkondig was en wat vir baie jare ‘n basiese beginsel is in ekonomiese terme. Met hoë inflasie in die sewentig en tagtiger jare was dit baie kere beter om iets op skuld te koop aangesien die inflasie hoër was as die rente wat jy op jou spaargeld verdien het en moes jy jou idees oor besparing verander het. Wees bedag daarop dat die heilige koei areas nie net in jou gedagtes is nie. Die samelewing is vandag baie meer sigbaar en openliker as twintig jaar gelede hoofsaaklik omrede informasie makliker beskikbaar is en fisiese grense dit nie meer kan keer nie.

4.2 Evaluering van Idees.

Jy het nou ‘n idee of ‘n paar idees en hulle moet nou evalueer word en uiteindelik geïmplementeer word anders is hulle niks werd nie, of iemand ander implementeer die idee en pluk al die voordele daarvan. Dit is opvallend dat in baie gevalle ander persone voordele uit ‘n idee trek en nie die uitvinder daarvan nie. Selfs ‘n persoon soos Shakespeare kom onder skoot dat hy baie van ander persone se geskrewe materiaal gebruik het. Die feit bly staan dat ‘n idee as sulks baie min waarde het. Eers as dit geïmplementeer is en dit werk goed het dit waarde

Neem die geval van die APS apparaat (Action Potential Simulation) wat so wye nuusdekking gekry het. Die apparaat stimuleer die liggam met mikro elektriese strome om jou gesongheid te verbeter. Dit is nie ‘n nuwe idee nie. Voor die APS model was daar al sulke apparate, maar die persoon het baie werk daarin gesit en met goeie bemarking het hulle in die onlangse verlede baie sukses behaal. Verdere bemarking en finansiële probleme het die APS apparaat egter nou amper van die mark af laat verdwyn.

4.2.1 Doen iets met die idee.

Evalueer die idee en maak seker dat hy in die regte formaat is. Die APS personeel het die idee verder ontwikkel, met navorsing het hulle bewys dat die apparaat addisionele voordele het en dit so bemark (moontlik bietjie oordrewe)

Volg Pablo Picasso se raad in die tweede gedeelte van sy wysheid:

Some painters transform

the sun into a yellow spot,

others transform a yellow spot

into the sun.”

Die volgende is tegnieke wat gebruik kan word om te poog om die idee in die regte formaat te kry.

4.2.1.1 Pas die idee aan.

Die APS is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n idee aangepas kan word en van die nuutste tegnologie gebruik gemaak is om die idee beter bemarkbaar te maak. Probeer seker maak dat al die voor- en nadele bekend is (indien moontlik) en lê klem op al die voordele.

4.2.1.2 Dink aan ander moontlikhede.

Vra ‘What if’ en bepaal wat die invloed van belangrike parameters is.

Dink aan wat die gevolge sal wees van die idee onder verskillende toestande wat mag voorkom. Neem die voorbeeld van die ontwikkeling van vierwiel aangedrewe voertuie. Selfs gewone motors word bemark met aandrywing aan al vier wiele en ‘what if’s’ is seker gevra oor:

- Padhou vermoë

- Addisionele onderdele wat kan breek

- Band slytasie.

- Brandstof verbruik

4.2.1.3 Kyk van die anderkant na die idee.

As terug gekyk word na die idee kan jy iets byvoeg by die idee om dit beter te maak. ‘n Oplossing is soms makliker as vanaf die verwagte resultaat gekyk word. Indien die vraag gevra word hoeveel wedstryde gespeel gaan word as twintig tennisspelers op ‘n uitklop basis speel kan jy ‘n paar somme maak om by die antwoord uit te kom. Indien jy die probleem omdraai en sê daar kan net een wenner wees en 19 verloorders beteken dit 19 wedstryde

4.2.1.4 Beweeg oor Grens kondisies.

‘n Uitvinder Tom Hirshfield se wysheid:

It you don’t ask “why this?” often enough, somebody will ask “why you?”

Bevraagteken grens kondisies en reëls om seker te maak hulle is nog geldig met goeie redes. Kyk maar hoe het rugbyreëls oor die laaste dekade verander. In baie gevalle het riglyne oor tyd in reëls verander met nie ‘n sterk rasionaal daaragter nie en kan die idee huidig sinvol toegepas word.

4.2.1.5 Klits bietjie humor daarby

Humor het die eienskap dat dit die harde konfrontasie wat nuwe idees met bestaande praktyke het versag. Weerstand teen verandering is ‘n wesentlike struikelblok vir die suksesvolle implementering van nuwe idees en goeie humor het die voordeel om die skanse makliker af te breek

‘n Aparte hoofstuk sal aan humor gewy word.

