Ons is opgevoed en opgelei met stereotipe denkwyses. Om krities en kreatief te dink moet ons bewus wees van hierdie spreuke en die negatiewe konnotasies daarvan oorbrug.
Uitsprake soos:
- moenie foute maak nie.
- moenie laf wees nie.
- bly binne die reëls.
- wees prakties/realisties.
- dit is nie my kundigheids veld nie.
Hierdie is almal denkwyses wat ‘n beperking stel op kritiese denke.
As voorbeeld – moenie foute maak nie of bly binne die reëls, kan die volgende oor gesê word. Daar is in baie gevalle ‘n baie fyn lyn tussen die twee aspekte. In rugby is die ‘fetcher’ in sekere gevalle onkant en van sy kritici sê dat hy te veel strafskoppe afstaan. Maar in baie gevalle speel hy die los bal en wen so balbesit of voer die spel verder. Die grens tussen wanneer ‘n bal uit die skrum is en wanneer nie is maar ‘n grys area. Indien almal sou wag dat die bal uit is, sal die spel baie stereotiep wees.
Om nie foute te maak nie is om nie te leer nie. Terme soos zero foute is anti ontwikkeling. Neem die IT bedryf, nuwe sisteme wat beskikbaar kom het in baie gevalle nog foute in, maar hulle bemark die stelsels en maak regstellings daarna omrede daar kompetisie is en die tydsfaktor baie belangrik is.
As mens nou na sekere uitsprake kyk kan jy nie glo dat persone sulke standpunte kon huldig nie. Hier volg ‘n paar interessante:
What use could the company make of an electric toy? –Western Union’s se rede om nie die patentregte vir die telefoon op te neem nie, in 1878
Everything that can be invented has been invented. U.S. Patente Kommissaris Charles Duell in 1899 (hy wou die patente kantoor sluit)
The horse is here to stay, but the automobile is only a novelty-a fad. Die President van Michigan Bank wat Henry Ford se prokureur wou oortuig om nie in die Ford motormaatskappy te belê nie.
Die volgende frases en algemene stereotipe gesegdes is deel van die daaglikse gesprek maar plaas ‘n demper op kritiese denke.
3.1 Die Regte antwoord.
As na die onderstaande figure gekyk word en gevra word watter figuur pas nie by die groep nie sal elkeen van ons ‘n antwoord gee asook ‘n logiese verduideliking vir ons keuse.
![]() |
Indien ons dan verder lees kan ons ‘n tipies arrogante denkfout maak. In baie gevalle kan daar meer as een regte antwoord wees terwyl daar uit ‘n natuurwetenskaplike oogpunt slegs een werklike korrekte antwoord kan wees. Dit kan wel van toepassing wees op die eksakte wiskunde maar in die minder eksakte wetenskappe kan daar verskeie korrekte keuses wees.
Wees bedag op ‘n tweede en meervoudige korrekte antwoorde, al het jy die spesifieke oefening in die verlede al gedoen. Soos ons alreeds gesien het kan aannames, tyds periodes, nuwe materiale en tegnologie nuwe antwoorde tot gevolg hê.
3.2 Dit is nie Logies nie.
Hoe baie kere word die argument nie gebruik nie. Soos in die vorige hoofstuk bespreek is plaas hierdie stelling in baie gevalle ‘n demper op kreatiwiteit. In baie gevalle volg logiese verklarings nuwe uitvindings en word nie vooraf gegaan deur logiese denke nie. Die volgende is tipiese voorbeelde.
- Die vliegkuns was nie op logika gegrond nie, inteendeel personeel in Ingenieurswese het voorspel dat dit nie kan werk nie
- Die vulkaniserings proses is per toeval uitgevind
- Die ontstaan van swart gate en die kragte wat hulle uitoefen. Hoe beïnvloed hulle die wentelbane van sterre en planete na aan hulle?
Natuurlik het baie uitvindinge en ontwikkellinge uit die logika voort gevloei soos die volgende:
- Die ontwikkeling van die rekenaar vanaf ‘n meganiese masjien tot die rekenaar soos ons dit vandag ken.
- Die uitvinding vanaf die wiel en al sy toepassings tot die moderne motor.
Vele gevolgtrekkings of uitsette is die totale resultaat van meer as een inset, en in die meeste gevalle is die interaksies van al die insette nie baie duidelik nie, met die gevolg dat die ‘nie logiese’ argument in baie gevalle nie ‘n sterk argument kan wees nie. Moet dus nie dat die stelling jou van koers laat bring by die ontstaan van ‘n nuwe of verbeterde idee nie.
3.3 Wees prakties.
Persone wat goeie ondervinding in ‘n area het kom baie keer met die argument dat die nuwe voorstel nie prakties is nie, en dus nie sal werk nie. Hou dit in gedagte maar dink aan wat in die tussen tyd verander het, veral t.o.v. tyd, materiale, beter sisteme en ander ontwerpe.
Kyk bv. hoe die persoonlike bank dienste verander het t.o.v. diens met die huidige kits banke en die veranderinge is die gevolg van betroubaarder toerusting en verbeterde stelsels.
