In hierdie afdeling sal ons kyk na die eienskappe van sekere spesiale vierhoeke. Ons sal dan hierdie eienskappe gebruik om meetkundige probleme op te los. Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel al die eienskappe van ʼn figuur gegee word, benodig ons net sekere unieke eienskappe van die vierhoek om te bewys dat dit wel daardie spesifieke vierhoek is. Byvoorbeeld, as ons ʼn vierhoek het met twee pare parallellesye, dan is daardie vierhoek ʼn parallelogram. Ons kan dan die ander eienskappe van die vierhoek aflei deur ons kennis van parallellelyne en driehoeke te gebruik.
ʼn Trapesium is ʼn vierhoek waarvan ten minste een paar teenoorgestelde sye parallel loop. Dit word soms ook ʼn trapesoïed genoem. ʼn Spesiale tipe trapesium is die gelykbenige trapesium, waar een paar teenoorstaande sye parallel is en die ander paar ewe lank is. Die hoeke aan die eindpunte van elke parallelle sy is ewe groot. ʼn Gelykbenige trapesium het een lyn van simmetrie en sy hoeklyne is ewe lank.
ʼn Trapesium met beide pare teenoorstaande sye parallel, word ʼn parallelogram genoem. ʼn Opsomming van die eienskappe van ʼn parallelogram is:
- Beide pare teenoorstaande sye is parallel.
- Beide pare teenoorstaande sye is ewe lank.
- Beide pare teenoorstaande hoeke is ewe groot.
- Beide hoeklyne/diagonale halveer mekaar (d.w.s. hulle sny mekaar in die helfte)
ʼn Reghoek is ʼn parallelogram met al vier hoeke ewe groot en gelyk aan 90∘90∘. ʼn Opsomming van die eienskappe van ʼn reghoek is:
- Beide pare teenoorstaande sye is parallel.
- Beide pare teenoorstaande sye is ewe lank.
- Die hoeklyne halveer mekaar.
- Die hoeklyne is ewe lank.
- Alle hoekpunte is regte hoeke.
ʼn Rombus (ruit) is ʼn parallelogram waarvan al vier sye ewe lank is. ʼn Opsomming van die eienskappe van ʼn rombus is:
- Beide pare teenoorstaande sye is parallel.
- Al vier sye is ewe lank.
- Beide pare teenoorstaande hoeke is ewe groot.
- Die diagonale halveer mekaar met hoeke van 90∘90∘.
- Diagonale halveer die teenoorstaande hoeke.
ʼn Vierkant is ʼn rombus met al vier sye ewe lank en al vier hoeke gelyk aan 90∘∘.
ʼn Opsomming van die eienskappe van ʼn vierkant:
- Beide pare teenoorstaande sye is parallel.
- Al vier sye is ewe lank.
- Al vier die hoeke is 90∘90∘.
- Beide pare teenoorstaande hoeke is ewe groot.
- Die hoeklyne halveer mekaar met hoeke van 90∘90∘.
- Diagonale is ewe lank.
- Diagonale halveer beide pare teenoorstaande hoeke (d.w.s. hulle is almal 45∘45∘).
ʼn Vlieër is ʼn vierhoek met twee pare aangrensende sye ewe lank.
ʼn Oposmming van die eienskappe van ʼn vlieër is:
- Twee pare aangrensende sye is ewe lank.
- Een paar teenoorstaande hoeke (die hoeke tussen die ongelyke sye) is ewe groot.
- Een diagonaal halveer die ander een en hierdie diagonaal halveer ook een paar teenoorstaande hoeke.
- Diagonale sny mekaar reghoekig.
Reghoeke is ʼn spesiale geval (ʼn deelversameling) van die parallelogramme. Reghoeke is parallelogramme met alle hoeke regte hoeke. Vierkante is ʼn spesiale geval (deelversameling) van die reghoeke. Vierkante is reghoeke met al vier sye ewe lank. So, alle vierkante is parallelogramme én reghoeke. As jy gevra word om te bewys dat ʼn vierhoek ʼn parallelogram is, is dit genoeg om aan te toon dat beide pare teenoorstaande sye parallel is. Maar, as jy gevra word om te bewys dat ʼn vierhoek ʼn vierkant is, dan moet jy ook wys dat al die hoeke regte hoeke is én dat al die sye ewe lank is.