4.2.1.6 Laat die idee eers ontwikkel, doen vir ‘n tydperk niks.

Met die idee is die saadjie geplant in jou gedagtes. Gee dit kans om te groei in jou onderbewussyn. Terwyl jy bad, draf of na ‘n fliek kyk dink jy soms in jou nderbewussyn daaraan en kan die idee meer gestalte kry. Sommige persone gebruik die metode selfs met studie. Dit laat ook tyd toe om meer perspektief oor ‘n saak te kry.

4.2.1.7 Kritiese evaluering van die idee(s)

Met die idee(s) in die regte formaat en in perspektief geplaas moet daar ‘n besluit geneem word of dit goed genoeg is vir uitvoering. Indien die implikasies daarvan nie groot is nie is dit ‘n maklike besluit. As daar egter groot persoonlike of finansiële implikasies is moet dit egter goed geëvalueer word. Kritiese evaluering van die idee sluit die volgende in

4.2.1.8 Definieer die idee vir jouself.

Of die idee ‘n nuwe ontwerp is, ‘n besigheidsplan, die reël van ‘n lekker braaivleis, ‘n strategie vir die opvoeding van julle kinders of ‘n loopbaan verandering deurdink die idee goed en klassifiseer die idee as:

  • ‘n Logiese goed gefundeerde idee
  • ‘n A-Ha idee en nie ‘n Uh-Hu idee nie
  • ‘n Kombinasie van logika en A-Ha.

want jou toekomstige ego is op die spel afgesien van jou tyd, geld en moontlik jou en jou gesin se toekomstige vreugde. Die volgende stellings gee verdere betekenis aan jou evaluasie.

There’sas much risk in doing nothing as in doing something.” -Trammel Crow

“A ship in port is safe, but that’s not what ships are built for.” - Grace Hopper

4.2.1.9 Doen ‘n ‘SWOT’ analise op die idee

Lys al die elemente van die analise en dit behels die volgende:

S-Strengths: Al die sterk/plus punte van die idee.

W-Weaknesses: Al die swak /negatiewe punte van die idee.

O-Opportunities: Al die geleenthede/potensiaal van die idee.

T-Threats: Al die beperkings van die idee.

Maak seker vir groter idée’s dat die analise goed deurdag gedoen is, aangesien dit saam met die finansiële plan die basis vorm vir verdere motivering veral as jy finansiële ondersteuning van ander instansies benodig.

4.2.1.10 Aannames van die idee.

Bestudeer die aannames deeglik en wees op hoogte met enige veranderinge wat die aannames kan beïnvloed. Kry ‘n goeie gevoel van hoe sensitief is die idee indien elke aanname verander. Huidig word daar modelle opgestel om groter idees finansieel te toets en kan mens deur die aannames te verander dadelik sien wat se ekonomiese implikasies dit het.

In baie gevalle word die aannames gebruik om die idee meer positief te laat lyk veral vir bemarkings doeleindes. Maak seker dat jy die aannames gemaak het vir die volgende senarios:

  • Mees realistiese geval
  • Optimistiese geval
  • Pessimistiese geval

Maak seker dat jy op hoogte is met watter aannames daar redelike sekerheid oor is, en die wat twyfelagtig is, of wat geneem is slegs met ‘n “gut feeling”

4.2.1.11 Finansiële sake.

Kyk in detail na die finansiële implikasies, groter idees behoort gemoduleer te word. Die meeste idees het ‘n koste implikasie en finansiering daarvan is baie belangrik. Huishoudings en firmas het deurlopend die probleem dat die persoon met die idee nie genoeg aandag gee aan die finansiering daarvan nie. Dit is ook een van die hoof redes waaroor daar so baie weerstand teen verandering is. Elke normale bestuurder van ‘n besigheid (huishouding is ook ‘n besigheid) wil tog beter doen, nou waarom sal hy nie nuwe idees wil implementeer nie? Omrede daar altyd baie onbekendes is met die implementering van ‘n nuwe idee en dit gepaard kan gaan met moontlike finansiele verliese.

