Voordat daar begin word met die datainsameling is dit belangrik om te besluit hoeveel data nodig is sodat die resultate 'n verteenwoordigende aanduiding sal gee van die antwoord op 'n sekere vraag. In die ideale geval sal die studie so ontwerp word dat die maksimum hoeveelheid inligting verkry word met die minimum hoeveelheid moeite. Die konsepte bevolking en steekproef is baie belangrik ten einde die energie- en koste-uitset so min as moontlik te hou.
Die volgende terme behoort bekend te wees:
- Bevolking: beskryf die hele groep wat in die studie in ag geneem word. Byvoorbeeld, as jy wil weet hoeveel leerders in jou skool in die winter verkoue gekry het, dan sal jou bevolking al die leerders in jou skool wees.
- Steekproef: beskryf 'n groep wat gekies word om die bevolking te verteenwoordig. Byvoorbeeld, vir die opname oor verkoue in die skool kan jy miskien net 'n paar leerders kies - byvoorbeeld een uit elke klas.
- Ewekansige steekproef: beskryf 'n steekproef wat op so manier uit die bevolking gekies word dat elke lid van die bevolking 'n gelyke kans het om gekies te word.
Om resultate te verkry wat verteenwoordigend is, is die van kritieke belang om 'n verteenwoordigende steekproef te kry. Byvoorbeeld, as ons wou bepaal hoe groepsdruk die besluit om te begin rook, beïnvloed - dan sou die resultate baie anders gewees het as slegs seuns ondervra is, in vergelyking met 'n studie waar onderhoude met beide seuns en meisies gevoer is.
Daarom moet vrae soos: "Hoeveel onderhoude word benodig?" en "Hoe kies ons kandidate vir onderhoude?" tydens die ontwerpfase van die steekproefproses gevra word.
Die mees akkurate resultate word verkry indien die hele bevolking gebruik word as steekproef vir 'n opname, maar dit kan baie duur wees en/of baie lank neem. Die tweede beste metode is om 'n steekproef ewekansig te kies. Dit beteken dat elke lid van die bevolking 'n gelyke kans het om geselekteer te word, onafhanklik van hoe die lede gekies word. Daar is verskeie metodes om lede op hierdie manier te kies, byvoorbeeld, name kan uit 'n hoed getrek word. Meeste moderne wetenskaplike sakrekenaars het 'n sleutel wat mens kan druk om ewekansige getalle te genereer wat mens kan gebruik om 'n steekproef te kies. Sigbladpakkette op 'n rekenaar het ook gewoonlik so 'n funksie.
So, as jy byvoorbeeld 'n bevolking van 1 000 leerders in jou skool het, kan jy moontlik 100 leerders ewekansig kies en dit sal dan die steekproef wees wat jy vir die opname gebruik.