In meetkunde leer ons wat die verwantskap tussen die sye en hoeke van veelhoeke is, maar nie hoe om 'n hoek te bereken as ons die lengtes van die sye weet nie. Trigonometrie handel oor die verwantskap tussen die hoeke en die sye van 'n reghoekige driehoek. Ons gaan leer oor trigonometriese funksies (driehoeksmetingfunksies), wat die grondslag van trigonometrie vorm.
Ondersoek: Die Geskiedenis van Trigonometrie
Werk in pare of groepe en ondersoek die geskiedenis van die grondslag van trigonometrie. Beskryf die verskillende stadia van ontwikkeling en hoe die onderstaande kulture trigonometrie gebruik het om hulle lewens te verbeter.
Die werk van die volgende mense of kulture kan ondersoek word:
- Kulture
- Antieke Egiptenare
- Mesopotamiërs
- Antieke Indiërs van die Indusvallei
- Mense
- Lagadha (ongeveer 1350-1200 VC)
- Hipparchus (ongeveer 150 BC)
- Ptolemy (ongeveer 100)
- Aryabhata (ongeveer 499)
- Omar Khayyam (1048-1131)
- Bhaskara (ongeveer 1150)
- Nasir al-Din (13de eeu)
- al-Kashi and Ulugh Beg (14de eeu)
- Bartholemaeus Pitiscus (1595)
Note: Interessante Feit:
Jy behoort uit meetkunde bekend te wees met die idee om hoeke te meet, maar het jy al ooit gewonder hoekom daar 360 grade in 'n sirkel is? Die rede is suiwer geskiedkundig. Daar is 360 grade in 'n sirkel omdat die antieke Babiloniërs 'n getallestelsel met grondtal (basis) 60 gehad het. 'n Grondtal is die basisgetal waarby jy nog 'n syfer byvoeg wanneer jy tel. Die getallestelsel wat ons daagliks gebruik word die desimale stelsel genoem (die grondtal is 10), maar rekenaars gebruik die binêre sisteem (die grondtal is 2). 360 = 6 x 60. Dus het dit vir hulle sin gemaak om 360 grade in 'n sirkel te hê.