Indien die idees suksesvol geïmplementeer is , is daar natuurlik ook finansiële voordele. Die onbekende is in baie gevalle hoeveel “skoolgeld” betaal moet word om by die voordele uit te kom

‘n Finansiële program behoort die volgende in te sluit en dit hang natuurlik af van die omvang van die idee:

  • Kapitaal benodig
  • Veranderlike koste wat minder of meer kan wees.
  • Implementering koste
  • Finansiële model om al die “what if’s” te hanteer

4.2.1.13 Wat beïnvloed my oor die idee

Vra jouself die vraag af. Is ek verlief op die idee of op die uitsette van die idee? Het ek nie moontlik die idee op ‘n ander area toegepas en dink dat dit nou hier sal werk nie? Maak seker dat ander aspekte of selfs my ego nie my besluitneming oor die idee beïnvloed nie.

Luister wat Napoleon vir sy Generaals gesê het die dag voor Waterloo:

“I tell you Wellington is a bad general, the English are bad soldiers; we will settle this matter by lunchtime.”

4.2.1.14 Tydsberekening en besluitnemings datum.

Gee baie aandag aan die tydsberekening van die idee. Soos ligging die wagwoord in eiendomme is, is tydsberekening die wagwoord vir nuwe idees. Indien die idee sê ses maande later geïmplementeer word wat wen of verloor ek? Is die mark nou reg daarvoor, wat van die stand van die ontwikkeling in die area van die idee? Natuurlik kan iemand anders jou voorspring. As jy iemand anders se goedkeuring moet kry, of vroulief se samewerking, maak seker jou tydsberekening vir sy/haar ondersteuning is ook reg.

Grant Heidrich, ‘n atleet se opmerking is baie waar:

“If you spend too much time warming up, you’ll miss the race. If you don’t warm up at all, you may not finish the race.”

4.2.1.15 Wat sê die Nar van die idee.

Speels so bietjie ‘devils advocate’ in ‘n ligte luim en verdraai die idee en spekuleer wat die uitkoms sal wees. Dit werp soms ‘n ander lig op die idee

4.2.1.16 Besluitneming.

Alles is nou gesê en gedink oor die probleem en daar moet nou besluit word of die idee geïmplementeer gaan word. Indien die idee afgekeur word, liasseer die idee. Daar is baie werk daaroor gedoen en moontlik kan die idee in die toekoms gebruik word. Die volgende stappe is nodig vir ‘n goedgekeurde idee.

4.2.1.17 Patenteer die Idee

Te veel mense het goeie idees en is so besig daarmee dat iemand anders die idee voor hulle patenteer. Indien die idee in so kategorie val dat hy gepatenteer kan word is dit nou die stadium om dit voorlopig te doen sodat iemand ander jou nie voorspring nie.

4.2.1.18 Plan en Skedule vir Implementering. (P&S)

Figuur 4
Figuur 4 (graphics4.jpg)

‘n P&S is belangrik. Vir ‘n kleiner idee is so ‘n plan in jou gedagtes terwyl vir groter idees ‘n stuk papier nodig is, en vir ‘n omvattende idee is daar uitstekende programme wat op ‘n PC gedoen kan word. Belangrike mylpale behoort op so P&S aangedui te word met doelwit datums wanneer dit voltooi moet word. Spandeer bietjie tyd hieraan aangesien goeie beplanning lei tot logiese uitvoering van die idee.

Realistiese tye moet aan aksies gekoppel word en sake wat in parallel gedoen kan word moet duidelik op die P&S uitgewys word. Hierdie beplannings dokument is vir die uitvoering van jou idee vir jouself en vir bestuur indien jy dit nie alleen kan uitvoer nie.

4.3 Uitvoering van die Idee

Die idee(s) is daar, behoorlik deurtrap en die beste het oor gebly. Dit is krities van alle kante geëvalueer en ‘n program en skedule is opgestel. Nou moet die plan uitgevoer word. Gaan voort en doen dit.

‘n Ware woord oor idees is: “To know and not to do is not to know.”

Tydens die uitvoering van jou P&S is die volgende belangrik.

4.3.1 Uitvoering van jou Plan.

Jou P&S is jou baas, volg die stappe soos dit uiteen gesit is. Indien daar wysigings is of nuwe inligting wat die beplanning verander, dateer die plan op. Dui nou ook op die plan aan jou vordering. Dit is ook jou telbord en vertel jou wat die huidige telling is.

