Ons kan wiskunde in suiwer- en toegepastewiskunde opdeel. Suiwer-wiskunde is die teorie van wiskunde en dit is baie abstrak. Die werk wat jy tot dusver in algebra gedoen het is meestal suiwerwiskunde. Toegepastewiskunde neem die teorie (of suiwerwiskunde) en pas dit op die regte wêreld toe. Om toegepastewiskunde te kan doen, moet jy eers die suiwerwiskunde bemeester.
Wat het dít nou te doen met waarskynlikheid? Wel, net soos wiskunde in suiwer- en toegepastewiskunde verdeel kan word, só kan statistiek ook in waarskynlikheidsteorie en toegepaste-statistiek opgedeel word. Waar jy nie toegepastewiskunde sonder teorie kan doen nie, só kan jy ook nie statistiek baasraak sonder om eers met ’n bietjie waarskynlikheidsteorie te begin nie. Voorts, soos dit nie moontlik is om te beskryf wat rekenkunde is sonder die beskryf van wiskunde as ’n geheel nie, is dit nie moontlik om te beskryf wat waarskynlikheidsteorie is sonder ’n basiese begrip van wat statistiek as ’n geheel is nie. Statistiek, in sy breedste sin, gaan oor 'prosesse'.
Note: Interessante feit:
’n Proses is hoe ’n voorwerp verander oor tyd. Byvoorbeeld, kom ons beskou ’n muntstuk: die muntstuk opsigself is nie ’n proses nie; dit is slegs ’n voorwerp. Wanneer ek die muntstuk sou opskiet (dit deur ’n proses sit), na ’n sekere hoeveelheid tyd (hoe lank dit sal neem om te land), sal dit ’n finale toestand bereik. Ons verwys gewoonlik na hierdie finale toestand as ‘kop’ of ‘stert’, na gelang van watter kant van die muntstuk die gesig geland het. Dit is hierdie kop of stert waarin die statistikus (persoon wat statistiek bestudeer) belangstel. Sonder die proses is daar niks om te bestudeer nie. Wanneer die muntstuk bloot stil lê, is dit natuurlik óók ’n proses. Omdat ons alreeds weet dat die finale toestand identies aan die oorspronklike toestand is, is dit nie juis ’n besondere interessante proses nie. Indien daar van ’n proses gepraat word, bedoel ons een waar die uitslag nog nie bekend is nie, anders is daar geen werklike punt in die analise nie. Met bogenoemde begrip is dit baie maklik om te verstaan presies wat waarskynlikheidsleer is.
Wanneer ons praat van waarskynlikheidsteorie as ’n geheel, bedoel ons die manier waarop ons die hoeveelheid moontlike uitkomstes van prosesse bepaal. Net soos toegepastewiskunde die metodes van suiwerwiskunde neem en toepas op werklike situasies, neem toegepastestatistiek die middele en metodes van waarskynlikheidsteorie (dws die middele en metodes wat gebruik word om moontlike uitkomste van gebeure te bepaal) en pas dit op werklike gebeure toe in een of ander manier. Byvoorbeeld, ons kan waarskynlikheidsteorie gebruik en die moontlike uitkoms van bogenoemde munt-opskiet op 50% kop, 50% stert vaspen. Statistiek kan dan gebruik word om dit toe te pas op ’n werklike situasie deur te sê dat indien daar ses munte op die tafel lê, die mees waarskynlike uitkoms is dat drie munte kop en drie munte stert sal land. Natuurlik kan die uitkoms verskil, maar indien ons op slegs EEN uitkoms kon wed, sal ons vermoedelik dáárop wed omdat dit die mees waarskynlike is. Ons gaan alreeds hier te vêr vooruit, so kom ons neem 'n stap terug.
Om die resultate te bepaal, kan ons ’n verskeidenheid van metodes, name en notasies gebruik. ’n Paar algemenes is:
- ’n persentasie (byvoorbeeld: 50%)
- ’n verhouding van die totale hoeveelheid uitkomste (byvoorbeeld: ‘vyf uit tien’)
- ’n breukdeel van een (byvoorbeeld, ½)
Jy sal opmerk dat al drie van die bogenoemde voorbeelde dieselfde waarskynlikheid verteenwoordig. In werklikheid is ENIGE metode van waarskynlikheid gegrond op die volgende proses:
- Omskryf 'n proses.
- Omskryf die totale maatreël vir alle uitkomste van die proses.
- Beskryf die waarskynlikheid van elke moontlike uitkoms van die proses met betrekking tot die totale maatstaf.
Die term “maatstaf” kan verwarrend wees, maar mens kan daaraan dink as ’n liniaal. Wanneer ons ’n liniaal neem wat 1 meter lank is, dan is die helfte van die liniaal 50 sentimeter, ’n kwart van die liniaal is 25 sentimeter, ens. Dit is belangrik om te onhou dat sonder die liniaal maak dit geen sin om te praat van die liniaal afmetinge nie! Trouens, die drie voorbeelde hierbo (50%, ‘vyf uit tien’ en ½) verteenwoordig dieselfde waarskynlikheid, die enigste verskil is hoe die totale maatstaf (liniaal) gedefinieer was. As ons terug gaan en nadink in terme van ’n liniaal beteken 50%, 50 uit 100, of dat ons 50 dele van die oorspronklike 100 dele (sentimeter) gebruik om die uitslag se hoeveelheid te bepaal. Vyf uit tien beteken vyf dele uit die oorspronklike 10 dele (tien sentimeter deeltjies) bepaal die uitslag. In die laaste voorbeeld beteken ½ dat ons die liniaal in twee dele verdeel en sê dat een van daardie twee dele die uitslag bepaal. Onthou net dat hierdie notasies bloot verskillende maniere is om na dieselfde 50 eenhede van die 100 sentimeter liniaal te verwys! In terme van kansrekening stel ons slegs in die verhouding tot die geheel belang.
Alhoewel daar baie maniere bestaan om ’n maatstaf te definieer, is die mees algemeen en maklikste een om ‘1’ as die totale maatstaf te gebruik. Wanneer ons dan ’n munt-opskiet beskou, sal ons sê dat die kans vir kop ½ is (dws helfte van een) en die kans vir stert ook ½. Aan die ander kant, wanneer ons die geval beskou waar die munt nie opgeskiet word nie en tans kop-boontoe lê is die waarskynlikheid van kop nou 1 terwyl die kans vir stert 0 is. Ons kon net sowel 14 as die oorspronklike maatstaf gebruik het. In daardie geval sou die waarskynlikheid vir kop of stert met die opskiet beide 7 uit 14 gewees het, terwyl die waarskynlikheid 14 uit 14 sou wees vir kop as die munt nie opgeskiet is nie en 0 uit 14 vir stert. Soortgelyk, wanneer ons die gooi van ’n dobbelsteen ondersoek, sal dit makliker wees om die maatstaf as 6 te kies en te sê dat die waarskynlikheid dat ’n 4 gegooi word ‘1 uit die 6’ is, gewoonlik sal ons sommer sê dat dit 1/6 is.




