3.4 Volg die Reëls
Vir personeel wat in groot organisasies werk is dit belangrik om die reëls na te kom. Enige kwaliteit stelsel lê baie sterk klem op reëls/standaarde/werkvoorskrifte en baie mense het al hulle werk verloor omrede hulle nie reëls nagevolg het nie. Vir verbetering en ontwikkeling moet die reëls egter ook altyd bevraagteken word en kwaliteit stelsels lê al meer klem op goed beplande veranderinge want die stelsel met sy baie reëls plaas inderwaarheid ‘n demper op ontwikkeling. ‘n Stelsel moet help om dinge reg te doen, maar, ‘n goeie stelsel help om die regte dinge reg te doen.
Vir kursus gangers is dit dus noodsaaklik dat hulle deeglik bewus moet wees met die toepassing van die denkproses beginsels. Indien hy/sy in ‘n streng geordende werksomgewing werk is dit belangrik dat hy wel krities moet dink maar dat die afwyking van reëls onder streng beheerde toestande moet plaasvind, anders kan veranderinge wat nie tot beter uitsette lei nie negatiewe gevolge hê. In bedrywe waar prosesse nie so afhanklik is van mekaar nie kan veranderinge/verbeteringe op ‘n minder beheerde wyse plaasvind maar die gevolge (positief of negatief) moet nog gedra word.
Vir kritiese denke moet “volg die reëls “ egter nie as ‘n beperking in die begin fase gesien word nie. Inteendeel die reëls en grens kondisies is beperkings wat bevraagteken moet word en van die heilige koeie kan onder die slagmes kom.
3.5 Dit is nie in my Gebied nie
Hoe baie hoor ons nie dat iemand hierdie woorde uitspreek nie en dit kan heeltemal waar wees. Ons moet egter in baie gevalle besluite neem wat oor dissiplines heen strek soos byvoorbeeld ons gesondheid en finansies wat inmekaar gevleg is, of ons spaar of beleggingsbesluite wat ons moet neem. In baie gevalle kry ons teenstrydige aanbevelings van kundiges in dieselfde gebied en dan moet ons in elke geval die finale besluit neem
‘n Opgevoede, belese, kundige persoon moet vir homself kan dink en besluite kan neem. Hedendaagse tegnologie soos televisie, koerante die radio, biblioteke, die internet, familie, vriende en kennisse het moontlik sekere inligting wat jou kan help om uiteindelik ‘n holistiese besluit te kan neem oor ‘n saak. ‘n Voorvereiste is dus dat jy genoegsame inligting het oor die onderwerp, en dit is in baie gevalle die ongemaklikheid dat die ondersteunende kundigheid tekort skiet. Die kritiese denker is juis ingestel om te besluit onder watter omstandighede hy/sy wel ‘n besluit kan neem.
Die aanslag moet egter nie wees dat dit nie my gebied is nie. Elke persoon moet vir homself kan dink en moet sy besluite kan neem, nieteenstaande teenstrydige aanbevelings.
3.6 Moenie Laf wees nie.
Mense is kudde wesens en wil nie graag uitgestoot word nie. Om in ‘n groep te hoor dat jy nie moet laf wees nie laat baie mense ongemaklik voel. “Groupthink” bevoordeel ‘n samehorigheidsgevoel maar werk baie beperkend in op die generering van nuwe idees. Die nar in die ou koningshuise het juis die rol vervul om idees vanuit ‘n ander oogpunt te sien, en veral met ‘n bietjie humor by, is die kanse beter dat die ander siening geredelik van kennis geneem word. Die nar was ook gewoonlik kundig oor wat in die koningshuis aangegaan het en was ‘n vertroueling van die koning.
Om een rigting denkwyses te verbreek is dit belangrik vir kritiese denke om die saak uit ‘n ander oogpunt te beskou en kan die gedagtes van die lawwe persoon moontlik meriete inhou.
3.7 Om foute te maak is verkeerd “Right the first Time”
In die boerdery gemeenskap is iemand wat nog nie van ‘n perd afgeval het nie nog nie ‘n goeie ruiter nie. Voordat Edison ‘n materiaal gevind het wat lig afgee vir sy gloeilamp het hy honderde materiale getoets. ‘n Klein kleuter wat begin loop, val baie maar staan weer op. Is ‘n fout wat jy gemaak het werklik negatief? Van die beste lesse wat geleer word, is geleer van foute wat gemaak is. Natuurlik is daar blatante foute uit agterlosigheid of nie goeie beplanning nie wat nie goedgepraat kan word nie.
‘n Mens leer baie uit jou foute. As jy ingestel is om nie foute te maak nie plaas jy ‘n beperking op jou kreatiwe vermoë wat nie tot ontwikkeling bydra nie.Toets jou grense en rek jou spiere om te bepaal waar jou grense is, anders sal jy dit nooit weet nie. Indien jy die grense oorskrei het neem kennis daarvan, dit is deel van jou leer proses en dit vind deur jou hele lewe plaas.