4.3.2 Verkoop jou idee aan ander.

Baie min idees kan suksesvol wees net deur jou eie toedoen. Daar is persone wat jou moet help en ondersteun. Jy het finansiering nodig en die idee of die uitkoms van die idee moet gebruik of verkoop word, so jy is ook die bemarker. Alhoewel verandering deurlopend plaasvind is die meeste van ons skepties oor nuwe idees, seker omrede ons al ons koppe gestamp het en omdat dit in baie gevalle finansiële implikasies het waarvan die positiewe resultate nie seker is nie. Die volgende is tipiese opmerkings wat vir jou bekend is:

  • Dit sal nie werk in die praktyk nie.
  • Ons het iets soorts gelyk al gedoen en dit het nie gewerk nie.
  • Dis nie prakties nie
  • Die tyd is nie nou reg nie
  • Ons het nie nou die tyd daarvoor nie.
  • Dis buite die beleid/reëls/wet

Die sake is alreeds aangespreek en jy behoort maar ‘n bietjie dikkerige vel daarvoor te hê, behalwe as die opmerkings sin maak, dan moet jy natuurlik daarna kyk.

4.3.3 Wees Beslis en Doelgerig

Enige plan het sy struikelblokke, moenie dat dit jou laat afsit nie, hou jou oog op die resultaat van die idee en glo in jouself. Keep your eye on the bal!

4.3.4 Idee is Geïmplementeer.

Die idee was suksesvol of gedeeltelik suksesvol.

Ervaar die genoegdoening dat jy die idee geïmplementeer het en indien daar leemtes in is/was leer daaruit en probeer dit regstel vir die toekoms. Om foute te maak is ontwikkeling, probeer net om nie dieselfde fout twee keer te maak nie

Die idee was nie suksesvol nie

Baie idees werk nie uit nie, moet nie daaroor in sak en as gaan sit nie. Troos jou dat jy die inisiatief aan die dag gelê het om te probeer en kyk wat jy daaruit kan leer.

Jy kan nie ‘n vis vang as jy nie gaan hengel nie, maar jy vang nie noodwendig ‘n vis elke keer as jy gaan visvang nie.

Werkstuk voor Deel 2.

4.1 Wat is volgens jou die beperkings wat jou verhoed om meer krities te dink?

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

4.2 Voel jy sleg as jy ‘n fout gemaak het, of sien jy dit soms as ‘n leer geleentheid?

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………..

4.3 Wanneer laas het jy volgens jou ‘n goeie idée gehad ? Het jy dit geïmplementeer of

deurgevoer? ………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

4.4 Is jou idees impulsiewe idees (A-Ha) of ontwikkel hulle meer oor tyd?

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

4.5 Wanneer/waar is jy die kreatiefste?

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

4.6 Hoe detail mens is jy? Gee jy aandag aan fyn besonderhede?

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

4.7 Bevraagteken jy soms reels/regulasies of aanvaar jy dit as ‘n gegewe?

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

…………………………………………………………………………………

4.8 Doen jy jou beplanning op papier of in jou kop vir bv. ‘n vakansie, ‘n ete vir ‘n paar gaste of die bou van jou huis ?

………………………………………………………........................................

………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………….

………………………………………………………………………………….

4.9 Hou jy die finansiele implikasies ingedagte met ‘n nuwe idée ?

…………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………..

…………………………………………………………………………………..

4.10 Laat jy jou gou afsit van ‘n nuwe idée indien jy teenkanting kry, of hel jy oor na die hardkoppige kant toe ?

…………………………………………………………………...........................

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

……………………………………………………………………………………

Bronne gebruik

1. Van die skrywer Edward de Bono:

I am Right You are Wrong

Practical Thinking

Teach Yourself to Think

Six Thinking Hats

Parallel Thinking

2. Van die skrywer Roger von Oech

A Whack on the Side of the Head

A Kick in the Seat of the Pants

3. Van die skrywer John Chaffee

The Thinker’s Way

4. Die Internet en Wikipedia

5. Van Erenst van Niekerk

Persoonlike ondervindings en dokumentasie.

Content actions

Download module as:

Add module to:

My Favorites (?)

'My Favorites' is a special kind of lens which you can use to bookmark modules and collections. 'My Favorites' can only be seen by you, and collections saved in 'My Favorites' can remember the last module you were on. You need an account to use 'My Favorites'.

| A lens I own (?)

Definition of a lens

Lenses

A lens is a custom view of the content in the repository. You can think of it as a fancy kind of list that will let you see content through the eyes of organizations and people you trust.

What is in a lens?

Lens makers point to materials (modules and collections), creating a guide that includes their own comments and descriptive tags about the content.

Who can create a lens?

Any individual member, a community, or a respected organization.

What are tags? tag icon

Tags are descriptors added by lens makers to help label content, attaching a vocabulary that is meaningful in the context of the lens.

| External bookmarks