As jy ooit in 'n televisie vasvra-program vasval met 'n wiskunde vraag, sal jy heel waarskynlik wens jy het onthou hoeveel ewe priemgetalle daar tussen 1 en 100 is ter wille van die R1 000 000. Wie wil dan nou nie 'n miljoenêr wees nie?
Welkom die by die Graad 10 hoofstuk oor Finansiële Wiskunde. Ons gaan wiskundige vaardighede gebruik wat jy heel waarskynlik nou gaan nodig kry en ook op jou pad na die aankoop van jou eerste privaat vliegtuig!
As jy die tegnieke in hierdie hoofstuk bemeester, sal jy verstaan wat saamgestelde rente is, en hoe dit jou fortuin kan uitroei as jy kredietkaartskuld het, of hoe jy miljoene kan maak as jy jou swaar verdiende geld suksesvol belê. Jy sal ook verstaan wat die effek is van veranderende wisselkoerse, en die gevolg daarvan op die geld wat jy het om te spandeer tydens jou oorsese vakansie.
Voordat ons wisselkoerse bespreek, is dit nodig om te besef dat die meeste lande 'n desimale geldstelsel gebruik. Dit beteken dat lande 'n geldstelsel gebruik wat met magte van tien werk, bv. in Suid-Afrika het ons 100 (10 tot die mag 2) sent in 'n rand. In Amerika is daar 100 sent in 'n dollar. 'n Ander manier om dit te sê, is dat die land 'n basis geldeenheid het en 'n sub-eenheid wat 'n mag van 10 van die basis geldeenheid is. Dit beteken dat as ons die effek van wisselkoerse ignoreer, kan ons eintlik rande met dollars vervang of rande met ponde.








